{ARGIEF}

Sondag 12 Julie 2009

Ef 1:3–14 bevat elemente van ’n Joodse lofprysingsgebedsvorm (berakah). Die hooffokus van Ef 1:3–14 is lofprysing aan God deur alle gelowiges. Dit word veral beklemtoon deur die herhaaldelike gebruik van die persoonlike voornaamwoord “ons”. In feitlik elke teks word die persoonlike voornaamwoord “ons” gebruik. Met “ons” verwys Paulus na alle gelowiges, dit wil sê, na die kinders van God. Die “ons” staan teenoor die nie-gelowiges, die heidene, die wêreldling. Paulus beklemtoon daardeur dat almal wat tot die geloof gekom het, deel vorm van die volk van God. Ons het in Ef 1:3–14 te doen met ’n lofprysing. God is lofwaardig sê – ons gelese gedeelte vir ons – om geprys te word. God behoort die voorwerp van ons lofprysing te wees. Die rede vir die lofprysing lê volgens ons gelese gedeelte op “ons” verkiesing en kindskap (Ef 1:4-6), “ons” redding en bestemming tot sy eiendom (Ef 7–12) en “julle” aanneming as kinders van God. God is immers die enigste ware God (v 6,7 en 13) teenoor die veelgodedom, die politeïsme in Efese.

Jesus word in die gelese gedeelte die Christus genoem dws die gesalfde. Die woord “ Christus” is van Griekse oorsprong en beteken Gesalfde. Die Hebreeuse naam met dieselfde betekenis is Messias. Paulus dink nie aan Christus as ’n eienaam nie, maar as die vervulling van God se belofte dat hy die messias, die gesalfde sou stuur. Christus is met die Heilige Gees gesalf tot ons hoogste Profeet en leraar en enigste Hoërpriester, ons ewige koning (vgl Sondag 12) Net soos God in die Ou Testament mense gesalf het om as leiers van sy volk op te tree, so is Jesus deur die Heilige Gees gesalf om as Middelaar tussen God en mens op te tree. In die salwing lê opgeslote die verordening en toerusting. Christus is deur die Vader verordineer en is deur die Heilige Gees na sy menslike natuur toegerus. Christus is gesalf tot die drievoudige amp: die van Profeet, Priester en Koning. Christus Jesus is nie slegs die Middelaar tussen God en mens nie, maar is die verrese Heiland.

Paulus beskryf homself in Efesiërs as ‘n gevangene van die Here (Ef 3:1). Efesiërs word gedateer tussen 60 tot 61 nC, dws gedurende die tydperk van Paulus se gevangeneskap in Rome. Paul beklemtoon in Efesiërs veral dat sy lesers die eenheid tussen hulle as gelowiges moet behou. Hierdie eenheid was egter slegs moontlik vir diegene wat in Jesus Christus geglo het. Paulus, ‘n gevangene in Christus, beklemtoon in ons gelese gedeelte dat God midde alle omstandighede geprys behoort te word. Paulus skryf die brief aan die gelowiges in Efese dit wil sê aan almal wat aan God behoort en in Christus glo. Die gelowiges in Efese het bestaan uit Jode en nie-Jode wat Christus as hulle Verlosser aangeneem het. God bring in Jesus Christus mense van verskillende rasse en kulturele agtergronde in Efese, in ‘n verenigde kerk (ekklesia) byeen. Die Jode het gewoonlik na nie-Jode verwys as die onbesnedenes en het hul gewoonlik as meerderwaardig teenoor die ander rasse beskou. Paulus beklemtoon egter in Efesiërs dat in Christus beide die Jode en die Grieke hul kulturele en etniese identiteit verloor. Daarom roep Paulus almal in Efese op om lof aan God te bring wat hul gered het. Christus het immers vir die Jood en die Griek gesterf. Ons, ja Jode en Grieke, is bestem om deur Christus kinders van God te wees. In Christus word dus ‘n nuwe inklusiewe groepering gevorm. Ook ons uit ons verskillende kulturele en rasse agtergronde, kan kinders van God genoem word. Meer nog … in Christus is daar nie meer ongelykheid tussen ras, kultuur en geslag. In Christus is die heidene nie meer vreemdelinge. Nee! In Christus word hul volgens Paulus deel van die huishouding van God. Daarom verwys Paulus in verse 3-14 na “ons” en sluit daarmee beide Jode en die nie-Jode, mans en vroue, slawe en eienaars in. Die enigste toelatingsvereiste tot die kerk in die Nuwe Testament, was immers geloof in Jesus Christus.

Beide die Jode en die Grieke was gered deur die bloed van Jesus Christus (Ef 1:7). Deur Christus se versoenende werk aan die kruis word beide Jode en Grieke byeengebring in ‘n familie van God en kan twee aparte entiteite na mekaar voortaan verwys as “ons” bv “ons” god, “ons” oortredinge. In die familie van God is daar geen onderskeid nie, maar word al die mensgemaakte strukture afgebreek. In Christus is immers die middelmuur van skeiding tussen Jode en Grieke afgebreek. Die Grieke het dus nes die Jode deel gehad aan die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (Ef 1:10). Die toelating van die Grieke tot die liggaam van Christus het dus nie vir hul ‘n tweede klas burgerskap geïmpliseer nie. Nee! sê Paulus vir die lesers in die eerste eeu na Christus en natuurlik ook vir ons in die 21ste eeu – mense wat Christus aangeneem het, alle gelowiges – vorm as lede van die huishouding van God ‘n nuwe gemeenskap, ‘n kerk (ekklesia), want in Christus word individue ‘n groep, In Christus verwys die groep na hulself sonder ongemak na “ons”. Eintlik wil Paulus vir ons sê die kerk van die Here is ‘n oop gemeenskap sonder aanneming des persoon. Die nuwe identiteit in Christus moet sigbaar wees sodat die wêreld kan glo. Hierdie eenheid van die volk van God behoort gemanifesteer te word in dade van gelowiges in die wêreld.

Die vraag is egter: Kan ons werklik God se grootheid in post apartheid Suid-Afrika prys. Die dagblaaie basuin dit immers weekliks uit: korrupte staatsdiensamptenare, korrupsie in die staatsdiens, geldverduistering, motorkapings, geweldmisdade, moord, verkragting, kindermolestering, werkloosheid, armoede, groeiende getal huisloses, swak gesondheidsdienste, swak regstelsel, regstellende aksie en emigrasie van veral jong professionele Suid-Afrikaners. Die Suid-Afrikaanse droom het vir baie ’n nagmerrie geword. In post-apartheid Suid-Afrika word ons daagliks gekonfronteer met groeiende statistieke oor verkragtings, moord, korrupsie, geweldsmisdade, plaaasmoorde, xenofobiese aanvalle en die negatiewe gevolge van regstellende aksie. In sulke omstandighede voel gelowiges dikwels asof God ver is … asof Hy ons nie meer “seën met al die seëninge in die hemel” nie. Beide die Joodse en Griekse gelowiges sou immers volgens Paulus geseën word met al die seëninge wat in die hemele is. En ons? Ons moet egter onthou dat die eerste Christene in Efese vervolg was ter wille van hul geloof. Vir sulke mense skryf Paulus dat hul “al die seëninge wat in die hemele” is van God sal ontvang. Ef 1 3–4 ste dit duidelik dat alle gelowiges selfs midde verdrukking, vervolging, selfs die dood, God behoort te prys. Vandag, meer as ooit in die verlede, behoort die kerk, behoort ons, weer klem te lê op die feit dat dit God se bedoeling is om alles wat in die hemel en op die aarde is, ja alles selfs die regering van die dag, die staatsdiens, die kerk, alle samelewingstrukture, die huisgesin – onder een hoof te verenig naamlik Jesus ons verrese Heiland. God se wêreld en die mens se wêreld staan immers nie teenoor mekaar nie. Veel eerder behoort God se koninkryk ook in ons tyd deur te breek “soos in die hemel net so ook op die aarde”. Ook ons behoort in ’n sekulêre samelewing dit uit te jubel dat aan God, die Vader van onse Here Jesus Christus kom alle lof toe. Hy alleen kan ons seën met al die seëninge wat in die hemele is.

Mary Anne Plaatjies-van Huffel

Seisoen van Luister Powerpoint