Verder Geluister: Lukas 5:1-11

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Vyfde Sondag van Epifanie ~  7 Februarie 2010 – Lukas 5:1-11

Luk 5:1-11 is `n baie ryk gedeelte wat heelwat moontlikhede vir die prediking bied.  Die stuk in die Preekstudies wat deur Eric Scholtz gedoen is, gee `n goeie oorsig en is uiters bruikbaar.  Hy verwys ook na Prof Bethel Muller se uitstekende en uitvoerige studie destyds in Woord teen die Lig.  Hierdie studie is ook beslis die moeite werd om te lees – dit bied `n uitstekende agtergrond en gee heelwat perspektiewe en idees vir die prediking.

Ek moet self komende Sondag is ons gemeente preek en dink op die oomblik daaraan om – op die laaste Sondag van Epifanie – die preek te fokus op die feit dat ons `n God dien wat aan mense verskyn en in mense se lewens intree.  En dan te vra wat ons uit Petrus se ervaring kan leer vir ons eie situasie oor hoe roeping gebeur en wat dit beteken.

  1. In die eerste punt sal ek presies daar begin – die wonder van Christus se menswording en sy verskyning aan ons.  Ons dien `n God wat nie wag dat ons Hom moet gaan soek nie, maar wat na ons kom soek.  Hoewel dit duidelik is in die Bybel dat Hy verkies om met mense in groepe en gemeenskappe te werk (en ons moet dit altyd onthou in ons besig wees met geloof en die kerk) sien ons hier dat Hy ook individue raaksien en aan gewone mense `n plek wil gee in sy koninkryk.
    `n Mens sou dan iets oor Petrus en ander gewone mense kon sê van wie ons in die Bybel lees dat die Here met hulle besig raak.
    Hoewel ons in ander tye leef en Christus nie sigbaar onder ons teenwoordig is nie, is Hy steeds by ons en verseker besig om elke dag mense tegemoet te kom en in te tree in hulle lewens.  Dit kan ook met ons gebeur.
  2. In die tweede punt sou `n mens aan die hand van Petrus se verhaal kon verduidelik dat die Here se intrede in ons lewens nie `n eenmalige gebeurtenis is nie, maar `n pad wat Hy met ons begin loop – waarin Hy Hom steeds meer aan ons openbaar en ons tree vir tree nader trek na Hom.
    Ons sien dit in Luk 5 pragtig in die twee tonele wat ons hier het: eers gebruik Jesus net Petrus se boot om die mense toe te spreek; later tree hy dieper in Petrus se lewe, vra hom om uit te vaar in die meer en dan kom die ongelooflike Selfopenbaring in die wonderlike visvangs …

    Dit is ook nie eers al nie – weet ons.  Hierna sou nog meer ervarings kom – beide van openbaring en vergiffenis maar ook van teleurstelling en sonde.  Die diepe troos – wat ons hier reeds al sien – is dat die Here nie vir Petrus eenkant toe stoot as hy sukkel of droogmaak of eiewys is nie.  Gelukkig dien ons `n God wat nie maklik op ons opgee nie.

  3. In die derde deel sal ek iets wil sê oor die bedoeling of uiteinde van God se intrede in ons lewens.  Dat dit nie eerstens gaan oor bekering en saligheid nie, maar oor `n roeping tot `n deelname aan God se koninkryk en werk wat gedoen moet word.  Ek het in die Roepingsboek wat ek `n paar jaar gelede geskryf het iewers gesê dat ek in my lewe dalk te veel oor bekering en te min oor roeping gepreek het.  Dit gaan nie in die eerste plek oor `n saligheid wat verkry en geniet moet word nie, maar oor die Here wat ons roep en inskakel by die werk van sy koninkryk.  Ek dink soms dat dit die saligste van die saligheid is!
  4. In die laaste punt sal ek dit wil waag om iets meer te sê oor hoe roeping gebeur …
    In Ontmoetings met die Lewende God het ek `n saak probeer uitmaak daarvoor dat die meeste roepingsverhale in die Bybel `n driekantige gebeurtenis is waarin ons nie net vir God nie, maar ook die lewe en onsself beter leer verstaan.  Wat gewoonlik gebeur – in eenvoudige taal gesê – is dat ons in die lig van `n nuwe ontmoeting met God nie net nuut na Hom kyk nie, maar ook na die lewe en na onsself.  Dit is asof sy Lig op die omringende lewe en op ons val en ons skielik kante en elemente sien wat vantevore vir ons verborge was.

    Ons sien die patroon in heelwat van die roepingsverhale in die Bybel – ook hier in Lukas.

  5. Rondom die wonderlike visvangs gaan Petrus se oë op `n nuwe manier oop vir Jesus en sien Hy kante van Jesus wat hy kennelik tevore (selfs vroeër die dag!) nie gesien het nie.  Hy sien Jesus se grootheid en heerlikheid – en dit verander alles.

    Hierdie lig van Jesus se heerlikheid val op Petrus en help hom om met nuwe oë na homself te kyk.  `n Baie trotse en forse mens wat waarskynlik effe hovaardig was, kyk homself die eerste keer werklik in die oë en weet dat hy meer moeilikheid sien as wat hy gehoop het daar is.  Sy redding begin as hy die genade kry om sy sonde te erken en te besef dat hy hulp nodig het!  Dit is so erg dat hy voel om Jesus te vra om weg te gaan van hom af – wat Jesus natuurlik nie doen, nooit sal doen in sy genade nie …

    `n Mens sou selfs dalk iets kon maak van Jesus se woorde aan hom dat hy nie bang moet wees nie.  Sou `n mens daarin `n openbaring aan Petrus kon hoor dat hy ten spyte van sy forsheid, sy voortvarendheid, sy oënskynlike vreesloosheid tog meer vrese in sy lewe gehad het as wat hy gereed was om te erken?  Ek dink nie dit is vergesog nie … En waarskynlik waar van die meeste van ons en van ons lidmate …

    Die lig wat van Jesus uitstraal sou `n verdere kring maak.  Petrus kry `n nuwe visie op die wêreld rondom hom. Hy word geroep om `n visser van mense te wees.  In die dae en jare vorentoe sou Jesus hom meer hieroor leer.  Hy sou leer om anders te kyk na, en te dink oor mense, oor die lewe, oor familie, oor die geskiedenis, oor politiek, oor wat saak maak en wat nie. 

    En in die wisselwerking van die drie prosesse sou hy sy eie roeping hoor.  Hy sou `n visser van mense wees. 

    Ten slotte sou `n mens dalk kon wys op die subtiele krag van die roepingsproses.   Dit lyk nie altyd na veel nie – veral nie vir mense buite nie – maar dit is lewensveranderend.  In Luk 5 hoor ons dit op twee maniere baie  helder:
    Jesus sê nie vir Petrus dat Hy hy `n visser van mense moet word nie; hy sê dat Petrus `n visser van mense sal word.  Petrus word nie gevra om `n besluit te neem nie; hy hoor net dat Iemand anders `n besluit oor sy lewe geneem het.

En wonder bo wonder hoor ons in vs 11 nêrens dat die dissipels `n groot krisis of wroeging gehad het oor hierdie aankondiging van Jesus nie, maar dat hulle onmiddellik hulle “skuite op die strand getrek het, alles net so laat lê het en sy volgelinge geword het:”  

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verder preeksketse in Argief beskikbaar

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment