{ARGIEF}

5 Mei 2013 ~ Sesde Sondag van Paastyd

Openbaring 22:1-5 ~Verruil die bos van vrees vir die boom van die lewe

“Ek was nooit ‘n ou vol vrese en fobies nie,” sê iemand nou die dag. “Maar deesdae is dit asof die lewe amper soort van jou vyand geword het.  Jy moet net uitkyk of jy kry ‘n klap.  En sommer ‘n groot een ook wat jou nie weer wil laat opstaan nie.  Jy voel jy het nie ‘n kans nie. Kos word roekeloos duur.  Elke dag ‘n nuwe belasting.  Jy sien net hoe iemand een oomblik groot is, en die volgende oomblik in ‘n sel sit. 

Partykeer kry jy sommer ‘n gatslag-boete vir iets wat jy gedoen het wat nie eers gevaarlik was nie. Jy’t nie eers geweet jy doen iets verkeerd nie. So, moenie worrie nie, vrees net.”  So sê die man toe.

En dit laat ‘n mens onwillekeurig weer dink aan Johannes se openbarings.  En veral aan hoe God aan hom die nuwe Jerusalem geopenbaar het.  Hier van Openbaring 21:10 af lees ons hoe Johannes die nuwe Jerusalem in detail beskryf.  Daar sal, onder andere, ‘n hoë muur om wees.  Dit sal ‘n veilige stad wees.
Maar dit sal meer as veilig wees.  Daar sal lewe wees.  Daar sal ‘n tuin in die stad wees.  En die boom van die lewe sal daarin staan.

Dadelik dink ons aan die boom van die lewe wat in die middel van die tuin van Eden gestaan het.  En wat vir die mense verbode was. 

Maar die boom van die lewe wat in die nuwe Jerusalem staan, is daar vir almal om van te eet.  Dit dra dwarsdeur die jaar vrugte, elke maand nuwes. Dit nooi jou uit om te eet. En dit word gevoed deur ‘n sterkvloeiende rivier, wat direk van God se troon af kom.

En dis nie net ‘n boom wat lewe gee nie.  Dis ‘n boom wat nuwe lewe gee.  Dit gee vrugte, en dit spruit blare uit.  Die blare van die boom bring genesing, sê Openbaring 22:2.  Dis ‘n heelmaak-boom.
Genesing is ‘n proses.  En die pad wat ons saam met God die Geneser stap, is ‘n proses. 

Iemand het eenkeer ook gesê gelukkig wees is ‘n proses, dis ‘n pad wat jy saam met die lewe loop, oor klippe en deur waterstrome.

En dis veral nou in die tyd na Paasfees dat ons onsself weer daaraan moet herinner.  Met Jesus se koms, sy lewe, sy dood en sy opstanding het die nuwe Jerusalem by ons kom woon.  God het onder ons kom woon soos nog nooit tevore nie.  Ons stap ‘n nuwe pad met God.  En dis ‘n pad van genesing.

Maar wat ons veral moet onthou in hierdie dae, is dat ons deel van die genesing is.  Ons is deel van die lewe, van lewe gee en lewe voortbring:  die blare aan die boom van die lewe wat in die nuwe Jerusalem staan, is die dinge wat ons doen om van die wêreld ‘n beter en gesonder plek te maak.

En so is hierdie visioen van Johannes ‘n uitnodiging aan ons om aan die lewe deel te neem.  Om eerder te lewe, as om die lewe te vrees.  So, in plaas van ons vrese vir die lewe te poets, kan ons eerder agente vir die lewe self word.

So ‘n blaartjie van genesing, wat sou dit kon wees?
Ek dink om iets bemoedigends vir ‘n verslae persoon te sê, dis ‘n genesende blaartjie.

En om jou werk te doen sonder korrupsie, al sou jy daarmee kon wegkom, dit maak die aarde heel.
En om nie water en elektrisiteit te mors nie, dis ‘n manier om gesond aan die lewe deel te neem, nie waar nie?

En om die goeie in die mense om jou wakker te maak, al blaf hulle honde jou in die nag wakker, dit kan soos ‘n groen blaar in ‘n dor omgewing uitspruit.

Of om ‘n partytjie vir jou ma te reël wat tagtig word.  Of om te luister wanneer ‘n jong persoon jou van sy hooploosheid vertel.

‘n Belangrike blaar aan die boom van die lewe is egter om na jouself en jou gesondheid om te sien.  Jou kop se gesondheid.  Jou hart se gesondheid.  Jou houding se gesondheid. 

Om jou vrese in te ruil … en vir die lewe te kies.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2021_10%2021_22%2022_5.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/748_4dc0737a632c9ac1d23e6611f5ec6e17