Tweede gedagtes: Luk 1:47-55

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Ons dra God ín ons

God hou baie van gewone mense.  Dis waarom Hy so baie van ons gemaak het.  So sê iemand nou die dag.  En ons weet almal sommer hy is reg.  Ja, God dink inderdaad baie van ons.  Ons het waarde in Sy oë, sommer hoë waarde.

En nou met Kersfees aan die kom, kan ons gewone mense ons ook aan iets anders herinner:  dat God ‘n gewone mens, Maria, gekies het om Hom in haar te dra.

En dis waaroor vandag se preek gaan, hier op die vooraand van Kersfees, terwyl ons in Advent is:  God het elkeen van ons gewone mense gekies om Hom in ons te dra. 

En dis wat ons ons vandag kan afvra:  Hoe gedra ons ons met dié dat ons God in ons dra?

Wat nou wonderlik is, is dat ons ‘n riglyn in die Bybel het van hoe ‘n mens jou kan gedra wanneer jy God in jou dra.  En dit is die lied wat Maria sing wanneer sy weet dat sy Jesus verwag.  Dis vir ons opgeteken in Lukas 1:46-55.

En dis nogal besonders dat ons hierdie lied van Maria het om ons te lei.  En ons opgewonde te maak oor wat dit aan ons doen  – wanneer ons besef dat ons God in ons dra.   Matteus vertel van die geboorte van Jesus met bonatuurlike verskynsels en engele, wonderbaarlike geskenke uit die Ooste,  en politieke intriges met ‘n kindermoord.  Maria se naam word net ‘n keer of wat skrams genoem.  Markus vertel nie eers van die geboorte nie en gee nie verdere gedagte aan Maria nie.  Selfs Paulus noem Maria nie eers nie, en verwys net daarna dat Jesus uit ‘n vrou gebore is.  Maar hier in Lukas word die verhaal van Jesus se geboorte vanuit die menslikheid van mense vertel.  En die een wat aan die woord is daaroor, is die mens Maria.

God het die risiko geneem om ‘n mens te word – tussen mense.  Dit is wat Lukas vir ons wil vertel.

Só menslik en intiem is die verhaal wat Lukas vertel, dat geleerdes dink dat Lukas die verhaal by Maria self gehoor het.  En wat ons as die eerste twee hoofstukke van Lukas vandag het, terugherlei kan word na Maria self.

En so staan Maria se lied dan binne mense se ervaring, en binne ons ervaring van God in ons dra.  Van ons behoefte aan ‘n Verlosser.  En van die hoop wat God ons gebring het deur in ons midde gebore te word.

Kan ons waag om Maria se lied saam met haar te sing?  Kom ons kyk waartoe bevry haar lied ons:

1        Om God te prys (vers 46, 47:  “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser”):  Dis vir my een van die wonderlikste dinge wat Maria se lied aan my doen:  Dit herinner ons daaraan dat ons God kan prys, al is die lewe om ons donker.  Maria is swanger, ongetroud, en bitter arm.  Maar sy prys God.  Al die ellende om ons kan nie God se glans wegneem nie.  In die prysing self, lê genesing – en die hoop dat God die onverwagte sal doen – en gedoen het.  Omtrent elke sinsnede uit hierdie lied kom iewers uit die Ou Testament uit.  Die lied – wat ook die Magnificat genoem word omdat dit in Latyn die eerste woorde is wat Maria sing – prys God omdat ons ons daaraan kan herinner dat Hy groot goed in die verlede gedoen het. 

2        Om te hoop (vers 49: “omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het”):  Maria se lied staan in ‘n lang tradisie van vroue-liedere waarvan ons (ten minste) vier in die Bybel het.  Die ander is Mirjam se lied in Exodus 15, Debora se lied in Rigters 5, en Hanna se lied in 1 Samuel 2.  En in al hierdie liedere jubel die vroue – en die mans saam met hulle – omdat God nie die hoop beskaam het nie.  Dink maar aan die voorheen onvrugbare Hanna wat in haar lied iets sê soos:  As God my ‘n kind kan gee, kan Hy my enigiets gee.

3        Om hoop te doen (vers 53:  “Behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes”):  Ek dink dat, as ons God in ons dra, ons die dinge sal probeer doen wat God doen.  En waarvan Maria ons vertel:  Hy oorlaai behoeftiges met goeie gawes.  Advent is dan ook ‘n tyd om voorraadopname te maak van die goeie gawes wat ons van God ontvang het die afgelope jaar.  En Kersfees is by uitstek die tyd wat ons hoop vir ander kan doen, deur hulle behoeftes raak te sien en te help waar ons kan.

4        Om waardes te hê (omsien, ontferm, verhoog, oorlaai…):  Ja, watter waardes het ons wat God in ons dra?  Maria se lied vertel ons waaraan God waarde heg/gee:  nederigheid aan die een kant, maar aan die ander kant, aksie om die wêreld in ‘n beter plek te verander.

5        Om toegang tot God te hê (vers 54: “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming”):  Verby is die tyd dat ons deur priesters of rabbis of offerandes tot God moes kom.  Omdat Jesus gekom het, het ons vrye toegang tot God.  En ons verhouding met God is een van belofte.  En liefde.  Dit was nie onder die ander godsdienste so nie.  Die Romeine, byvoorbeeld, sou nooit daaraan gedink het om vir hulle god Zeus lief te wees nie.  Zeus sou nie aan hulle enige beloftes doen nie.  Nee, die mense moes Zeus net paai en please, sodat Zeus hulle nie verbrysel nie.  Maar met ons God is dit anders:  Ons kan lief wees vir hom.  En Hy is lief vir ons.  Hy doen beloftes aan ons, en Hy bly getrou.  Lekker om onsself in Advent daaraan te herinner.

6        Om vry te word (vers 47:  “Ek juig oor God, my Verlosser”).  God maak ons vry.  Hy verlos ons.  Dis hoekom Maria die Kind in haar “Jesus” moes noem.  Dit beteken “Die Een wat ons verlos het”.  Dis hoe Mirjam God loof in haar lied (Ex 15) nadat God hulle uit Egipte verlos het.  Dis hoe Debora God eer (Rigters 5) nadat God hulle uit die vyand se hand verlos het.  Daardie vryheid is ook ons s’n – en Kersfees wil ons daaraan herinner.

7        Om lief te hê:  Met Kersfees is Jesus Christus gebore, die Een wat die mensdom weer kom herinner het wat liefde is:  liefde tussen God en mens, liefde tussen mense. 

Mag u hierdie Kersfees God weer in u dra.  Dat u weer Maria se lied sal kan sing.

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien Preekriglyn oor Lukas 01:39-55; 46-55

Trackback from your site.

Leave a comment