Tweede gedagtes: Genesis 50:15-21

Written by Alta Marais on . Posted in Verder geluister

Familiekrisis – Genesis 50:15-21

My hart is seer terwyl ek hier tik. Ek kom so pas van ons
Ringsitting op Mosselbaai. Die verslag van die Sinodale Kommissie van
Kaapland het op die sitting gedien. Die besluit lui: “To with
immediate effect cease all formal discussions with the DRC Western and
Southern Cape on church unification until such time as the DRC publicly
and unequivocally accept and uphold the Confession of Belhar as
Reformed standard and commit itself to the Confession of Belhar the
same way as URCSA does and at the same level with the three
acknowledged Reformed confessions”.

Die Kerkbode van 5 September se voorbladopskrif in vet gedruk is Familiekrisis.   Die berig daarby begin met die paragraaf: “Die
gesprek oor kerkeenheid in die NG Kerkfamilie is vir die soveelste keer
in ’n ernstige krisis gedompel. Samesprekings tussen die twee grootste
rolspelers, die NG Kerk en die Verenigende Geref Kerk (VGK), het ’n
skaakmat-situasie bereik. In die Wes-Kaap is alle gesprekke oor
kerkeenheid tussen die twee kerke opgeskort. Spanning tussen die twee
kerke is op ’n mespunt soos laas tydens die apartheidsjare en
kerkleiers meen die pad vorentoe is duister. Die Belydenis van Belhar
is weer eens midde-in die stryd.”

Ons beleef inderdaad ’n familiekrisis in ons land se oudste kerk. 
Krisisse is nie vreemd in die Bybel- en kerkgeskiedenis nie. (Reeds so
vroeg soos in Handelinge 6 lees ons van die eerste konflik in die
kerk). Sulke geleenthede kan verhoudings maak of breek. Kom ons maak
van die verleentheid ’n geleentheid… Ons fokusteks eerskomende
Sondag, Genesis 50:15-21 berig juis oor ’n familie, in hierdie geval
broers wat angstig en in vrees lewe oor hul bose verlede, hul optrede
van haat teenoor hul broer Josef. Hulle verwag uiteraard dat Josef
wraak sal eis. Dis hoe mense is. As jy verneder is, sal jy ander weer
moet terugkry om jou vernedering op te hef. Die genadige beperking vir
gelowiges was  “’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand”. As Josef by
so ’n genade-ooreenkoms sou hou, kan hulle verwag dat hy ten minste een
van die broers sal behandel soos hy behandel is. Maar hy het nou veel
mag en kan maak soos hy goeddink. Hy kan die helfte of almal terugkry
vir dit wat aan hom gedoen is… Gevolglik stuur hulle ’n boodskapper
om die “water te toets”. Hy moes na hul pa se  opdrag verwys dat Josef
hulle moet vergewe. Hulle erken vir die eerste keer hul misdaad en
onreg. Hulle beroep hul nie net op hul biologiese pa nie, maar hulle is
ook dienaars van hul vader se God. Meer nog: hulle bied hulleself aan
as Josef se slawe.

“Sonder die vergifnis van Josef word die broers aan die verlede
vasgeketting” (A Nel). Skulderkenning van die broers en vergifnis van
Josef is noodsaaklik vir ware versoening. Annes Nel slaag daarin om die
laaste paragrawe van die Josefverhaal (Gen 50:15-21) deur sy eksegese,
hermeneutiek en homiletiek deeglik te laat spreek.

Ek sluit dan by sy preekvoorstel aan.

Josef doen die onverwagte. Hy sluit met vergifnis die toekoms oop.
Is dit wat geloof aan mens doen? Laat dit mens inkoop in God se droom?
Verdwyn die menslike lus om wraak te neem en ander terug te kry wanneer
’n mens met geloofsoë na die geskiedenis kyk (A Nel)?Josef bely immers
dat toe sy broers hom gehaat het, God hom steeds liefgehad het. Toe
hulle hom verkoop het, het God hom vooruit gestuur (sien tekste in
hoofstukke 45 en 50 ).

Sou Josef se geloof in God se voorsienigheid hom van weerwraak
weerhou? God se voorsienigheid is dat God agter die gebeure steeds aan
die werk is. Dit voel vir ons of ons soos ’n sokkerbal deur
omstandighede en selfs ons susterskerk geskop word. Maar met geloofsoë
kan ons aanvaar dit is soos ‘n bal wat in oostelike rigting geskop word
op ’n groot tenkskip. Die tenkskip vaar Wes. Al voel dit vir ons ons
gaan Oos dan vaar ons Wes. God se hand skuif onder die gebeure in. Al
gebeur dinge teen sy wil, dit ruk nie handuit nie. Sy hand is die
tenkskip. Op die dek gebeur dinge teen sy wil. Kerke en ander families
skeur en baklei. Hy vaar steeds met ons in sy rigting. Ons hoef nie
ander terug te skop nie.

“Daarom is vergifnis nie ’n opsie nie, maar ’n noodsaaklikheid.
Josef is nie God wat kan besluit oor die lot van sy broers nie. Hy kan
slegs inval by die planne van God. God het die kwaad goedgedink
(Noordmans). As God hierdie dinge ten goede gebruik het, wie is hy om
nou te vergeld en nie te vergewe nie?” (A Nel)Ferdinand Deist (Met God
vandag, 1980) skryf oor die teks “Wat die broers kwaad gedink het, het
God in die goeie verander”; en “Dis beter om in die hand van God te
wees, want Hy kan selfs die kwaad weer goed maak. Die kwaad wat ons
veroorsaak”.

Ek kan in ’n slagyster trap om op ’n simplistiese wyse die
verhouding van die VGK en NGK met Josef  en sy broers te vergelyk, maar
ek sal my roeping versuim om nie beginsels uit die verhaal tot die
huidige krisis in die twee kerke uit te lig nie.

God is die hoofkarakter tot versoening in Josef se verhaal en God is
veronderstel om ook in die herenigingsproses die posisie in te neem.
Annes Nel skryf: “Eenmaal was daar ook iemand wat onskuldig gely het.
Nie Josef of Job nie, maar Jesus. Die boosheid van die mense het ons
broer Jesus Christus aan ’n kruis vasgeslaan, want Hy het hom met die
skuldiges en uitgeworpenes geassosieer. Die onskuldige is soos ’n
skuldige behandel (2 Kor 5:21; 1 pet 3:21). So het Hy plekke geruil met
die skuldiges, met Josef se broers, met die egbrekers, moordenaars aan
die kruis, rassiste, tollenaars, die rewolusionêre moordenaar Barabbas,
die goddelose sondaars. Deur Hom word die goddelose vrygespreek (Rom
4:5; 5:6-10).

Daar is hoop. Sondaars kan tuiskom. Die vreemdelingskap is verby”.
“Dit is die kruisevangelie. Uiteindelik is die uitdaging van hierdie
verhaal of ons ingeskakel word by God se droom, sy troosplanne, sy
heelmaking van stukkende verhoudings, of ons lewe bring waar daar dood
is, hoop waar daar wanhoop is. Wanneer ons ons identifiseer met die
Onskuldige wat soos ’n skuldige gely het, veroordeel ons nie, maar
breek ons hart vir hulle wat in vrees lewe vir die kwaad wat hulle
ander aangedoen het. Selfs die kwaad wat aan ons gedoen is, word die
geboorteuur van iets nuuts, naamlik onvoorwaardelike vergifnis” (A Nel).

“God wil nie mense uitmekaar sien spat nie, maar maak verhoudinge
heel. Wanneer ons by hierdie heelmaakplan van God ingeskakel word, kan
ons dalk van kwaad van die verlede weet, maar bly ons nie vasgeketting
nie” (A Nel).

Dit vra ’n prys van beide kerke. “Ons sal moet bereid wees om ons
eie belange tweede te stel ter wille van groter eenheid” sê dr. Danie
Nel aan Kerkbode. “Diegene wat dalk onskuldig gely het, kan die siklus
van skuld en sonde verbreek soos God gedoen het. So word die goeie uit
die kwaad gebore” (A Nel).

God se droom van ’n herenigde familie kan ons saam laat realiseer,
deur in die hand van God te wees.  Ons lidmate van die twee kerke sal
dit wat hul vashou en/of  terughou om te herenig moet laatgaan. “LET
GO; LET GOD”.

Liturgiese klem: Ek sal fokus op verootmoediging voor God en veral op genadeverkondiging uit Hosea 11.

Ek vind Gebedeboek met liturgiese voorstelle. 2001. Lux Verbi: Wellington ’n handige bron.

Pieter van Niekerk, Friemersheim, pivan@xsinet.co.za

Seisoen van Luister skakel na PowerPoint van Genesis 50.

Trackback from your site.

Leave a comment