{ARGIEF}

Spreuke 9:1-6 – 12de Sondag in Koninkrykstyd en 3de Sondag in Seisoen van Barmhartigheid – 19 Augustus 2012

Ons kan maklik dink wysheid het net te doen met kop-kennis, met slim-wees en onthou en om reg weer te gee.   Maar miskien het wysheid veel meer te doen met lewe (ww.)

Dit is opvallend dat wysheid se uitnodiging ‘n uitnodiging na eet en drink en feesvier is.  Wysheid en viering loop hand aan hand.  Om die uitnodiging aan te neem om fees te vier, is om afskeid te neem van onkunde en insig te kry en te lewe!

  1. Dit laat my dink aan die verlore seun.  Aanvanklik luister hy na Dwaasheid wat hom verlok om van die “gesteelde soet water” te drink (Spr 9:13-18).  Maar wanneer hy saam met die varke moet eet, hoor hy Wysheid se uitnodiging en wanneer hy uiteindelik by sy vader se feesmaal aansit, ontdek hy weer die lewe.   Net so ook die Dawid van Ps 23 wat aan die hand van sy Vader selfs deur die donker dieptes loop om saam met Hom by die feesmaal aan te sit en te lewe.

    Wie wys genoeg is om vierend te lewe, “tot in lengte van dae” is wys genoeg om in verhouding met sy/haar Vader te leef (Spr 9:10 “…. Wie die Heilige ken….”).

  2. Om op Wysheid se uitnodiging te reageer, is om ‘n lewe van ‘oorvloed’ te leef en nie ‘n lewe van ‘skaarste’ nie.  Almal is genooi.  Almal is goed genoeg om bederf te word by ‘n gedekte tafel (soos ‘n vriend sê: dit is ‘n “grand” plek want daar is lap servette). ‘n Vierende lewe is ‘n lewe in verhouding met die Vader, soos ook met elke ander mens wat die uitnodiging hoor. Dit is ‘n inklusiewe fees en nie ‘n eksklusiewe fees nie (Spr 9:3).
  3. Vers 6 praat van ‘n pad.  Nie, by wyse van spreke, van ‘n stad nie.  ‘n Pad wek beelde op van op weg wees, van ‘n reis terwyl ‘n stad jou laat dink aan gearriveerdheid. Stad rym met gemaksone en onkunde terwyl pad rym met verandering en insig.   Om saam met Wysheid fees te vier, is om te waag en te hoop en … te lewe.

Die lewe (sê ‘n vriend van my) is soos ‘n grondverskuiwing.  Jy staan op ‘n bepaalde plek en dink jy en alles is vas en seker, maar jy besef nie die grond skuif onder jou en jy skuif saam nie.  Op ‘n dag skrik jy wakker en is jy verskrik om te ontdek die werklikheid is nie wat jy gedink het dit is nie. 
 
Dit is wys om aan die hand van die Vader, verandering se uitnodiging hoopvol aan te neem.

Die volgende verhaal is dalk van toepassing.
Ab Agathon het baie tyd geneem om saam met sy dissipels ‘n sel (woonplek) te bou.  Hulle het skaars daarin gewoon toe hy agterkom iets is nie reg nie.  Hy sê toe vir sy dissipels dat hulle moet trek.  Sy dissipels is totaal verstom.  Hulle kan glad nie verstaan dat hulle, nadat hulle so lank aan die plek gebou het, sommer weer moet trek nie.  Boonop, en so bekla hulle hul lot teenoor Agathon, die mense sal van hulle sleg praat en dink dat hulle ‘n klomp onstabiele persone is.  

Waarop Agathon antwoord: “Geseënd is hulle wat kan weggaan ter wille van God omdat hulle geen ander sorg het nie”.

In haar kommentaar hierop sê die skrywer: “We should all be so lucky as to have a model in our lives of someone who is not afraid to move on when things are not right in life.  When all the obligations have been met, but all the boundaries of life have not been explored in the doing of them, all the dimensions of life have not been ripened by them, it is time to go.”    (Joan Chittister, Welcome to the Wisdom of the World. P114).

Pierre Goosen

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/20-Spreuke/Spreuke%2009_1-6.htm

 

Spreuke 9:1-6 – 12de Sondag in Koninkrykstyd en 3de Sondag in Seisoen van Barmhartigheid – 19 Augustus 2012

Spreuke9_1-6Hierdie teks is nie iets wat maklik met kinders gedeel kan word nie. Vertel eerder ‘n verhaal wat wysheid illustreer, bv die verhaal van Salomo en die twee prostitute in 1 Konings 3. Die preekriglyn werk met die idee dat egte wysheid meer is as ’n bietjie humor. Die openheid om geleer en onderrig te word, is die sleutel tot ‘n wyse lewe. Vir die Bybel is leerbaarheid daarom een van die belangrikste deugde denkbaar. Leerbaarheid, aangevul deur wyse onderrig, maak mens ‘n ekspert vir die lewe. Dit is ‘n broodnodige rigtingwyser vir ‘n bestendige lewe.

Spreuke 9:1-6.ppt     748 KB Aug 13, 2012 10:19 Download  
Spreuke 9:1-6.pptx     539.78 KB Aug 13, 2012 10:18 Download  
Spreuke 9:1-6.doc     100 KB Aug 13, 2012 10:15 Download