{ARGIEF}

Ons band met Christus het ekonomiese implikasies

Hierdie gedagte van my haak by Johan Els se oorspronklike preekstudie aan.

Hoe geïntegreerd is ons geloof in ons alledaagse lewensbestaan; hoe beleef en sien  ander mense dit? “Handelinge 4 vertel die storie van hoe die eerste Christene radikaal met hulle lewe op die Paasgebeure reageer het” (Els). Lukas berig oor ‘n alternatiewe gemeenskap so anders as die bestaande norme en waardes van hul tyd.

Dié Skrifdeel is radikaal en kontroversieel. Die beskrywing van “een van hart en siel” (4:32) is veelseggend vir die eerste gemeente wat uit ‘n verskeidenheid kultuurgroepe bestaan het. Hulle was  saamgebind deur meer as menslike faktore. Hulle was  een deur die bloed van Christus. En ‘n sterker band was daar nie (Johan Cilliers). Die eerste Christen gemeente se één wees in Christus was sigbaar in hul matelose ekonomiese verantwoordelikheid en absolute ekonomiese beskikbaarheid vir die ander lede van die liggaam van Christus (Ronald Sider). Hulle het letterlik alle aardse besittings met mekaar gedeel. Niemand het te veel of te min gehad nie. En tog het die eerste gemeente se lidmate hul besittings vrywillig met ander gedeel. Die teks veronderstel geensins dat privaatbesit belet was nie.

Dit is juis in hul eenheid en mededeelsaamheid; in hul bevryde ekonomiese verwantskappe (Sider) dat dié gemeente gegroei het; dié waardes was aansteeklik (sien ook Handelinge 6:7). Iets van ‘n basiese missionêre diakonaat (geïntegreerde Woord en brood bediening) word in die eerste gemeente  sigbaar. Terloops, Koos van der Merwe (Eden gemeente in George) het my onlangs van ‘n meningspeiling onder Eden lidmate vertel. Die gemeente se sorg en uitreik na ander  is aansteeklik en trek gelowiges om lidmate van die gemeente te word. 

Volgens Paulus het die intieme gemeenskap binne die liggaam van Christus konkrete ekonomiese implikasies. Hy gebruik dieselfde woord koinonia wanneer gelowiges geld onder mekaar verdeel (Sider). Dit gaan nie meer net oor onderlinge sorg binne een gemeente nie, maar gelyke sorg (I Kor 12:25) en finansiële ewewig (2 Kor 8: 14) tussen gemeentes.

Dit is so dat ons vandag in baie meer ingewikkelde samelewingstrukture leef. Die sosio-maatskaplike, politieke en ekonomiese strukture van die eerste eeu na Christus was anders. Ons sal die uitdagings wat die Skrifdeel stel met die oog op  die hedendaagse konteks probeer “vertaal” (David Bosch). Miskien is dit goed om daaraan herinner te word dat die eerste Christengemeente ook anders met mekaar omgegaan het, as wat die heersende kultuur was.

Die teks gee nie ‘n bloudruk hoe om ons gemeentelewe te organiseer nie, maar wel “vertaalde” waardes en beginsels. Die interpretasie van die teks met die oog op vandag, loop die gevaar om dit geriefshalwe te vergeestelik of om dit letterlik net so van toepassing te maak. (Vals vorms van kollektiwisme staan in die pad van ‘n meer menslike samelewing – Robert Vosloo.) Els pleit vir ‘n geloofwaardige balans tussen die twee posisies, veral in die lig van brandende kwessies soos grondhervorming, restitusie, regstellende aksie en armoede. Sjoe, die versoeking is groot om dié waardes van die teks te vergeestelik dat dit geen prys vra en praktiese implikasies inhou nie en selfsug en eiebelang handhaaf. Die koste is hoog vir ‘n gemeenskap om ras, klas en kultuur grense te breek en om jou hart vir armes te gee.

Ek kan nie anders as om aan die sonde van rasgesentreerde gemeentes te dink nie en dat dit finansiële ongelykheid meebring en voortsit. Die gaping tussen ryk en arm gemeentes is hoofsaaklik rasgebonde. Dit kom vir my bra onchristelik voor.  Terwyl ek een maal per maand in ‘n buitewyk saam met medelidmate erediens in ‘n ongebruikte kleedkamer langs ‘n ruwe rugbyveld hou, ry broers en susters van dieselfde kerkfamilie verby na ‘n kerkgebou met moderne geriewe. Op pad ry hierdie lidmate verby nog tannies en omies met spoggerige hoede en kinders met hul beste klere aan. Hulle is ook van dieselfde kerkfamilie maar stap in stof na ‘n skool klaskamer vir hulle erediens. Terloops, almal praat Afrikaans.

  • Daarom glo ons “dat hierdie eenheid van die volk van God (Fil 2:1-5)  op ‘n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar liefhet (1 Kor 12:4-31), gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen (Joh 13:1-17); daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee 1 Kor 1:10-13); daarin dat ons een geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het (Ef 4:1-6; Ef 3:14-20)” (Belydenis van Belhar) en;
  • Jesus die hoof van die kerk stuur ons “om met openheid onvoorwaardelik diensbaar te wees in die wêreld. Ons wil graag met alle ander Christene hande vat om ons samelewings op te bou en pynlike omstandighede te verlig. Ons wil mekaar as gemeentes en leiers met liefde aanspoor, begelei en toerus om by die genesing van ons land betrokke te raak. Ons is beskikbaar en is verbind tot diens aan gemeenskappe. Ons dank die Here vir die toewyding van lidmate en die talle positiewe aksies waarvan ons oral hoor. As gestuurde gelowiges is ons sout van die aarde en lig vir die wêreld. Ons staan in diens van die koms van God se koninkryk (NGK Roepingsverklaring 2007).
  • Dalk kan ons gemeente iets by Fourie Rossouw (Welvaart met ‘n angel) se “groen gedagtes” leer. Hy vra: Moet elke Suid-Afrikaner, almal van ons, nie begin dink aan ’n manier van leef wat waarde toevoeg, herstel en opbou en wat weet wanneer genoeg regtig genoeg is nie? … Dalk is daar ’n derde weg. ’n Heel nuwe manier van leef. ’n Gans ander alternatief waar die woord “groei” nie net in monetêre terme verstaan word nie, maar geïntegreerd, organies, aards, volhoubaar en verantwoordelik. Wat die wêreld nodig het is ’n groei in die rigting van ’n groen middelklas. ’n Manier van leef wat waarde toevoeg, wat herstel en opbou en wat weet wanneer genoeg regtig genoeg is. Hier in Suid-Afrika, waar die lewe vir die mens begin het, het ons, die kinders van die somer¬reën, die seuns en dogters van die koue Benguela en die warm Mosambiek, die broers en susters van die fynbos en die veld, die medereisigers van die olifant en die leeu, ’n kans om die wêreld te wys hoe hierdie leefstyl lyk. Dit is in ons DNS ingeweef, as ons net kan loskom van die betonkultuur, die kommin Toskaanse argitektuur en die behoefte om alles behalwe “Afrika” te wees. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2009/03/28/BJ/15/BStoryA-BY-BY-BY-BY-BY.html Dit is by ons nie noodwendig in ons DNS ingeweef nie – wat maak dat ons op ‘n heel ander manier leef nie, maar dit is waarskynlik in ons BMX – band met Xp (Christus) ingeweef.
  • In Joubert se rubriek: Jan-Jan Joubert: Kies die gedeelde bo die verdeelde lees ek sy positiewe refleksie op die KKNK: … En met die kraan van eksklusiewe etniese verdeeldheid wat in hierdie verkiesingstyd weer deur vele partye oopgedraai word, is dit goed om te sien hoeveel Afrikaanse mense, onafhanklik van hoe die buitewêreld ons steeds as bekrompe tipeer, al meer kies om bo die skeidslyne van die verlede uit te styg en die gedeelde in ons land rigtend te vind, eerder as die verdelende. http://jv.news24.com/Rapport/Rubrieke/0,,752-801_2499944,00.html.   As kultuur- en sport-liggame iets reg doen deur die gedeelde bo die verdeelde te kies, waarom sukkel die liggaam van Christus  so met verdeelde belange?

Christengemeenskappe getuig nie net van “‘n lewe-met-die-ander nie”, maar ‘n “lewe-vir-die-ander” (Vosloo). Ons word tot selfverloëning en offervaardigheid opgeroep en om goed te doen en reg te soek. Ons word gestuur om mekaar oor en weer die spoorlyn,  geestelik en materieel  te bedien, te verryk en te seën.

  • En so aan die einde van my gedagtes, ‘n stukkie kougom: As Christians, as those who are required to look to the interests of others before our own, who are required to have a particular eye for the outsider, how can we decrease the proliferation of cliques that are so prevalent in Christian community? How can we work to form friendships that have a missional mindset, a mindset that is focused on being a blessing to others, rather than just being blessed? On a lighter note, what not to say:

cartoon

www.cartoonstock.com/…/mly/lowres/mlyn211l.jpg

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister PowerPoint

Geen verdere Preekriglyne uit argief beskikbaar