{ARGIEF}

18 Julie 2010 ~ Sewende Sondag in Koninkrykstyd:  Genesis 18:1-10a

Abraham maak kos in Koninkrykstyd

Iemand het eenkeer gesê:  “We do not see things as they are, we see them as we are.”
Ek het baie oor hierdie woorde nagedink.  Is dit ‘n goeie of ‘n slegte ding om met jouself, jou hele wese, die Bybel te lees?  Dis seker sleg as ‘n mens die Bybel lees en jy klap die teks so aan dat dit sê wat jy wil hê dit moet sê.  Ek onthou as tiener het ek party oggende na my vriendin-hulle se huis gedraf en saam met hulle huisgodsdiens gehou.  Maar al wat die oom heeltyd gedoen het, was om uit die Bybel vir sy kinders te wys hoe stout hulle was en hoe hulle hom te na gekom het.  Nee, het ‘n mens gevoel, so kan ‘n mens nie die Bybel lees dat jy ander mense daarmee kan bykom nie.

Maar aan die ander kant, nou, kan ‘n mens tog ook maar jou ervaring en insig in die lewe laat meepraat wanneer jy die Bybel lees, nie waar nie?  God het nie mense gebruik om die Bybel te skryf wat self ‘n skoon vel papier was nie.  En dis ook nie vir die Piet Skoonpapiere onder ons geskryf nie.  En die Bybel gaan ook nie oor volmaakte, skoonpapier mense nie.  Om die waarheid te sê, dis juis die menslikheid van die mense wie se verhale in die Bybel,  en veral die Ou Testament opgeskryf is, wat my boei.

En daarom wil ek vandag ‘n paar dinge uitlig wat my tref wanneer ek Genesis 18:1-10a lees.  Dis die verhaal van Abraham wat drie besoekers ontvang, aan hulle hospitaliteit betoon, en dan van hulle die ongelooflike nuus hoor dat hy en sy vrou oor ‘n jaar ‘n seun sou hê ten spyte van hulle ouderdom.

Drie dinge in hierdie verhaal praat met my.  En miskien praat dit met u ook.

1.  Abraham is eensaam.
Abraham sit op die warmste tyd van die dag voor sy tentdeur.  Dis ‘n tyd wat ‘n mens moet rus.  Maar toe sien hy drie mans daar naby staan.  Hy spring op en “draf” na hulle toe, sê ons Afrikaanse vertaling tereg.  Hy pleit dat hulle nie moet verbystap nie.  ‘n Bietjie van hierdie gebeure is deel van die reëls oor hoe mense mekaar ontvang het in daardie tye.  Maar ‘n deel daarvan vertel my ook iets van Abraham se eensaamheid.  Ten spyte van sy vrou(ens) en huishouding met slawe, is Abraham alleen.

Wat ‘n mooi menslike manier om hierdie verhaal te vertel.  En dis ook die verhaal van baie moderne mense, mense vandag wat dalk langs ons in die kerkbank sit.  Eensaamheid is ‘n vreeslike ding, en laat mense snaakse dinge doen, sommer “out of character” optree.  Ek dink nou aan ‘n teologiese student met wie ek eenmaal te doen gekry het.  Hy het ‘n kind by ‘n vrou gehad, en die kerk wou hom in sy teologiese studies stuit.  En toe vertel hy hierdie verhaal oor sy eensaamheid.  Hy sê dat hy drie meisies na mekaar gehad het.  En hy het by die kerk se beginsels gebly van geen seks voor die huwelik.  En elkeen van hierdie meisies het hom verlaat – om ‘n seksuele verhouding met ‘n ander man aan te knoop.  En elke keer was daar soveel woede en verwyte met die opbreek, dat toe hy die vierde meisie ontmoet, hy toegegee het om met haar seks te hê.  Hy het nie meer kans gesien om alleen te wees nie.  Maar haar familie wil nie toelaat dat hy met haar trou voordat hy vir haar kan sorg nie.  En hy kan nie vir haar sorg voordat hy sy studies klaargemaak het nie, iets wat die kerk nou van hom wil wegvat nie.

Ek sal nie die antwoord op hierdie dilemma weet nie, maar ek sou dink dat ons ‘n bietjie onder mekaar kan praat – oor hoe ons kerkmense verantwoordelikheid kan neem vir mekaar se eensaamheid.

Abraham was ook eensaam.  Hy nooi drie mans na sy (tent)huis toe, al was daar streng reëls oor wie ‘n mens na jou huis mag nooi en nie.  ‘n Persoon moes getoets word of hy nie ‘n kwaaddoener of ‘n vyand is voordat jy hom innooi nie.  Maar Abraham nooi die drie mans in sonder ‘n toets.

2.  Abraham het ‘n aanvoeling vir mense se behoeftes juis weens sy eie ervaring
Dis miskien oor sy eie kwesbaarheid, sy eie eensaamheid en die feit dat hyself besig is om rond te trek, dat Abraham so ‘n aanvoeling toon vir die behoeftes van die drie vreemdelinge.  Hierdie gedeelte in Genesis 18 word gewoonlik gebruik as dié plek in die Bybel waar ons van hospitaliteit kan leer.  Daar word in hierdie paar verse vyf spoedwoorde gebruik om aan te dui hoe Abraham hom haas om vir die gaste brood en kalfsvleis en melk voor te berei. 

Abraham het seker so 4000 jaar gelede gelewe, 40 eeue.  In ‘n heeltemal ander kultuur as ons s’n.  En tog is daar iets wat ons vandag nog van Abraham kan – en móét – leer oor hoe om na mekaar om te sien.

Dit laat my dink aan die Nagmaal wat ons so ‘n paar weke gelede op Draaikraal gehou het.  Draaikraal is een van ons gemeente se buitewyke.  Dis “deep rural”, soos hulle in Engels sou sê.  Ons hou Nagmaal in ‘n klaskamer van ‘n plaasskooltjie.  Ons doop.  Ons preek.  En dan kom daar nog mense aan, wat gehoor het die dominee en die ouderling is daar.  En dan hou ons weer Nagmaal.  En dan is dit drie ure later, en daar kom nog mense van die plase af aangestap.  En dan hou ons weer Nagmaal.  En wanneer ons uiteindelik klaar is, bied ek aan om ‘n ouerige vrou wat ver woon, huis toe te vat.  Ons ry met my stadsmotor waar daar nie paaie is nie.  Die ouderling wag vir my op Draaikraal dat ons kan teruggaan.  Maar aangekom by die vrou se huis, moet ek eers eet.  Sy hardloop rond, soos Abraham, om alles reg te kry. Die beste te ete en te drinke. En dan nog die presente.  Nog kos om saam terug te vat. En so voed die vrou nadat sy met die Nagmaal gevoed is.  Dit was amper asof ons onder die boom van Mamre gesit het, soos Abraham en sy besoekers.

3.  Kos word gebruik om te sê dat God ons lot kan verander
En nou is daar nog ‘n wonderlike ding van hierdie verhaal wat in ‘n mens se hart kom sit.  Dié van ons wat al ‘n bietjie verwesters het, sien nie altyd raak watter belangrike simboliese rol kos in die Bybel speel nie.  Kos in die Bybel is nie net kos nie.  Kos dra waardes oor.  Kos skep geleenthede vir mense om mekaar te voed met wysheid.  Jesus, byvoorbeeld, het sy wysheidsuitsprake gemaak terwyl hy saam met mense geëet het.  Jesus vermeerder kos vir mense om verskillende dinge daarmee vir hulle te simboliseer, waarop ons nie nou kan ingaan nie.  Jesus se lewe en opstanding word vandag nog herdenk met kos, brood en wyn.

Kos speel ‘n merkwaardige rol in hierdie verhaal van Abraham.  Die drie besoekers kom om vir Abraham mee te deel dat ‘n wonderwerk gaan gebeur.  God gaan sy hele lewe omkeer.  Hy en sy vrou gaan op hulle oudag ‘n seun hê.  Maar die aankondiging van hierdie nuus neem net ‘n paar verse in beslag.  Die grootste deel van die verhaal gaan oor die kos.
 
Die kos skep ‘n ruimte om die wonderwerk in te vertel.  Die kos word ‘n simbool van die ommekeer wat God in Abraham en Sara se lewe gaan bring.
Iemand het iewers oor hierdie verhaal soos volg geskryf:  “It is a parable of the previence of God in the lives of people who are at the end of their line”.
Inderdaad.  Abraham en Sara se afkomslyn het amper tot ‘n einde gekom.  Hulle was regtig aan die einde van hulle lewens en hulle vrugbaarheid.  Maar die kos wat Abraham aan die besoekers voorsit – dis juis so ‘n teken van vrugbaarheid, van oorvloed!  ‘n Geweldige klomp meel, ‘n hele kalf, ensovoorts, ensovoorts.  Ver meer as wat die drie manne en Abraham, Sara en hulle huishouding kon opeet.

Die kos word ‘n simbool van God se oorvloed, God se genade.   Van God wat ‘n mens se lot kan omkeer.

En dis die wonderlike gedagte waarmee ons hierdie 7de Sondag in Koninkrykstyd kan ingaan.  Ons leef reeds in God se koninkryk.  Dis ‘n plek van oorvloed, van genade, en van hoop.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief