{ARGIEF}

19 Mei 2013 ~ Pinksterfees ~ Rom 8:12-17 ~ PINKSTER is ʼn TUIN of ʼn TRONK

Pinkster is die hoogtepunt van Paasfees, die afronding van God se koms na ons, die rolspel van die wederkoms!
Romeine 8 in die Leesrooster se eksegese is uitstekend. Jy lees daar hoe Paulus die triomf van die evangelie uitjubel. Hoofstuk 8 is vol juigkrete oor die implikasies van wat God in Christus gedoen het. Die dans van die Triniteit is so ooglopend verruklik: die Vader se trou, die vervulling van die verbond, die Seun se offer en die Gees van Christus se voltooiing van die versoening en die bevryding uit die mag van die dood. Let op, hierdie temas vind jy oral in die Bybel. Die eerste verduideliking daarvan is in Genesis.

Dit gaan om die keuse waar jy wil lewe: tuin of tronk. Gaan jy aanvaar wat God gratis gee? Verstaan jy dat genade nie los van gehoorsaamheid is nie maar ook dat gehoorsaamheid nooit los is van die Pinksterwonder, van die werk van die Gees nie?

Dink oor die twee stories in die leesrooster oor twee gebroke mense se ervaring in twee eredienste. Daar sal in elke gemeenskap in SA en in die hele wêreld dergelike voorbeelde wees.
Nou hier is die punt: God gee vir ons ʼn skepping, die aarde en alles daarop … Hy seën ons. Hy sê vir Abraham die doel van sy roeping en reis is om ʼn seën te wees … Hy gee vir sy nageslag ʼn land sodat hulle tot ʼn seën kan wees. Hy gee vir ons sy Seun en die Vader en die Seun gee vir ons die Gees … om ʼn seën te wees. Dis Pinkster sodat ons ʼn seën kan wees vir die wêreld. Hoe jy die seën uitleef, kan met baie Skrifgedeeltes verduidelik word – Matt 28:16-20 is ʼn gewilde een. Maar, let tog op dat dit om publieke teologie gaan, die Pinksterseën moet elke duimbreedte van die lewe verander en verryk!
Pinkster is soos Rom 8 dit hier uitjubel ʼn bevrydingsfees. Wie ʼn seën word, ontdek sy ware erfenis en as jy dit besef, kyk jy na God en roep oorstelp “Pappa!”
Die onbegryplike is dat ons die seëning vir onsself vat en dit nie wil weggee nie (kyk hoe goed het Moses dit in Deut 8 verduidelik). Dis wat Gen 3 verduidelik. Adam en Eva se tuin word ʼn tronk. Hulle sê nie “Pappa!” toe hulle God sien nie, hulle is net vol verwyte oor wie se skuld dit nou eintlik is. Kindskap se geheim is weggee, jouself gee, omgee, die dronkie gaan help. Pinkster is om in die krag van die Gees ʼn seën te wees, jouself te gaan weggee in navolging van Christus.
Rom 8:9 gee Paulus se verduideliking van Adam en Eva se foutjie. Hy noem dit ons sondige natuur. Ons sondige natuur is al daai mure wat ons om onsself bou om ons teen die wêreld te beskerm, dis alles wat verhoed dat ons tot ʼn seën kan wees (Sag 2:1-13 verduidelik dit ook). Soos met apartheid. Soos om mense wat anders as ons gerat is in hulle seksualiteit of kleur, of geloof, of wat ook al te vermy. Die ANC is fluks op dieselfde pad. Die President bou vir hom sy eie tuintjie, Nkandla.
Pinksterfees is die getuienis wat kan gebeur as die Gees van God uitgestort word en ons vrymaak van ons selfsug sodat ons die oneindig groter erfenis van die Koninkryk van God kan ontdek. Dis eers dan dat jy jou Vader kan sien en oorstelp “Pappa!” vol verbystering en vreugde roep.
Jurgens Hendriks

Preekriglyn in Argief: Geen riglyn in Argief

Seisoen van Luister Powerpoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/757_8587c0394dd85b57aa1316fe387f0319