{ARGIEF}

Matt 3:13- 4:2

Dit is my geliefde Seun.  Oor Hom verheug Ek My.

Wat ‘n wonderlike oomblik! Wat ‘n heilige oomblik! God se woorde en die Gees ‘sak toe’ op Jesus en bevestig Hom as die Seun van God.

In my geestesoog sien ek hoe vir ‘n oomblik (‘n 1000 jaar/vir ewig) alles stol en stil word. Gefokus, afgesonder, duif in vlug gestuit – en dan begin die Heilige dans wat Jesus se lewe onherroeplik verander. Word sy heilige roeping bevestig sodat Hy uiteindelik kon uitroep: “Vader vergeef hulle” en “dit is volbring”. 

‘n Roeping wat die aanloop is tot heilige oomblikke in ons lewe. 

Soos vir die Emmausgangers wat verwonderd en verheugd kon sê: “het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat het nie…” **
Soos vir ‘n Paulus wat God se stem in ‘n lig uit die hemel hoor.
Soos vir babas en ouers wat in die waterdruppels God se liefdevolle trou hoor.
Soos vir elkeen van ons wat in die nat Karoo grond God kan ruik en in die wingerdbloeisels die Gees kan sien en in mekaar se oë kan kyk en ons Broer en Suster raaksien.

Trouens elke oomblik van ons lewe wat ons erkentlik afhanklik van God leef, is ‘n heilige oomblik vir ons en een waaroor God Hom verheug. Die Gees is reeds oor ons uitgestort en met ‘n vuurtong spreek God elkeen van ons aan as vriend. 

‘n Verhouding waarvan Sallie McFague in haar Models of God sê dat dit die mees vry, oop, eerlike en bemagtigende verhouding is waarin ons kan leef.

In dié verband waarsku Kobus Anthonissen in Luister na die Lig: “Ons heilig nie God se naam nie, maar gebruik God om ons naam te heilig. Die Duitse geleerde Goethe, het al lankal gesê: soos die mens is, so is God. Mense herskep God na hul beeld”. (En draai so hul rug op hul Vriend)

Die God van die Bybel. Die Een-Drie-enig wat ons aanbid, kom na ons in duif en wind en vuur en water en brood en op vele ander maniere sodat ons Sy Woord kan hoor: “jy is My geliefde, oor jou verheug Ek my!” 
 
** In sy nadenke oor die Onse Vader gebed (Die Gebed wat die Wêreld omspan) se Thielicke: As Jesus ons nie leer bid: “Maak my ‘n heilige, ‘n vroom mens” nie, maar ons leer sê: “Laat u naam geheilig word”, dan gee Hy daarmee te kenne: Dit kom glad nie op jul eie pogings en jul eie vooruitgang aan nie. Dit kom alles daarop aan dat julle bereid is om God in julle lewe te eer en Hom te laat werk; om eenvoudig ‘n keer stil te staan en Hom “die Heilige” te laat wees wat eerste in jul lewe staan. Dan kom al die ander dinge vanself.

‘n Klip wat in die son lê, hoef ‘n mens nie eers te beveel om warm te word nie. Hy word dit heeltemal vanself.

Pierre Goosen

Seisoen van Luister Ppoint

Preekriglyn Matt 3:13-17 in Argief