Tweede Gedagtes: Luk 24:36-48

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 26 April 2009

Die vrees-monster kan oorwin word

Die evangelis Lukas maak dit duidelik dat vrees (phobos – betekende vrees, paniekerig wees/ skrik, bang wees) nie net die rede is waarom die dissipels in die bovertrek bymekaar is nie, maar dat vrees beslis die omstandighede/konteks is waarin hulle daar bymekaar is. Daarom is die groet van Jesus, “vrede vir julle” meer as geregverdig, nie net omdat dit die algemene groet van die dag was nie, maar ook omdat die dissipels bang was en dat vrede juis die onnodigheid vir vrees aandui en Jesus met dié groet hulle ook gerus wou stel. Ook sluit die groet van Jesus Sy vergifnis, van hulle mislukkings rondom die kruisiging, in (Dirk Heyneman) – preekstudie 09).

Sosioloë, teoloë, sielkundiges en politieke leiers leer dat vrees ’n werklikheid is, vrees is iets – ’n gevoel, ’n gedagte, wat in baie mense se harte, denke en siel leef. Mense oor die breë spektrum ken en weet wat vrees is, wat vrees aan ’n mens kan doen. Baie, ja veral in Suid-Afrika, die Afrika kontinent, die Midde-Ooste en oraloor sien en beleef ons die verskillende gesigte van vrees – vrees vir die dood, ons eie dood; die vrees om alleen te wees, verwerp te word; die vrees dat my lewe doelloos en sinloos of selfs nutteloos is en was, dat ek vergeet sal word. Dan is daar ook die gesig van vrees wat die angs van skuld uitdruk, vrees oor ons sondes en oor die moontlikheid van straf. Die teoloog Dirkie Smit praat ook van die vrees om te verloor, die vrees dat my onrustige hart nooit tot bedaring sal kom nie, die vrees om ons beheer oor dinge, sake en selfs ander mense te verloor.

Die bevegtinge van vrees is sekerlik nie ’n maklike stryd nie, tog is dit wel moontlik om die vrees-monster te verjaag, te verslaan en beslis te oorwin. Die moontlikheid is reeds in 1942 bevestig toe die Amerikaanse president, Roosevelt, aankondig dat hulle ondermeer, in die vryheid van vrees glo. Die vraag waarmee ons egter steeds gekonfronteer word is, hoe beveg ons vrees? Dirkie wys daarop dat sommige vrees beveg deur self eerste vrees by ander in te boesem, deur mag en kragvertoon. Ander neig om vrees te beveg deur hulle tot dwelmgebruik te wend en so die gevoel en werklikheid van vrees te onderdruk.

Lukas belig ’n ander benadering. Die een waar Jesus, Sy evangelie en die mense wat in hom glo, ’n vername en kritiese rol speel. Vrees het die dissipels verlam, vrees het hulle gedryf om weg te kruip, vrees het hulle uit die gemeenskap laat onttrek, vrees het hulle verlam, soveel so dat hulle nie met die werk van die evangelie kon en wou voortgaan nie. Vrees het hulle geheue verdof, hulle kon nie onthou dat Jesus hulle wel van die dinge vooraf vertel en gewaarsku het nie. Dus, vrees hou hulle gevange, veroorsaak dat hulle nutteloos en doelloos bly.

Jesus se verskyning help om die vrees te verminder. Jesus se teenwoordigheid help om vrees te verjaag en te oorwin. Ja die evangeliese boodskap, oftewel die evangeliese waarheid wat Jesus met sy verskyning, die wys van sy kruiswonde en die feit dat Jesus hulle sending opnuut bekragtig deurdat Hy sy kruisdood en die verkondiging van vergifnis in Sy naam aan mekaar te koppel, verminder die vrees (v.46-47). Ook die feit dat Jesus hulle herinner dat hulle Sy getuienis is (v.48), en dat Hy hulle versoek om in Jerusalem te bly totdat hulle met krag toegerus is (v.49), help om die vrees by hulle te verdryf. Dit is Lukas, die evangelie en Jesus se manier om van vrees ontslae te raak, vrees te verdryf en vrees te oorwin. Wegkruip, onttrekking, wanhoop, uitsigloosheid, geweld of die inboesem van vrees, of selfs geloof in wapens, mag en krag, die onderdrukking van vrees deur dwelms te gebruik of in misdaad betrokke te raak – is nie die manier om die vrees-monster te verslaan en te oorwin nie. Geloof in Jesus, aanvaarding van die liefdes-en-vergifnis-evangelie en ja persoonlike betrokkenheid in die verkondiging en verspreiding van die evangelie van Jesus as Here – help om vrees te oorwin.

Klink dit te dromerig, idealisties, fundamentalisties? Wel, teologies gesproke is dit ’n vertrekpunt. (afhangend van mense se vlak en graad van vrees-belewing sal sielkundige, sosiologiese, psigiese en selfs ook mediese hulp ingetrek moet word. Hierop kan ook in die preek uitgebrei word). Jesus het sy eie vrees oorwin in die tuin van Getsemane toe Hy hom tot sy Vader gewend en Hy gebid het: “Vader as U wil, neem tog hierdie lydingsbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied (Luk 22:42), en aan die kruis kon hy Hom volkome aan sy Vader oorgee: “Vader in U hande gee ek My gees oor (Luk.23:46).”

Die dissipels het egter met tyd geglo; vers 41 sê: “…toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo…” Jesus het toe meer gedoen as sy blote verskyning en die wys van Sy hande, Hy het iets saam met hulle geëet en selfs meer nog, Hy het hulle verstand geopen en die evangelie aan hulle verkondig, dit gekontekstualiseer deur dit wat hulle in Jerusalem ervaar het – die kruising van Jesus – met hulle getuieskap, hier en nou te konnekteer. En nog – hulle toe te rus en uit te stuur as draers van die goeie, maar ook vrees-verdrywende en vrees–oorwinnende boodskap.

Ons huidige politieke, sosio-ekonomiese en morele klimaat het die neiging om vrees, veral vrees vir die ander, te laat toeneem. Die onlangse NVG-uitspraak omtrent die Zuma-vervolging/nie-vervolging saak, die skeur van die ANC-party, politieke onverdraagsaamheid, die finansiële resessie, MIV-en Vigspandemie, groeiende armoede en misdaad asook geweldsyfers, is van die realiteite wat vrees laat leef.

Tog in die konteks van vrees, bring Lukas die wondernuus dat vrees wel verjaag en oorkom kan word. Jesus met sy opstanding kom bevestig dit. Jesus se uitreiking na, en sy volgehoue belangstelling in sy vreesbevange dissipels, toon en benadruk dat vrees oorwin kan word. Ja die in-diensneming van die eens vreesbevange dissipels, basuin die waarheid dat die vrees-monster met sy rowende gevolge oorwin kan word en dat ons wie dalk slagoffers van vrees is, van die vrees-monster bevry kan word. Dat ons weer ’n gesonde, vrees-vrye, doelgerigte, nuttige en vreugdevolle lewe kan ervaar, ’n lewe wat aan Jesus, Sy evangelie, Sy skepping en Sy mense toegewy is. Amen.

Donald Katts

Seisoen van Luister PowerPoint
Geen verdere Preekriglyne uit Leesrooster-argief beskikbaar.

 

Trackback from your site.

Leave a comment