{ARGIEF}

Dat ons ‘n leierskapskrisis in Suid-Afrika beleef, is wat ‘n mens op Engels ‘n totale “understatement” (onderbeklemtoning) sou noem! Hierdie stukkie word geskryf enkele ure nadat president Mbeki sy uittrede aangekondig het. Die hele Suid-Afrika hou half asem op: Hoe nou vorentoe?

Vandeesweek se preekstudie oor Filip 2:1-13 is ‘n gedeelte wat by uitstek help met die vraag na die aard van goeie leierskap. (Seisoen van Luister PowerPoint)

Tereg sê die Preekstudie in die tweede paragraaf onder “Historiese Konteks”: Paulus wil die gemeente lei om ‘n nuwe stel waardes te skep waaruit hulle prioriteite kan bepaal om hulle daaglikse lewe aan te pak. Reeds in paragraaf een sê dit: “Die kernvraag wat Paulus probeer beantwoord is: Hoe moet die gelowige daagliks sy of haar Christenskap uitleef in ‘n wêreld met ander waardesisteme, prioriteite en lofliedere aan ander gode?”

In die uitstekende boek Christenleiers (redakteurs: Braam Hanekom en Jannie le Roux) wat onlangs by Bybel-Media verskyn het, wys Hanekom daarop dat die kerk met ander kragte werk as die gewone mag en geld om mense in ‘n rigting te stuur: vertroue, inspirerende visies, entoesiasme, liefde, erkenning en baie meer.

In dieselfde boek skryf Nelus Niemand verder oor wat hy noem dienaarleiers.

Hoe lyk dienaarleiers?
  • Dienaarleiers volg Jesus eerder as status of mag.
  • Dienaarleiers offer op en gee selfs persoonlike aansprake prys.
  • Dienaarleiers trek die kleed van diensbaarheid aan twv ander se behoeftes.
  • Dienaarleiers vermenigvuldig hulle leierskap deur ander te bemagtig en saam te lei.
  • Dienaarleiers maak ‘n bewuste keuse om Jesus as leier te volg.
  • Dienaarleiers kan self ‘n voorbeeld stel. Hulle is in staat om die werklikheid van diensbaarheid te aanvaar – dit sluit in mislukkings en swaarkry.
  • Dienaarleiers maak ‘n bewuste keuse om nie deel te wees van magstryde nie.
  • Dienaarleiers is mense wat bereid is om hulleself belaglik te maak (vgl Mark Batterson se boek: The importance of looking foolish). Dis juis die vrees dat mens dalk belaglik sal lyk wat jou daarvan weerhou om mag af te staan en ingrypende dinge te doen wat wys jy is bereid om dien. Dit ís immers ‘n bietjie belaglik om te dink dat die leier van ‘n span sal die minste wees en die belangrikste persoon sal graag die onbelangrikste takies wil doen!

In dieselfde trant skryf Dirkie Smit ‘n week vantevore in sy gewilde Geestelike Waardes in Die Burger:

“Kan ’n mens jou voorstel dat Jesus die skare na die mond sou praat? Hul onreg teenoor armes, hul onbarmhartigheid jeens noodlydendes sou verswyg? Hul selfliefde en eiebelang nie sou rep nie? Sou verby kyk aan vooroordele teenoor vroue, die wegwys van geringes? Jou indink dat Paulus ter wille van populariteit en invloed die evangelie sou aanpas by die tydsgees, die kultuur, die volksentiment? Vir die kerk in ’n meningspeiling sou vra wat hulle bereid is om te bely? Vir gemeentes deur markopnames watter soort kerk húlle graag wil wees? Vir skares watter boodskap hulle laat goed voel? Vanwaar tog dié soort leierskap? Trouens, wat van die gees van “Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier. Die grootste onder julle moet bereid wees om te dien” (Matt 23:10-11)?

Filip 2:1-13 is by uitstek relevant vir ons huidige leierskapskrisis. Maar die teks is eweneens van toepassing vir die leidende beslissings in elkeen van ons eie lewe (soos wanneer ons moet besluit oor ‘n nuwe motor of huis of ons selfoon opgradeer): Gee ons om om bietjie “foolish” voor te kom deur nie noodwendig toe te gee aan die jongste grille en nuutste eise van die heersende verbruikerskultuur met ander waardesisteme, prioriteite en lofliedere aan ander gode as dié van Jesus aan die kruis nie?

Want die kruis is ook mos maar dwaasheid en staan nie in die sentrum van ons kultuur nie. Dit vra ‘n stuk geestelike volwassenheid (of is dit genade?) om vanuit die periferie van die kruis – daar op ’n heuwel aan die buiterandjie van Jerusalem – die Gekruisigde raak te sien, besig om siekes te vertroos, wonde te genees en ‘n bediende se werk te doen. Filip 2 bevestig aan ons: God kan eers die sentrum van ons godsdienstige lewe wees – ja, mense is eers “geestelik” ‑ waar daar dissipels is wat in selfopoffering Jesus op die periferie van die samelewing tussen die randfigure raaksien en begin volg. Die God van die sentrum is “…. op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte ….”

Kan ons Jesus sy selfopoffering nadoen? Nee, ons kan nie. Tereg waarsku die Preekstudie-verklaarder ons téén ‘n interpretasie asof Filip 2 ‘n boodskap is met ‘n oproep om nabootsing van Jesus. Só ‘n interpretasie self kan weer lei tot ‘n nuwe krampagtigheid, selfbelang en aanhoudende selfbejammering oor die lot van onvolmaaktheid – presies die teenoorgestelde as die vreugde van selfbevryding wat Paulus ons met Filip 2 se loflied wou leer. Nee, die leerstelligheid van die loflied van verse 6 tot 11 word etiek (kry hande en voete) in die gehoorsame lewe van gelowiges wat die werk wat God rééds in hulle gedoen het, met selfopofferende dade en ‘n dienaarsgestalte vier (vers 13).

So ‘n gehoorsame, etiese lewe verseker egter nie dat alles voortaan eenvoudig gaan wees nie. Daarvoor is die wêreld té kompleks – vra maar politieke leiers hoe gou vandag se gewilde antwoorde môre se meulstene word. Gehoorsame, geestelike mense sal ontdek dat reg-of-weg-antwoorde nie bestaan nie Daarom sal dit vir geestelike leiers en gehoorsame gelowiges nodig wees om met wysheid van Bo op te tree ‑ geestelike onderskeidingsvermoë, wat net moontlik is as ‘n mens bitter naby aan God leef.

Pieter Fourie