Verder Geluister: Rom 5:1-5 ~ Vrygespreek

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

26 Mei 2013 ~ Eerste Sondag in Koninkrykstyd ~ Rom 5:1-5

Vrygespreek. Vrede tussen ons en God. Deel aan die heerlikheid van God. Liefde in ons harte uitgestort. Vrye toegang tot hierdie genade waarin ons nou staan.

Daar is een maal aan Karl Barth gevra wat die diepste/grootste waarheid is waarby hy met al sy studies uitgekom het. Sonder aarseling antwoord hy: “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so.”

Is dit woorde van ‘n professor wat net eers kom na vele studie, of is dit die kinderlike belydenis op grond van die vrye genade waartoe ek en jy en alle mense toegang het? Genade as die grondslag, die eerste beweging, die moeder van al God se handelinge met ons?

Daar is vele verhale in die Bybel wat ons van hierdie onverdiende genade van God vertel. Verhale wat mens vreemd op die oor val as jy nie besef dat dit juis om die onverklaarbare liefdevolle genade van God vir ons, gaan nie.

Die verhaal van die verlore skaap. Die herder se liefdevolle sorg is so groot dat hy nie ‘n enkele skaap te gering ag nie, maar allles vir die enkele sal gee.

So ook die vertelling van Maria wat ‘n hele fles olie op een slag uitgiet sonder om ‘n druppel terug te hou.

Een van die mooiste “alledaagse” stories wat genade as onverdiende vrye guns baie mooi uitbeeld, is die bekende (ou) verhaal van Babette en die fees wat sy vir ‘n klein groepie mense voorberei het. Karen Blixen vertel in die verhaal Babette’s Feast van die groepie hiper konserwatiewe en baie godsdienstige mense wat in die klein dorpie in Noorweë woon (in die flim word dit die dorpie Norre Vosberg in Denemarke). Op ‘n dag daag ‘n vrou uit Frankryk by die huis van twee oujongnooi susters op met ‘n versoek van ‘n eertydse vriend dat hulle na haar moet omsien aangesien haar lewe in Parys in gevaar is. Die susters, saam met die al hoe kleiner wordende geloofsgemeenskappie, leef so sober en eenvoudig – eintlik ‘n lewe uit skaarste – dat hulle nooit kan ontdek dat hulle in Babette die sjef van Parys se spogrestaurant huisves nie. Veral nie omdat sy volgens hulle voorskrifte en toesig die kos moet maak nie.

Op ‘n dag kry Babette berig dat sy 10,000 frank gewen het. Sy vra die susters se toestemming om eenmaal vir hulle en die groepie “old timers” ‘n ete voor te berei soos wat sy graag wil. Sy vertrek per boot na Parys om ‘n tyd later terug te keer met al wat bestanddeel is vir die ete. Van sjampanje, wat die Vosburgers nog nooit oor hulle lippe gehad het nie, tot ‘n skilpad wat as niks minder as onrein beskou is nie.

Tydens die ete is daar een gas “van buite” naamlik die eertydse vriend wat intussen ‘n generaal in die Franse weermag is en aan die fynere dinge, ook kos en drank, gewoond was. Tydens die ete is hy die ene ekstase en prys hy die kos en sjef aan terwyl die Vosburgers letterlik te bang is om te geniet wat hulle ervaar. Maar, algaande ontluik hulle en word hulle deel van die wonderlike ete en die wonder van die fees. Ou geskille word so eet-eet opgelos en hulle begin weer oopmaak teenoor mekaar en in hulleself.

Die toespraak van die generaal verwoord iets van die vrye guns en hoe oorweldigend dit kan wees. “Mercy and truth, my friends, have met together. Righteousness and bliss shall kiss one another. We have all of us been told that grace is to be found in the universe. But in our human foolishness and shortsightedness we imagine divine grace to be finite … But the moment comes when our eyes are opened, and we see and realize that grace is infinite. Grace, my friends, demands nothing from us but that we shall await it with confidence and acknowledge it with gratitude.”

Die toppunt van die verhaal is wanneer die susters ondek dat Babette die volle 10,000 frank bestee het vir die ete. Nie ‘n enkele frank het sy oorgehou nie, maar alles uitgegiet op die groepie mense wat dit hoegenaamd nie verdien het nie, skaars ten volle behoorlik geniet het!

“Grace came to Norre Vosburg as it always comes: free of charge, no strings attached, on the house”. (Philip Yancey – What is so Amazing about Grace? p26)

Die verhaal het my laat wonder oor hoe ons God se genade beleef en leef?

Die een gevaar is dat ons soos die Vosburgers ook te bang/na binne gekeer/vasgevang is om te kan geniet. Bang dit gaan opraak en ons is onkant gevang. Maar, op die manier vier ons nooit fees nie. Leer ons nooit om ons oor te gee aan die heerlikheid van God nie. Hou ons terug selfs op die vrede tussen ons en God.

Daar is ‘n tweede gevaar. Omdat ons self nie ‘n lewe van oorvloed lewe nie, kan ons ook nie ander opgewonde maak en betrek by die fees nie. Is dit dalk hoekom ons kerk klein en ouer en armer word?

Mag die Heilige Gees ons van bogenoemde gevare bekeer en bewaar deur ons te herinner dat die liefde van God reeds in ons harte uitgestort is. Ons reeds vrygespreek is om in vrede met God te lewe en dat ons vrye toegang tot Sy genade ontvang het.

En mag ek by wyse van spreke byvoeg : Sodat ons nie ‘n vleisie stil-stil in die agterplaas braai nie, maar sodat ons ‘n feesmaal berei en fees vier waarvan almal sal weet en waarheen almal genooi word – ook die mees onwaarskynlikes.

Pierre Goosen

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/45-Romeine/Romeine%2005_1-5.htm

Seisoen van Luister PowerPoint: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/05/Romeine5_1-5.jpg

 

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment