{ARGIEF}

Sewende Sondag van Paastyd ~ 16 Mei 2010: Joh 17:20 – 26

Daar bestaan by baie mense vandag die algemene gevoel dat die eenheid, of dan meer spesifiek die eensgesindheid na ’94 en ’95 aan die verbrokkel is. Nuwe (of ou) partyskappe steek kop uit en rassisme word kort-kort genoem.

Hierteenoor lees ons in Joh 17: 20 tot 26 van Jesus se sterk oproep tot eenheid. Waarom is die beweging dan in teenoorgestelde rigtings. Jesus stuur sy dissipels uit om Sy liefde uit te dra en ons ervaar dat die algemene gevoel van eenheid afkoel.

Miskien omdat ons appels met pere vergelyk. Die eenheid waaroor Jesus dit het is nie ‘n algemene gevoel van eensgesindheid of eendragtige euforie oor ‘n rugby oorwinning nie. Dit staan in verband met sterk woorde wat ons in die teks vind naamlik: geloof;  liefde; heerlikheid; by My, ens. Dit is hemelse begrippe en volg op Jesus se gebed “ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom”. Dit is ‘n eenheid wat in die eerste plek gerig is op gelowiges.

Het dit dan niks te doen met ons euforie oor wat vir ons goed lyk en voel, soos ‘n eenheidsgevoel in ‘n land of ‘n sportoorwinning nie? Ons wil dit beantwoord met ‘n teenvraag: Hoe sal ware eenheid en liefde onder gelowiges nie ‘n invloed op die wêreld om hulle hê nie?

Is ons uitdaging nie dalk om meer te leef in die heerlike teenwoordigheid van die God van eenheid nie? Dan sal die invloed van liefdevolle, eensgesinde gelowiges nie maklik ongemerk verbygaan nie.  Pinkster is net die tyd vir die Gees om weer ‘n vuur aan te steek en die afkoeling om te keer.

André Olivier

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne in argief beskikbaar