{ARGIEF}

7 April 2013 ~ Tweede Sondag van Paastyd ~ Openbaring 1:4-8

Vir die volgende 5 Sondae word daar uit die Leesrooster oor Openbaring gepreek. Dit sal dus goed wees indien die prediker ʼn inleiding kan gee oor Openbaring en die hoorders kan begelei om die boek beter te verstaan. Dit kan help dat die vreemdheid daarvan aangespreek word, asook die verkeerde lees van die boek.

Let op die volgende punte:

  • Genre:
    Openbaring is ʼn brief, ʼn boek en ʼn apokaliptiese skrywe. (Verduidelik die verskille en hoekom dit juis die skrywe dalk moeilik maak om te lees.)
  • Wat is Openbaring nié?
    Dit is nie ʼn toekomsvoorspelling nie! Op vele wyses in die geskiedenis verkeerd gebruik en dit verwar mense.
  • Wat was die bedoeling van hierdie skrywe?
    Dit is ʼn Getuienis met die oog op troos – dus is die vraag: Wat sê die getuienis vandag vir ons? Hoe troos dit ons? Hoe roep dit ons op?

Baie het die boek met vrees en bewing gelees, maar dit is ‘n verkeerde verstaan daarvan. Openbaring hoort nie onder wetenskapfiksie of rillers in die biblioteek nie. Sien, in Openbaring is dit nie soseer die hekke van die hel wat oopstaan nie, maar die hekke van God se troonsaal in die hemel waar Hy as die almagtige Heers. Johannes word egter nie hemel toe geneem om na die hemel soseer te kyk nie, maar om vanuit die hemel na die aarde te kyk, om ‘n nuwe perspektief te kry op dit wat God deur Jesus verrig het (As apokaliptiese profeet (1:1) maak Johannes die wil van God en die geheime van die hemel en aarde aan sy lesers bekend. By apokaliptiese profete (bv. Jes 24-27; Dan 7-12) kom die hele wêreld in fokus en is daar ’n sterk aksent op die toekoms. )

Ons kyk gewoonlik na ʼn storie of program op televisie – apokaliptiek wil ons agter die skerms neem, om vanuit die hemel en God se perspektief, vir ons ʼn blik te gee op wat tans aan die gebeur is. Dit is nie ʼn voorspelling nie, beelde en simbole word vanuit die Ou Testament en die werklike gebeure van die dag gebruik om sin te maak van wat met die hoorders en lesers hiervan aan die gebeur is.

Vers 4 tot 5 – Openbaring is in wese ‘n boek oor die Triniteit (Daar is ‘n geweldige debat oor die rol van die Heilige Gees in Openbaring. Dit is nie vir alle uitleggers so duidelik dat Openbaring veel van die Heilige Gees maak nie.) (van Hom wat is, die sewe Geeste en van Jesus Christus) soos duidelik gemaak deur Johannes se seëngroet aan die begin (as sulks is die Trinitariese groet uniek in die NT).

Om die boek Openbaring deur te lees as ‘n geheel, is soos om op ‘n hoë plek te gaan staan en om sodoende jouself te reoriënteer ten opsigte van jou rigting. Net so wou die brief die gelowiges 100 nC help om opnuut hulleself te reoriënteer m.b.t. tot hulle geloof en lewe. Daarom bied dit ook aan ons ‘n uitsig oor wat God in Jesus alles in die verlede vir ons gedoen het, asook ‘n vorentoe blik om te kan sien wat God nog in die toekoms vir ons gaan doen. Die belangrikste is egter dat Openbaring sodoende aan ons perspektief gee ten opsigte van ons hede. Op die oog af het die Christene slegs twee opsies gehad; hulle kon kompromieë aangaan ter wille van hulle politieke en sosiale situasie, of hulle kon hulle onttrek van die samelewing. Johannes wil aan hulle ‘n derde opsie gee: ‘n lewe as getuies vir God in die hede op grond van ons verlede en toekoms in Jesus. Wanneer ons as gelowiges leef uit ons verlede (Jesus se offer as die Lam van God) en op grond daarvan verseker is van ons toekoms (wanneer Hy as die Lam weer kom), kan ons nie anders as om opgewonde te raak oor die hede nie.

Saam met die verteller van die verhaal in Openbaring gaan die gelowige op ‘n reis na ‘n simboliese wêreld om die alledaagse wêreld so beter te kan verstaan. Wat is die hart van die boodskap? Die hart van Openbaring se boodskap is dat God die Alfa en die Omega is. Die begin en die einde; dat Hy wat in ons die goeie werk begin het dit sal voltooi. Johannes wil aan ons hoop en geloof gee sodat ons in die hede – die Suid-Afrika van vandag – volheid vir God kan leef. Geloof, deurdat ons ‘n sekere kennis het van en ‘n vaste vertroue het in die werk wat Jesus alreeds vir ons volbring het. Hy het alreeds die dood oorwin en vir ons die Ewige Lewe geskenk. Daarin kan ons glo.

Hoop, deurdat ons ‘n sekere kennis het van en ‘n vaste vertroue het in die werk wat Jesus nog vir ons sal volbring. So seker as wat Hy uit die dood opgestaan het (tans die kern van ons vieringe) en opgevaar het na die hemel, sal Hy weer kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Daarom kan ons nou reeds daarop hoop, en glo wat Hy reeds volbring het. Ons kan voluit lewe, want ook die hede behoort aan Jesus, ja, vandag. Openbaring roep gelowiges op om nie kompromieë met die bose aan te gaan nie en ook nie om te onttrek van die wêreld nie, want dit behoort ook aan God. Nee, ons word opgeroep om te getuig, al kos dit ook ons lewe op die aarde. Hoe ook al, ons moet ons verantwoordelikheid begin nakom. (Wat is hierdie verantwoordelikheid? Hoe lyk dit in my werk, my besigheid, my skool, my gesin, my alledaagse verhoudinge?)

Slegs tweehonderd jaar nadat Openbaring geskryf is, het die Christelike geloof die amptelike geloof van die Romeinse staat geword. Waarom? Omdat gelowiges, soos Johannes, hulle verantwoordelikheid nagekom het en getuig het van Jesus wat die Alfa en die Omega is – die begin en die Einde, Hy wat was, en wat kom die Almagtige.

Die vraag vir ons vandag is dus: Hoe getuig ons aangaande die Alfa en die Omega in ʼn wêreld waarin dinge ook uitmekaar val, onsekerhede, etc., etc.? Hoe kan Johannes se blik vanuit die hemel ons vandag help met ons blik op die verlede, die hede en die toekoms? Wat is die gemoed van die mense in jou konteks? Hoe getuig hulle gedrag van dit wat hulle glo? Uiteindelik bevestig, of ontken ons gedrag juis dit wat ons glo. Jesus Christus is die Alfa en die Omega.

Jampie Nel

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2001_4-8.doc

Seisoen van Luister Powerpoint: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring1_4-8.jpg