{ARGIEF}

Sondag 30 Januarie 2011 ~Vierde Sondag na Epifanie:  Verder geluister –  Miga 6:1-8

Ek het gedink om die tradisie van “verder geluister” na die teks van die week te deurbreek, met ‘n fokus op luister.

In die teks word ons opgeroep om te luister (v1 hoor en v2 luister) en ons is immers in ‘n Seisoen van Luister. So ek het gewonder hoe sou iemand na die teks luister wat nie vooraf kommentare of die Preekstudie van die week bekyk het nie. Soos die mense wat Sondag na jou preek gaan luister. Hulle kom ingestap uit ‘n wêreld vol gebeure en bring daardie ervarings en vrae met hulle saam.

  1. Terwyl ek die teks gelees het, het ek my verwonder aan die oënskynlik maklike manier waarop die volk die Here hoor praat het. Dit klink so of die veronderstelling was dat  daar nie vandag se moeilikheid ervaar word in die gesprek tussen God en God se volk nie. Wel, dalk was dit ook nie so maklik nie, want waarom die aandrang dat hulle wel moet luister en ag slaan op wat die Here te sê het? Dalk moet ek my weer bedink oor hoe moeilik dit geword het om die Here vandag te hoor? Dalk was dit maar altyd ‘n uitdaging gewees! Ek het gewonder of en hoe, luister ‘n mens na die Here totdat jy Hom hoor. Kan ‘n mens dit aanleer? En indien wel, watter dissiplines moet ek beoefen om beter te kan hoor wat die Here vir my sê? Eintlik het ek gehoop my dominee sal eerder hierop fokus as om weer ‘n keer vir my voor te lê wat ek veronderstel is om by die Here te hoor – as ek die trant van die teks verstaan, is daar ‘n persoonlike band tussen die Here en die volk – sy kinders – wat nie deur ‘n instituut bemiddel moet word nie!
  2. Dit verbaas my nogal hoe “menslik” die Here hier  oorkom.  Bietjie moeg en moeilik vir Israel se gesukkel. Dit is byna asof die Here Homself wil regverdig oor sy moedeloosheid met die volk – deur die volk te herinner aan wat Hy alles vir hulle gedoen het (vv 4-5). My gedagtes het vir ‘n oomblik stilgestaan by hierdie menslike God wat op so ‘n persoonlike vlak met ons kommunikeer en eintlik baie toeganklik is!
  3. Ek wonder of hulle verstaan het toe Hy hulle na hulle geskiedenis geneem het, en dit eintlik herinterpreteer het. Dit is nie hulle diplomasie of oorwinning gewees nie, dit kom eintlik van God af. My gedagtes het gedwaal  na die politieke kommentaar van die week. Die vooruitskattings van hoe die partye gaan vaar in die komende verkiesings (sien bv Jan-Jan Joubert se bydrae hieroor in Rapport by   http://www.rapport.co.za/Rubrieke/JanJanJoubert/ANC-kan-meer-as-70-haal-20110122). Ek dink onwillekeurig terug na die groot verkiesings wat ek al beleef het, die referendums van die 80’s en natuurlik die eerste demokratiese verkiesing van ’94 – die politieke analiste se vooruitskattings, die verkiesingstryde, die uitslae. Moet ek nou aanvaar dat daar meer aan die gang was as dit, dat die Here ook toe teenwoordig was en die koers van die land gestuur het?  Dat die deurbrake wat gekom het, gawes uit sy hand was? Ek moet sê dit is eintlik radikaal om so te dink!
  4. Ek is ontsteld deur die laaste verse oor wat die Here eintlik van my vra! Soos die volk wonder ek nou wat wil die Here werklik van my hê. Dit is byna asof daar ‘n streep deur godsdiens getrek word. Geen offers, eerder ‘n lewenshouding van liefde, geregtigheid en bedagsaamheid teenoor die Here. Dit het my diep laat dink oor die kerk, oor ons gemeente, oor mense wat die kerk verlaat – is dit dan so ‘n slegte ding as ek na die teks kyk en die sondes wat gepleeg word in die naam van godsdiens. Verstaan ek dit reg dat die bekering wat hier moet gebeur nie vir mense buite die kerk is nie, maar vir óns in die kerk. Dat ons minder op die kerk en godsdienstigheid moet konsentreer en meer op die regte verhouding met God, ons medemens en die samelewing? Ek wonder ook verder wat dit nou sê oor formele dinge soos die verwysing na God in amptelike dokumente – soos die storie van God se naam wat weggelaat is uit die Kovie-leuse (lees gerus wat Chris Jones hieroor se by  http://www.communitas.co.za/blogs/preekstudies/maandelikse-fokus/2349-god-uit-leuse-van-kovsies?lang)
  1. Ek het ook gewonder oor wat dit beteken om reg te laat geskied noudat vreemdelinge-haat weer uitgebreek het. Teenoor wie moet ek reg laat geskied? En wie mag ek maar daarby uitsluit? (lees gerus Pieter van Niekerk se stuk oor vreemdelinge-haat en die Bybel by      http://www.communitas.co.za/blogs/lewenswaardes/geregtigheid/2354-vreemdelingehaat-kom-van-die-bybelse-tyd-af-?lang).
  2. En natuurlik dominee – wat beteken bedagsaam lewe teenoor die Here, kan jy dit asb vir my vertaal in woorde wat sin maak in my wêreld van kompetisie, ongeduld en ‘n ewige gejaag?

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief