{ARGIEF}

25 November 2012 ~ Sondag van Christus die Koning ~ Neem beheer oor jou omstandighede
Daniël 7:9-18

Daniël het ‘n droom.  Dis nie ‘n droom soos wat ek of jy sal hê nie.  Wanneer ons droom, het ons òf ‘n nagmerrie wat ons laat wakker skrik, òf ‘n soet droom wat ons behaaglik laat wakker word.  En sommer die hele dag by ons bly.

Daniël se droom begin met ‘n nagmerrie, en eindig met ‘n pragtige toneel van heers en in beheer wees.  Eintlik noem ons dit nie ‘n droom nie, dis ‘n visioen.  Dit kom met ‘n betekenis. 

Daniël sien vier diere uit ‘n stormagtige see opkom.  Die eerste een lyk soos ‘n leeu met die vlerke van ‘n arend.  Die tweede een lyk soos ‘n beer, en die derde een soos ‘n luiperd met vier vlerke en vier koppe.  En toe kom daar ‘n monster van ‘n vierde dier. 

En dan verander Daniël se nagmerrie in iets groots en duiselingswekkend pragtigs.  Trone word uitgesit, en op die hooftroon gaan sit die Oue van Dae, soos die ou vertaling hom noem. Die nuwe vertaling noem hom  “Hy wat vir ewig lewe” (vers 9).  Hy is stralend van gesag.  En hy spreek ‘n oordeel uit oor die vier diere.

Maar dan gebeur daar nog ‘n ding.  Uit die wolke uit kom daar die Seun van die Mens, en word voor die Oue van Dae gebring.  Die nuwe vertaling noem die Seun van die Mens “iemand soos ‘n menslike wese”.  Anders as die diere wat uit die see opkom, kom die Seun van die Mens uit die wolke;  anders as die diere wat veroordeel word, ontvang die Seun van die Mens ewige heerskappy oor al die volke en nasies.

Wat beteken dit alles, vra Daniël nou vir een van dié wat daar staan, seker ‘n engel.  Dié lê die visioen vir hom uit:  Die vier diere is vier magtige koninkryke wat sal vergaan, maar die “heiliges van die Allerhoogste” sal aanhou heers vir ewig (vers 18).

Sjoe, van wie word nou eintlik hier gepraat? sal ‘n mens wonder.  Die vroeë Christene het gedink dat die Oue van Dae na God verwys, en die Seun van die Mens na die Messias, dit is, na Jesus Christus.  En natuurlik is dit ‘n belangrike moontlikheid om hierdie visioen so te lees.  En juis is dit nou Sondag Christus-die-Koning-Sondag waarop ons vier dat Christus ons Koning is en oor die wêreld heers.  Jesus verwys dan ook dikwels in die Nuwe Testament na homself as “die Seun van die Mens”.

Daar is miskien ook ‘n wyer interpretasie moontlik.  Die “Seun van die Mens” is eintlik ‘n manier om na mense in die algemeen te verwys.  En wanneer die engel vir Daniël die visioen uitlê, sê hy dat die Seun van die mens na die “heiliges van die Allerhoogste” verwys.  Met ander woorde, na gelowiges soos ek en jy.

En dis nou wonderlik om te dink dat God ons bemagtig het om te heers.  Netsoos hy Jesus Christus bemagtig het.  En on sweet Jesus is nie ‘n politieke heerser nie.  Hy het ons kom leer om oor die wêreld te heers met ons geestelike waardes.  Hy het ons siele verlos om ewig met God te wees;  hy het ons ook kom verlos van die wêreldse waardes van haat en harde materie.

Hoe heers ek en jy elke dag met die wêreld en ons omstandighede wat ons wil insluk en wegsluk?  Ek loop nou die dag ‘n stukkie raak onder die opskrif “The 12 symptoms of spiritual awakening” van ene Adam Jones.  Ek dog toe daar staan dinge in wat ons Christene lankal weet.  Kom ons kyk weer daarna.

Wat is dit om “geestelik wakker”, “geestelik sterk” te wees?  Met ander woorde, wanneer is jou geestelike sterkte jou sterkste sterkte?

Een.  Jy is geestelik sterk, en heers oor jou omstandighede, wanneer jy dinge laat gebeur sonder dat jy altyd voel dat jy dinge moet laat gebeur.  Ek hou daarvan.  God het jou in beheer geplaas.  Jy hoef nie te voel jy knak wanneer jy nie alles kan beheer nie.

Twee.  Jy wys jy’s geestelik wakker wanneer jy spontaan aan die glimlag raak.

Drie.  Jy is geestelik sterk, en word al hoe sterker, wanneer jy verbonde voel aan die mense en die natuur om jou.

Vier.  Jy toon geestelike sterkte deur waardering teenoor ander te betuig, en sommer dikwels ook.  En dit kom spontaan.  En wil nie sommer weggaan nie.

Vyf.  Jy is geestelik sterk wanneer jy spontaan dink en doen, en nie altyd eers teruggryp na jou vorige ervarings en vrese nie.

Ses.  Jy is inderdaad geestelik wakker wanneer jy die vermoë ontwikkel het om elke oomblik van die lewe te geniet.

Sewe.  Geestelike wakkerte is om jou nie te bekommer nie.

Agt.  Geestelike sterkte is om belangstelling in konflik te verloor.

Nege.  Geestelike wakkerte is om belangstelling daarin te verloor om ander heeltyd te interpreteer.

Tien.  Geestelike wakkerte is om belangstelling daarin te verloor om ander te veroordeel.

Elf.  Geestelike wakkerte is om belangstelling daarin te verloor om jouself te veroordeel.

Twaalf.  Jy is geestelik sterk wanneer jy kan liefhê sonder om liefde terug te verwag.

Nouja, daar het ons dit.  Miskien kan ons die lysie uitbrei.  Wanneer voel jy sterk?  Wanneer voel jy dat jy die beheer oor jou omstandighede kan uitoefen wat God jou gegee het?

Hierdie Sondag vier ons Christus-die-Koning.  Ons vier dat God op die troon sit.  Ek en jy sit nie op die troon nie.  Ons staan voor die troon en kry ons sterkte van die Troon af.  Ons is sterk gemaak om oor die terugslae van die lewe te heers.  Om met liefde en geregtigheid oor mekaar en oor die natuur te “heers”.  Soos ons Koning Jesus Christus gedoen het.

Christina Landman

Preekstudie in Argief:
http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/27-Daniel/Daniel%2007_9-14.htm

Seisoen van Luister

Daniël 7:9-10, 13-14 – Sondag van Christus die Koning – Feesdiens – 25 November 2012

Daniel7 9-10 13-14In Familietyd kan jy via die storie van Oskar Schindler, soos in die fliek Schindler’s list vertel, die konsep van Christus se vrederyk verduidelik. Dit dek die tafel vir die boodskap van die boek Daniël wat die gordyne voor die ewigheid ooptrek sodat gelowiges die eintlike drama in die wêreldgeskiedenis kan raaksien. Ons leer dat die wêreld – ten spyte van alles wat op die teendeel dui – aan God behoort, in God se hande is, en voor God se troon sal eindig. Daardeur word ons bemoedig, omdat ons die dreigende gebeure in die wêreld kan gadeslaan en moedeloos raak. Deur op die werklikheid van God te fokus, bemoedig die boek Daniël ons egter. God troon oor die wêreld geskiedenis. Die werklikheid van God gee ons hoop.

Daniël 7:9-10, 13-14.ppt     1.15 MB Nov 05, 2012 11:32 Download  
Daniël 7:9-10, 13-14.pptx     955.9 KB Nov 05, 2012 11:30 Download  
Daniël 7:9-10, 13-14.doc     106.5 KB Nov 05, 2012 11:30 Download