Tweede gedagtes: Mat 16:13-20

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Ons hoop hierdie aantekeninge gaan jou hierdie week help in jou
nadenke oor hierdie teksgedeelte asook die spesifieke preekstudie.
Indien jy enige verdere gedagtes/voorstelle het, hoor ons graag van
jou.  Laai die week se Seisoen van Luister PowerPoint aanbieding hier af.

AANTEKENINGE BY MATT 16:13-20 

  • Ons
    is nog in die proses om die “formaat” van hierdie bydraes uit te
    sorteer in terme van lengte, inhoud en dies meer. Maar soos ek dit
    verstaan, is die doel van dié pogings om veral by die derde afdeling
    van die preekstudies (die homiletiese deel) ‘n paar opmerkings te maak
    wat verder met die aktualisering van die teks kan help. Meeste van die
    studies is ‘n jaar gelede geskryf, voorbeelde wat gebruik is,
    toepassings wat gemaak is, kan dus reeds gedateer wees.
  • Ek dink die skrywer van die preekstudie vat in die heel eerste paragraaf  van
    sy studie die kernmomente van die teks vas as hy noem dat dit veral oor
    twee sentrale identiteitsvrae gaan: Wie is Jesus en wie is die kerk?
    Die antwoord op beide vrae word ten diepste deur mense se konteks
    bepaal. Jesus en die dissipels se eerste eeuse konteks (met die
    voorrang van die groep bo die individu) en óns konteks (met die
    voorrang van die individu bo die groep) kleur ons antwoorde dikwels
    onbewustelik (vgl. die dissipels se verkillende antwoorde – Johannes
    die Doper, Elia, Jeremia).
  • Terwyl
    ek hierdie aantekeninge skryf, is ek saam met die M Div-klas van
    Stellenbosch in Kleinmond (waar daar terloops ‘n week gelede die
    tragiese moord op ‘n bejaarde egpaar plaasgevind het). Ons is besig met
    ‘n “healing of memories” werskwinkel waar ons die hulp het van ervare
    fasiliteerders van die “Institute for the Healing of Memories”. Die
    doel van die werkswinkel is om die studente te help om hulle verhale in
    kleingroepies vir mekaar te vertel. Maar dié verhale word vertel teen
    die agtergrond van die politieke en ekonomiese situasie van die tyd en
    land waarin hulle groot geword het. In die groep is daar swart en wit
    studente, uit die VGK, NGK, Presibiteriaanse Kerk, Lutherse Kerk en
    onafhanklike kerke. Daar is ook vier studente uit Duitsland. Die
    ouderdomme van die studente wissel tussen 23 en 53. Dus ‘n diverse
    groep met diverse agtergronde – kinders van beide “perpetrators” én
    “victims”, verhale van eer en skaamte, van gedurende en ná apartheid.
  • Die
    verhale wat hulle eers op ‘n groot stuk papier moes skets en dan in ‘n
    kleingroep moes vertel, gaan oor elkeen se identiteit (wie is jy?),
    maar ook oor die gemeenskap en veral oor die geloofsgemeenskap (wie is
    die kerk?) waar hulle groot geword het. Die volgende vraag wat hiermee
    verband hou, is hoe hierdie geloofsgemeenskap se lewe en werk deur die
    groter gebeure in die land geraak is? In hierdie verhale is daar ‘n
    paar interessante goed wat na vore gekom het. Ek noem ‘n paar wat dalk
    met die aktualisering van die preek kan help.
  • Eerstens,
    is daar die onderliggende behoefte by elkeen van ons om groter
    klarigheid oor hierdie “wie” te kry, maar dit is baie duidelik dat ons
    almal daarvoor terugdeins. Selfs net om te begin om ‘n skets van jou
    verlede te maak, of ‘n aspek daarvan te herbesoek is nie eenvoudig nie.
    En dit bring my by ‘n tweede aspek van ons besig wees met dié soeke na
    identiteit, en dit is naamlik dat daar dikwels baie pyn in hierdie
    verhale opgesluit lê. Verskillende vorme van pyn – die pyn van
    menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van wat sisteme van
    onderdrukking en geweld aan mense gedoen het, die pyn van sonder een óf
    albei ouers groot te word, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn
    van verwyte en agressie, die pyn van stereotipering, die pyn van
    uitsluiting en marginalisering, die pyn van verbrokkelde gesinne en
    afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n
    verskeidenheid van maniere.
  • Dit
    lyk vir my, behalwe vir die terapeutiese waarde van pyn wat in
    vertroulikheid met ander gedeel word, lê die betekenis van hierdie tipe
    van aktiwiteite ook op ‘n paar ander vlakke. Die studente leer mekaar
    se agtergronde beter ken, ontwikkel begrip en sensitiwiteit vir dit wat
    positief én negatief hulle lewens- en geloofsvorming beinvloed het.
    Hulle leer om mekaar se kwesbaarheid (mekaar se eer en skaamte) te
    beskerm, hulle leer om te luister – om mekaar se vreugdes, hartseer en
    vrese te hoor. Daar vind “bonding”, “bridging” én “linking” in terme
    van sosiale kapitaal plaas. “Belonging, believing and behaving” kom op
    interessante maniere bymekaar uit.
  • Ek
    dink dit is presies op hierdie punt wat Matt 16:13-20 ‘n sleutelrol in
    dié hermeneutiese proses kan speel, want ons soeke na identiteit (deur
    ons besig wees met die verlede) kry ‘n nuwe fokus as ons dit op ‘n
    kreatiewe manier verbind aan die twee onderliggende vrae wat die teks
    op die tafel plaas: Wie is Jesus en wie is die kerk? Anders gestel: as
    ek my vir ‘n oomblik in Petrus se skoene moes plaas, wat sou ék
    antwoord op Jesus se vraag: Wie sê jy/julle is ek? En wat sou Jesus van
    mý belydenis sê. In die lig van die teks lyk dit vir my of ons eers
    klarigheid begin kry oor “wie ons is”, as ons geantwoord het op die
    vraag “wie Jesus is”? My eie menswaardigheid kry nuwe betekenis as die
    besef by my deurdring dat God die mens waardig geag het om onder ons te
    kom woon. Meer as dit, dat Hy as Seun van God ons menswaardigheid kom
    herstel het. Wie ek dus “in Christus” is (Paulus), bepaal ten diepste
    my identiteit, my keuses en my gedrag – my “believing, belonging and
    behaviour”.
  • Die
    rede waarom dié vrae belangrik is? Ons weet mos uit ervaring dat ons
    beeld van God en van Christus, ons beeld van die mens en van die kerk
    bepaal. Christologie, antropologie en ekklesiologie is hier
    onlosmaaklik aan mekaar verbonde.
  • In
    ‘n tyd van transformasie, van liminaliteit, van onsekerheid en
    xenofobia is dit noodwendig dat ons dié vrae vra. En dit is gewoon nie
    wys om so vinnig as moontlik die spreekwoordelike gate wat ons in ons
    agterplase gegrawe  het (foute van die verlede,
    apartheid, ongeregtigheid) te probeer bedek nie – ons kinders en
    kleinkinders gaan in daardie gate val. Daar is genoeg voorbeelde van
    lande waar dit met slegte gevolge gebeur het, dalk op die oomblik besig
    is om te gebeur, as ons maar net aan Zimbabwe dink. Op die lang duur
    werk dit nie. Daar is natuurlik ander uitweë om verby hierdie
    hindernisse te probeer kom – Australië, die VSA en Engeland kan dalk
    vir ‘n tydjie ons laat glo dat ons verby dit gekom het. Die ongeluk is
    egter, waar daar nie ‘n “healing of memories” plaasgevind het nie, het
    dié verhale ‘n manier om jou selfs na hierdie lande te agtervolg. Een
    of ander tyd haal dit ‘n mens in en moet jy noodgedwonge daarmee deel.
  • Een
    van baie aktuele voorbeelde wat ons sou kon gebruik, is die tragiese
    gebeure van die vier seuns van Waterkloof wat verlede week 12 jaar
    tronkstraf gekry het. Ons almal weet dat hulle misdaad binne ‘n groter
    sisteem verstaan moet word. Die onderliggende rassisme wat in baie
    ouerhuise nog aan die orde van die dag is, het dikwels hierdie tipe
    optrede tot gevolg. Die tragiek is, ons herken dit so pynlik in ons eie
    lewens – daarom waag ons nie om die “eerste klip op te tel nie”.
  • Ander
    bronne wat ons moontlik verder in ons nadenke kan help is onder andere:
    Ernst Conradie se boekie “Christian Identity”; Castells se “The power
    of identity”; ‘n onderhoud wat ‘n verslaggewer van Die Burger met Deon
    Snyman op 1 Augustus (van die Institute for Restitution) gevoer het;
    die nuutste uitgawe van die VGK se koerant met die veelseggende opskrif
    “The Tears of Xenophobia” met ‘n verskeidenheid artikels wat spesifiek
    met die identiteitsvrae worstel; Coenie Burger se publikasie “Ons weet aan wie ons behoort” (Lux Verbi).

 Ian Nell

Trackback from your site.

Leave a comment