{ARGIEF}

By die pas afgelope Lausanne konferensie in Kaapstad kon mens die tekens van die tye soos ʼn  tafereel voor jou sien afspeel. Daar was 4200 gelowiges uit 198 lande… en elke moontlike situasie waarin die kerk kan verkeer, was teenwoordig. Jy kon na die mense se getuienisse luister. Die rampe en vervolging waarvan Jesus praat in Luk 21:7-19 was skielik teenwoordig in ʼn verskeidenheid gevalle waarin jy elke aspek van die teks geïllustreer kon vind, veral hoe die Here se teenwoordigheid gelowiges in hul diepste nood dra en versorg.

Op plekke sterf die kerk en sy tempels word as moskees verkoop of omgebou tot nagklubs, besighede… of sommer net gesloop. Dit is hoofsaaklik die plekke met gesofistikeerde teologie. Maar kyk waar groei die kerk: telkens waar daar min vryheid is en gelowiges vervolg en gemartel word omdat hulle iets van veel groter waarde ontdek het: die evangelie van Jesus Christus! Jesus is vir dié mense nie ʼn teoretiese begrip nie. Hy is Here en deur die Heilige Gees se teenwoordigheid, by hulle. Hulle volg Hóm.

Die kontras is so helder en so groot! Aan 700 gesprekstafels was daar ses mense uit ses wêrelde. Aan my tafel: SA, VSA, Brittanje asook Iran, Egipte & ʼn Palestynse dominee uit Jerusalem. Die verhale van die drie Arabiere was aangrypend. Min mense weet hoe die kerk in Iran groei. Vir miljoene Iraniërs is die Bybel evangelie –goeie nuus.  Gaan Google Lausanne om na die stories te luister of om van die getuienisse af te laai en in die kerk te wys.

Vat nou enige week se koerante en kyk wat oorheers. Los die rugby uit, dis net verwarrend. Maar as jy die politieke en ekonomiese berigte lees, wat tref jou? Kyk hoe spook die wat mag het (geld of politiek of albei) om dit te behou. Kyk na die rat race en korrupsie wat dit veroorsaak. Kyk na die ryk-arm polarisasie. Kyk na die mag-magteloses werklikhede.

Deesdae is die wêreld geglobaliseer en jy kan die wyer prentjie sien: Die mees betroubare verhale van die beleef van God se teenwoordigheid en die vreugde en krag van die evangelie kom uit die lande waar gelowiges nie aan tempels en besittings vashou nie, maar aan God.

So wat is jou beste bank, watter belegging gee die beste sekuriteit? Dink korttermyn en langtermyn.  Watter eiendom is regtig vaste eiendom?

As jy al die tekens konkreet oor die wêreld sien en na die langtermyn dividende van die verskillende scenario’s kyk, wat maak jy?

Hoe kies jy?

Hoe kies jy as jy in die ryk / magtige wêreld leef?

Dis nie ʼn  maklike vraag nie.

Jou antwoord moet jy by die Here kry, nie in die tempel soek nie!

Seisoen van Luister PowerPoint

Vorige Preekriglyne