{ARGIEF}

28 Maart 2010: Sesde Sondag in Lydenstyd ~ Lukas 19:28-40

Kom ons bring hierdie week se preekstudie/fokusteks in verband met die wêreld en sy nuus – dit forseer ‘n mens feitlik om iets te sê oor Julius Malema. Mens doen dit eintlik met weersin, jy’s nie lus vir die man en sy dinge nie. Nogtans is daar parallelle. Die man is beslis ook op reis. Hy sê dit al self … Hy het ʼn oop deur by die President … en hy laat hom dit beslis welgeval dat daar gespekuleer word oor hom as ‘n volgende President vir SA. Die man weet beslis wat sy roeping is en hy baklei sy pad oop soontoe! Hy kom ook uit ‘n nederige agtergrond, uit ‘n plek soos Galilea in terme van die Bybelse konteks. Destyds was ‘n donkie as ryding baie werd, daar was nie taxi’s en motorkarre nie. Jy moes stap. Malema het beslis sy rygoed goed uitgesoek: BMW en 4×4 … dis nie sommer donkies dié nie! Sy juigkommando’s volg hom waar hy gaan. Hy’t beslis ook iets vir vroue te sê. Dis gewoonlik ook die eenvoudiges wat hom ondersteun, mense wat ontevrede is met die huidige owerhede en magte en wat gebuk gaan onder swaarkry. Hulle het feitlik nie hoop nie, nie hoop op werk en opleiding en baie dinge nie … maar Julius belowe vir hulle ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Kyk maar wat het hy nie alles bereik en gekry nie … die mooiste klere, huise, horlosie … en wat nog. Hy veg vir die massas. Maar dis nou juis hier waar die parallelle hulle begin bloedneus loop.

Die eksegese van Lukas 19:28-40 is breedvoerig gedoen en kom met ʼn baie goeie preekvoorstel: 1) Die reismotief … Jesus se reis het lank voor Palmsondag se intog in Jerusalem begin … 2) Jesus se identiteit word al duideliker onthul. Wie Jesus is, is seker die belangrikste ontdekking in enige mense se lewe … 3) Diegene in navolging van Jesus word gaandeweg saamgesnoer in ʼn geloofsgemeenskap wat met rukke en stote leer om Jesus te volg. Die tydjie in Jerusalem was sekerlik ontnugterend, tussen vreugde en pyn …

Malema se reis is in skelle kontras met dié van Jesus, soseer so dat ʼn vergelyking ‘n mens met weersin vul.

Tog moet ons nie te vinnig oordeel nie – en dit gaan nogal swaar wees! Miskien onthul Malema se reis in die vulgêre ekstreme daarvan, tog ‘n rou simbool van elkeen van ons se diepste stryd, se paradys-versoeking, om self koning te wil word, om aan ons drange onbeteueld uiting te gee. Malema het geen filters wat sy rou emosies en sy primitiewe drange sag maak en mooi gekamoefleer aanbied nie. Jy sien en hoor wat uit sy wese opgeroep word – die rou waarheid van wat hy dink en voel.

Vat weer die metafoor van die teks en ondersoek en kontrasteer jou eie lewensreis met Jesus en met Julius. Dis twee radikaal verskillende roetes met radikaal verskillende bestemmings. Dis twee radikaal verskillende style … hoeveel voorbeelde kan mens nie oproep nie! Hier kan ʼn mens dan die teks en die goeie eksegese van die gedeelte intrek en uitbou in die preek en die hele tyd aan die kontras werk tussen ʼn lewensreis saam met Jesus in vergelyking met die tipiese verbruikersmaatskappy mentaliteit en motiewe van die lewensreis, waardes en ideale van die tipiese Westerse mens.

Daar is algemene konsensus dat die Christendom – kerke in die Weste, se sterwensuur aangebreek het. Die begrafnisklokke lui oral. Die diagnose van die dodelike siekte is ook duidelik: die kerk het sy pad verloor en is op reis saam met die wêreld. In Engels sê hulle: the church is domesticated by Western culture.

Miskien is ons deel van die groot skare mense wat soek na ‘n Heiland, iemand wat ons lewens ten goede kan verander, iemand wat ons ‘n toekoms kan gee. Palmsondag roep ons op om saam met Hom op reis te gaan en op dié reis te ontdek wie Hy werklik is. Hoe Hy reis. Wat is die doel van ons reis op hierdie aarde? En wat is die uiteindelike einde van die reis.

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preeksketse oor Luks 19: 28-40  in Argief