{ARGIEF}

Sondag 7 Maart  ~ Psalm 63:  Die regte houding teenoor lyding

Ek sit nou die dag in die kerk en die dominee preek oor ‘n slagspreuk.  Die slagspreuk sê:  Nothing can stop a person with a positive attitude;  nothing can help a person with a negative attitude.

Nou ja, dis vreeslik on-Bybels om oor ‘n slagspreuk te preek en nie oor ‘n teksgedeelte nie.  Maar terwyl ek Psalm 63 lees, dog ek toe dat hierdie slagspreuk ‘n mens wel toegang tot die psalm gee:  Met die regte houding, die regte “attitude”, kan ‘n mens ver kom.

Onthou ons is in Lydenstyd.  Eerskomende Sondag is die derde Sondag in Lydenstyd.  En Christene oor die hele wêreld gaan op hierdie Sondag Psalm 63 lees.

Met die slagspreuk hierbo oor “houding”, en die Lydenstyd waarin ons is, wil ek graag oor Psalm 63 praat onder die volgende titel:
Watter houding teenoor lyding kan ek inneem omdat ek ‘n gelowige is?

Kom ons kyk wat is die Psalmis in Psalm 63 se houding teenoor sy eie swaarkry.  Want hy moet aanhoudend veg vir sy lewe wanneer mense sy ondergang soek (vers 10).  En hy moet aanhoudend veg vir sy goeie naam wanneer mense hom vals beskuldig en hom beskinder (vers 12b).  Watse houding neem hy dan in?

In verse 1-3 vertel die Psalmis hoe hy na God soek.  Hoe hy na God smag.  Ja, intieme kommunikasie met God – dít is wat ‘n mens ‘n goeie houding teenoor swaarkry gee.  Dít is wat mens laat regop stap wanneer jy bang is.  Nothing can stop a person with a positive attitude.  En as jy met God kommunikeer, en naby Hom bly, wat anders kan jy hê as ‘n positiewe houding?

In verse 4 tot 6 brei die Psalmis uit oor nog iets wat hom die regte houding gee:  om God te loof.  Om te erken dat God goed en getrou en liefdevol is – dit gee vir jou ‘n houding wat skrik vir niks.  Dít maak dat jy huppel wanneer jou bene wil breek.  Dít maak dat jy jubel wanneer jou hart klop van vrees.  Dít gee vir jou “attitude” wat jou laat stop vir niks.

In vers 7 noem die Psalmis dan nog ‘n ding wat hom die regte houding gee teenoor al die lyding wat hy moet oorkom:  Nadenke oor God.  Hy lê op sy bed snags en peins oor God.  En waarby hy uitkom, kan hom net ‘n positiewe houding gee:  God sal hom help, hom beskerm, hom ondersteun.  Met so ‘n insig, en so ‘n versekering, en so ‘n houding – wie kan bang wees vir die dag wat voorlê?

Wanneer jy die dinge lees wat die Psalmis in Psalm 63 sê, dan is dit amper asof hy ‘n “erediens” beskryf.  Eers die intieme kommunikasie met God – wat tog maar gebed is.  Dan die sing tot God – wat tog maar lofsang is.  En dan die nadenke oor God – wat tog maar die preek is.  Die Psalmis het natuurlik nie in daardie verre jare ‘n “erediens” geken soos ons dit ken nie.  Maar hy dra tog hierdie Psalm in die tempel voor, tydens ‘n fees waarby God se teenwoordigheid – miskien in die vorm van die ark – gevier is.  So, Psalm 63 is amper ‘n soort erediens, ‘n liturgie.

En dan is dit wonderlik dat ons vandag hier in die erediens so ‘n houding teenoor ons lyding en swaarkry kan inneem:  ons kommunikeer eers intiem met God deur gebed;  dan besing ons God se lof deur liedere en lofsang;  en dan dink ons na oor God in die preek.  En kom uiteindelik by die goeie nuus uit dat Hy ons sal behoed en beskerm.  En dat ons maar ons houding daarby kan aanpas.

Is dit nie wonderlik nie?  Ons kan ons houding aanpas by God se beskerming.
Jesus het gely.  En wat was Sy houding teenoor daardie lyding?  Hy het daaruit opgestaan.  Sodat ons elke dag hierdie houding kan hê:  Ek staan vandag op uit my swaarkry en teen my lyding.  Ek sal vandag met God praat, ek sal Hom besing, en oor Sy beskerming nadink.  En wat sal my kan klop met so ‘n houding?

Nothing can stop a person with a positive attitude. 

As ‘n gelowige het ons toegang tot die positiefste en sterkste houding.  Dit het ons nou by die Psalmis van Psalm 63 geleer.

Christina Landman

 

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preeksketse  oor Psalm 63 in die preekargief