{ARGIEF}

14 April 2013 ~ Derde Sondag van Paastyd ~ Openbaring 5:11-14

Openbaring 5 is een van dié belangrikste Christologiese tekste in die Nuwe Testament. Dit gee ‘n besondere blik op die heilswerk van Jesus (Hy is die Lam wat geslag is), wie Hy waarlik is (die Een wat saam met God aanbid moet word) en wat Hy bereik het (Hy het die ganse skepping verlos). Dit begin met ‘n beskrywing van God wat op sy troon sit met ‘n geseëlde boekrol wat aan beide kante volgeskryf is wat verbeeld dat die heilsgeskiedenis sowel afgesluit (volgeskryf) as verseker (verseël) is. Jesus word vervolgens uitgebeeld as die geslagte Lam wat waardig is om dié boekrol te neem en die seëls daarvan te verbreek. Dié boekrol – die heilsgeskiedenis – word dus nie deur ‘n kragdaad oopgeforseer nie, maar deur ‘n daad van selfopoffering. Jesus is naamlik eerder die geslagte Lam as die gevreesde Leeu van Juda (5:5).

In reaksie op die ontsluiting van die heilsgeskiedenis breek die hemelse inwoners in beurtsang uit. Die ganse skepping, die kerk en die engele besing saam die lof van Jesus. Net soos die Lam die boekrol ontvang het, ontvang Hy ook die lof van die ganse skepping (die werkwoord in beide verse is dieselfde). Eers sing die kerk (gesimboliseer deur die 24 engele) en die skepping (die vier wesens) in vers 8-10, dan die menigte engele in vers 11-12, gevolg deur die ganse skepping (vers 13 – alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is) voordat die ouderlinge (die kerk) die beurtsang afsluit deur die Lam en God te aanbid (vers 14). Dié loflied van die skepping dien as ‘n belangrike aanduiding dat die dood van Jesus nie net goeie nuus vir individue is nie – maar ook vir die skepping en alle skepsels. Alles en almal in die hemel en op, onder en bo die aarde besing saam die lof van Jesus. Die verkondiging van die Evangelie is daarom ten diepste om saam met dié koor oor die volle verlossing van alles en almal deur Jesus te sing. Die heil mag daarom nooit verskraal word tot die verlossing van die siele van gelowiges nie.

Die loflied, wat die aanbreek van Jesus se Messiaanse koningsheerskappy besing, bevat sewe elemente (wat op volmaaktheid dui) naamlik mag, rykdom, wysheid en sterkte, eer, heerlikheid en lof. Die eerste vier elemente is hoedanighede wat die Lam besit, en die laaste drie, wat volgens die OT alleen aan God toekom, word deur die bewoners van die hemel en aarde aan Jesus toegesê. In Openbaring word die eer wat God alleen toekom (om bv. op die troon te sit) telkens met Jesus gedeel. Só word die woord vir lof (verbuigings van εὐλογία) in 7:12 op God van toepassing gemaak en in 5:12 op die Lam, maar in 5:13 op beide God én die Lam. Jesus verplaas egter nie God nie, maar deel in sy heerlikheid en mag. Die aanbidding van God in hoofstuk 4 en van die Lam in hoofstuk 5 word dus hier gekombineer en sluit die aanbidding van beide die Lam en die Here deur die ouderlinge in vers 14 die deel van Openbaring (hoofstukke 4-5) af.

In die wêreld van vandag is die boodskap van Openbaring 5 ‘n besonder belangrike een.

● Eerstens beklemtoon dit dat God se herskepping van alles nie deur dwang geskied nie, maar deur liefde en selfopoffering. Jesus is die Lam wat geslag is en nie die Leeu wat verskeur en verower nie. Dit is daarom geweldig belangrik dat diegene wat dié boodskap van die verlossing deur Jesus verkondig dit op dieselfde wyse sal doen as waardeur Jesus dit bewerkstellig het. Nie deur dwang en vrees nie, maar eerder deur liefde en lyding. Al te dikwels het die kerk in die geskiedenis daarvoor gekies om eerder volgeling van die Leeu as die Lam te wees.

● Tweedens beklemtoon die gedeelte die besondere status van Jesus. Ten diepste deel Hy in die status wat alleen God toekom. Daarom vra die navolging van Jesus nie alleen die instemming tot sy wêreldbeeld asof Hy net ‘n filosoof of profeet was nie. Dit vra ook om die aanbidding van Hom as die een aan wie alle eer en lof toekom.

● Derdens maak Openbaring 5 dit duidelik hoe omvattend die heil wat deur Jesus bewerk is. Dit raak sowel die aarde as die hemel. Dis nie net die aarde wat in Openbaring nuut word nie, maar ook die hemel. Alles wat deur God geskape is – die wat in, onder en op die aarde woon, asook die wat in die hemel woon, word vernuwe. Daarom mag die evangelie nooit tot ‘n enkele faset verskraal word nie (bv. net die verlossing van die siele van gelowiges of die herstel van die natuur nie). Die Evangelie herstel alles. Alles en almal word ingetrek in die dank- en loflied vir die werk van die Lam. Om die Lam te besing is ook nie om ‘n solo te sing nie, maar eerder om deel van ‘n koor te wees.

Marius Nel

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2005_11-14.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/724_c89344cc1eedd66fdb9a77d7b22630e9