{ARGIEF}

Tien jaar gelede het Gert Vlok Nel ‘n CD uitgereik. En die naam daarvan was “Beaufort-Wes se beautiful woorde”. En daarin sing Gert Vlok Nel van die liefde. Maar dis nie altyd happy-liedjies nie. Die liefde stroop jou. Dit laat jou bloots voor die mense staan wat jy liefhet. Maar die liefde laat jou ook die onbegryplike raaksien, skoonheid wat net die liefde vir jou kan oopmaak.

En so is dit ook met Paulus se beautiful woorde in 1 Tessalonisense 2:7 en 8. Paulus staan met sy naakte, kloppende hart en sê vir die gemeente dat hy hulle liefhet. En hy gebruik daarvoor die beeld van ‘n ma wat haar kinders soog en vertroetel. Hy gebruik nie sommer net die woord
“ma” hier nie – nee, hy gebruik die woord vir ‘n ma wat nog haar kind borsvoed.

1 Tessalonisense is een van Paulus se oudste briewe, indien nie die oudste nie. Hy het self die gemeente in Tessalonika gestig toe hy, Silas en Timoteus op sy tweede sendingreis daar aangedoen het. Vandag is dit die stad Saloniki in die noorde van Griekeland. Toe was dit ‘n groot hawestad en die hoofstad van die provinsie Masedonië, wat ‘n Romeinse provinsie was.

Die Romeine was nou nie eintlik daarvoor bekend dat hulle met liefde regeer het nie. Inteendeel, hulle het met mag regeer. Die idee van “liefde” was polities ‘n gevaarlike begrip. Wie liefde verkondig het, is gereken as iemand wat die politieke stelsel van die Romeine omver wou gooi.

En so is Jesus dan ook gekruisig, omdat hy die evangelie van liefde verkondig het. Omdat hy gesê het dat ons mekaar as naastes moet behandel, en dat omgee die waardes moes wees waarmee ons mekaar benader. Dit het die Romeine uitgefreak, en die godsdienstige owerhede van die tyd ook. Ja, jy het beslis jou lewe gewaag as jy in die openbaar liefde gepropageer het.

Maar Paulus hou Jesus se boodskap van liefde vol, en veral hier sy beautiful woorde in 1 Tessalonisense 2:1-8. Kom ons bekyk hierdie gedeelte gou weer, en laat ons deur Paulus se woorde iets van die liefde leer, wat ons hierdie week met ons kan saamdra:

1 Liefde leer jou ander waardes

In hierdie gedeelte, 1 Tessalonisense 2:1-8, verdedig Paulus hom eintlik teen mense wat sê dat hy die gemeente met bybedoelings gestig het. Nee, sê Paulus, wanneer ‘n mens die evangelie van liefde verkondig, dan leer hierdie liefde jou juis ander waardes. Die mense van Tessalonika het die filosowe van daardie tyd geken, wat skole gestig het om beroemd en ryk te word, en allerhande slimstories uitgedink het om volgelinge te trek. Ek is nie so nie, sê Paulus. Die evangelie van liefde leer juis vir ons ander waardes, sê hy. Teenoor onsuiwere beweegredes en bybedoelings (vers 3) leer die liefde ons juis om getrou te wees aan mekaar en aan God, en om die vertroue tussen ons voorop te stel. Teenoor hebsug en vleitaal, stel Paulus die liefde van ‘n moeder teenoor haar suigelinge (vers 5-7).

Kortom, Christene se waardes is om liefdevol en respekvol met God se boodskap, en met mekaar om te gaan. En dit is nogal iets wat ons hierdie week met ons kan saamdra. Dink net hoe anders gaan die wêreld lyk as “liefdevolheid” die waarde is wat al ons gedrag teenoor mekaar gaan bepaal!

2 Liefde is die draaipunt van alle verhoudings

Christene het ander waardes as die mense om hulle, sê Paulus. Waar die Romeine met mag regeer, reik Christene in liefde na mekaar uit. Liefde is die draaipunt van alle verhoudings; alle verhoudings draai daarom. Liefde is om sonder mag te wees, sonder bybedoelings. Dis om blootgestel te wees. Dis om jouself te laat vloei, soos ‘n moeder haarself laat vloei na haar suigeling, al is dit ‘n eenrigtingverkeer.

Nee, van daardie soort liefde het die Romeine en die filosowe en die res van die wêreld nie geweet nie. Om die waarheid te sê, vir ‘n man van daardie tyd was dit ‘n belediging om enigsins met iets van ‘n vrou vergelyk te word. En tog gebruik Paulus hierdie beeld van die moeder wat borsvoed om ons te leer wat liefde is wat sonder bybedoelings is, en niks terugverwag nie.

En dis iets waaraan ons onsself weer vandag kan herinner, om so lief te wees. Vir God, vir ons naaste, vir ons kerk.

3 Liefde laat jou wonderlike dinge sien en doen

In vers 8 sê Paulus iets selfs nog meer ingrypends. Hy sê dat hy nie net die evangelie van liefde met die gemeente wil deel nie, maar eintlik homself! Nou, dis radikaal, hoor! Paulus laat toe dat hierdie liefde wat die evangelie hom leer, ook iets aan hom doen. Eerstens laat hierdie liefde hom skoonheid sien. Hy sien die skoonheid van ‘n ma wat haar kinders soog, ‘n skoonheid wat mans daardie tyd nie regtig raakgesien het nie. En tweedens laat dit hom diep vir ander mense omgee. Dit laat hom iets van homself gee. Hy vertel nie net die evangelie oor nie, hy gee homself vir mense wat hy liefhet.

Ons dink baie aan Paulus as die streng man, wat vir ons voorskryf wat reg en wat verkeerd is. En dat hy alles net sien in hierdie lig: wat sonde is en wat nie sonde is nie. Maar hier, in Paulus se beautiful woorde, sien ons dat Paulus eintlik alles in die lig van die liefde sien. Of iets liefdevols gedoen word … dit is die kriterium vir of iets reg of verkeerd is. Teenoor hebsug en verskuilde agendas stel Paulus net dit … die liefde.

En ons dink ook baie aan Paulus as iemand wat vroue bygekom en hulle stilgemaak het. Maar hier sien ons hoe praat Paulus in beautiful woorde oor ‘n moeder wat haar kinders borsvoed – en dat dit vir hom die beeld is van hoe liefde in die kerk en in die wêreld behoort te lyk.

Kom ons leer dit by Paulus vandag. Dat dit wat al ons dade bepaal, die liefde sal wees. En dat ons die liefde sal toelaat om ons skoonheid te laat raaksien. En dat dit ons sal inspireer om onsself met ander te deel.

Miskien dan sal ons iets kan verstaan van Paulus se beautiful woorde.

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint