{ARGIEF}

Die preekstudie wat Dawid Botha uitgewerk het, is baie breedvoerig en vat myns insiens die hoofmomente van die perikoop saam. Hy wys tereg daarop dat daar ‘n veelheid van temas is wat in die perikoop aan die orde kom. Self kies hy vir vers 5 “die Here is naby”, as die spreekwoordelike “klippie wat in die water val” en hanteer dan konsentries die implikasies daarvan vir die gelowige se persoonlike verhouding met God, maar ook vir die wyer publieke en samelewings implikasies. Hy wys veral, in die lig van die “seisoen van die skepping” op die ekologiese implikasies van ‘n lewe “voor die aangesig van die Here”. Hy het moeite gedoen om van die nuutste statistiek en inligting in die verband in die hande te kry. As ‘n gedagte of twee met die oog op verdere aktualisering van die teks met die oog op komende Sondag, sou ek graag die volgende wil noem:

  • Die hele saak van Kerkeenheid het die afgelope twee weke nuwe akualiteit verkry. Die besluite van die VGK Sinode en die reaksie van die moderatuur van die NG Kerk daarop, het oral opslae gemaak en is druk onder bespreking. As ons in gedagte hou dat een van die onmiddellike implikasies van vers 5 die saak van eenheid is, trouens die perikoop begin met ‘n baie sterk oproep tot eenheid en eensgesindheid (vgl. vers 2) dan kan ‘n mens beswaarlik in die preek nie daarna verwys nie. Ons as predikers kan ons lidmate baie help om iets van die gebeure oor die afgelope paar weke te probeer interpreteer en hulle opnuut oproep tot die Bybelse opdrag oor eenheid. Dawid Botha verwys ook in sy studie daarna en sy gedagtes in die verband kan sinvol benut word.
  • ‘n Tweede gedagte wat direk hiermee verband hou en wat op ‘n ander manier die saak aan die orde stel, is die xenofobiese aanvalle op mense uit ander Afrika-lande wat nie ophou nie. In die afgelope Vrydag se Mail and Guardian (October 3 to 9) is daar ‘n artikel (p.3) wat met vrug vir die doel gebruik kan word. Onder die opskrif “wiped out in SA” word die uiters tragiese verhaal van ‘n Somaliese familie vertel. Ses van die elf lede van hul gesin is reeds in hierdie sinnelose aanvalle vermoor. Hulle het uit hul geboorteland gevlug om ‘n nuwe lewe in Suid-Afrika te vind. Hulle het ‘n winkel in Khayelitsha geopen waar hulle wreed aangeval is en waarin haar man sy lewe verloor het. Vanuit die Youngsfiel vlugtelingkamp het hulle sowat ‘n maand gelede vertrek om ‘n nuwe lewe in die omgewing van Queenstown te begin. In Tambo-village het die familie weer ‘n winkel begin en oor die pas afgelope naweek is nog drie van die gesinslede vermoor. Iewers is daar groot fout en is dit duidelik dat ons sukkel om in hierdie land met verskeidenheid en vreemdelinge saam te leef. Paulus se woorde staan in sterk kontras daarmee.
  • ‘n Volgende artikel in dieselfde koerant, en wat ‘n meer positiewe bydrae wil lewer, is ‘n artikel met die opskrif Blueprint for a better future. Dit gaan oor gewone Suid-Afrikaners wat suggesties maak oor wat moontlik verandering in ons land tot gevolg kan hê. Dit sluit op ‘n besondere wyse aan by verse 6 en 8 van ons perikoop wat handel oor ons begeertes en dit waarop ons ons gedagtes moet rig. Die bydraes hou verband met ‘n uitdaging wat aan gewone landsburgers gestel is om met ‘n visionêre reaksie op die volgende vraag vorendag te kom: “If you could change one thing forever, what would it be?” Dit is ‘n inisiatief van die South Africa Trust en bied baie waardevolle inligting oor wat gewone mense glo wat verandering tot gevolg kan hê. Van die antwoorde hou onder andere verband met die behoefte wat mense het aan politici en die regering wat meer deursigtig moet wees, minder korrupsie, wyse verspreiding van subsidies, bou van ‘n sterk ekonomie, bankkoste en rente moet verdwyn, opvoeding en die skep van werk is ook baie belangrik, vry koshuise en skool fasiliteite vir kinders, sorg vir Vigs-wesies, ‘n einde aan geweld, verkragting, misdaad, beter dienste wat betref gesondheid, behuising, die regbank, veiligheid ensomeer. Gewis die moeite werd om dié bydrae verder te ondersoek aangesien dit as’t ware uit die perd se bek kom en relevante inligting bevat.

Ian Nell