Tweede gedagtes: Ps 119:33-40

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

 Jan Steyn help ons
werklik hierdie week met sy deeglike vers-vir-vers eksegese om ’n kykie
in die hart van die psalmdigter te kry.  Ek hou veral van die wyse
waarop hy vir ons daarop wys dat die psalmis bewus is van die
beperktheid van sy eie insig en dat sy leerbaarheid gepaardgaan met ’n
wantroue in sy eie oordeel en insig.  Hy wys ons ook daarop dat die
psalmdigter nie die weg van die Here op ’n moralistiese wyse wil volg
nie, maar vanuit liefde vir die God van die weg.  Hierdie liefde spruit
uit die diep oortuiging dat die Here dit met hom goed bedoel en dat die
wet en woord van die Here daar is as “God’s way for his people to be
happy” (Lewis) en ook dat “the commandments liberate and give people
space in which to be human”.  Ps 119 bepleit dus nie ’n aanbidding van
die Torah nie, maar ’n van die Here na wie die Torah heenwys. (Vergelyk ook die Seisoen van Luister PowerPoint/Word aanbieding wat jy direk van hierdie link kan aflaai)

  • As
    ek hierdie week na Ps 119:33-40 kyk, is dit met die konteks van ons
    gemeente se Dankfees eerskomende Sondag.  Die aansluiting vind ek by
    dit wat ek in die psalm hoor as kenmerkend van ’n dankbare mens,
    naamlik openheid voor God, eerlikheid met jouself, leerbaarheid, ’n
    leef na buite (teenoor ’n lewe van selfsug oftewel die “begeerte om
    myself te verryk”) en ’n soeke na ’n betekenisvolle (teenoor ’n
    “nuttelose”) lewe.
  • Ek
    is veral uitgedaag deur die begeerte van die psalmis om te leef op die
    weg wat God aanwys en die kontras met ’n “nuttelose” lewe.  Ek meen om
    aan te sluit by die vraag wat ‘n mens se lewe sinvol maak.  Ek sal wil
    gebruik maak van die terme in Bob Buford se boekie “Halftime” waarin hy
    praat van die beweging van ’n lewe van sukses na ’n lewe van betekenis
    (“the move from success to significance”).  Daar is ’n verskil tussen
    ’n “inheritance”/erfporsie wat jy in materiële terme agterlaat vir jou
    nageslag en ’n “legacy”/nalatenskap wat die wyse is waarop dit ’n
    werklike verskil maak dat jy hier was/is.  Ek verwys graag na die
    storie van die groepie nonne wat op ’n uitstappie na die Grand Canyon
    gegaan het.  By een uitkyk punt het almal uit die bus geklim en
    rondgekyk en toe weer teruggeklim.  Voordat die bus weer kon vertrek,
    het een van die nonne egter weer uitgespring en tot by die uitkykpunt
    gehardloop, ’n groot klip opgetel en op ’n ander plek neergesit.  Toe
    haar vriendinne vra wat sy gedoen het, was haar antwoord:  “Ek hou
    daarvan om ’n plek anders agter te laat as wat ek hom aangetref het.” 
    Die vraag is natuurlik hoe jou teenwoordigheid ’n plek (of ’n
    verhouding) anders agterlaat.
  • Die
    OAV sê in v 37 “wend my oë af, sodat hulle geen nietigheid sien nie”. 
    Dit het my laat dink aan hoe ons soms vir iemand van die agtersitplek
    sal roep “moenie ry waar jy kyk nie, kyk waar jy ry!”  Mens ry waar jy
    kyk.  Watter diepste waardes en prioriteite is vir jou belangrik?  Dis
    soos ’n besemstok wat jy op jou hand balanseer, as jy opkyk na die
    bopunt, hanteer jou handpalm die onderpunt vanself reg ten einde die
    stok te balanseer.  Dis as jy jou oë ondertoe “wend” dat die stok omval.
  • Die
    eerlike selfondersoek van die psalmis tref my diep.  Mens kry so min
    daarvan deesdae, selfs by gelowiges.  Wanneer laas het jyself grondig
    van mening verander?  Of op die punt gekom dat jy vir iemand gesê het: 
    “Ek het verkeerd gedink hieroor.  Ek is oortuig en dink nou anders
    hieroor.”  Of wanneer laas het jy iemand anders dit hoor sê?  Ons is
    swak met eerlike selfondersoek en leerbaarheid.  As beeld daartoe kan
    ek vertel hoe ek onlangs die wonder sowel as die frustrasie van ’n GPS
    ontdek het.  Ek was op pad na ’n skool, Reddam House, in Constantia. 
    Toe ek amper by Groenpunt is, toe begin ek wonder.  Ek trek toe af en
    begin wonder: Hoe’t ek hier beland? Ek is summier kwaad vir die mense
    wat die kaarte in hierdie goed invoer.  Want duidelik is hierdie GPS
    verkeerd.  Ek het ook besluit dat ek nooit weer hierdie toestelletjie,
    hoe sensueel die dame ook al vir my sê “by die volgende verkeersirkel
    draai regs”, sal vertrou en blindelings sal volg nie.  By nadere
    ondersoek kom ek toe wel agter dat daar ’n Reddam House is in
    Constantia én ’n Reddam House is in Groenpunt!  Die GPS makeer toe niks
    nie.  Die uwe wat die punt ingevoer het waarheen hy wou ry, het toe wel
    iets makeer!  Ek het geleer dat as jy op ’n verkeerde plek beland, vat
    ’n oomblik en dink net ’n bietjie of jy nie dalk ’n aandeel daaraan het
    nie.  Of jou invoere nie dalk verkeerd was nie.  In plaas van die skuld
    op almal en alles behalwe jouself te plaas, gebruik die geleentheid om
    ’n stukkie eerlike gesonde selfondersoek te doen.
  • Wees
    bereid om te vra “wie is ek regtig voor God”?  As buite rekening gelaat
    word my status in die gemeenskap, my bevordering by die werk, die
    sukses van my partytjies, my prestasies op skool of op universiteit,
    die mooi huis waarin ek bly met die mooi tuin, die prestasies van my
    kinders, die ekstra vetjies in my bankrekening, selfs wat ek vir God in
    die kerk doen, IS EK DAN LIEF VIR HOM?  As God se lig sou val op my
    diepste motiewe, op my verhoudinge en dit waarmee ek my besig hou buite
    die soeklig – wie is ek dan?
  • Die
    wonderlike is dat ek maar mag toelaat dat die Woord en die wet van die
    Here my so oopsny.  Want die Woord word wel in die Nuwe Testament ’n
    swaard genoem, maar dis nie ’n swaard om te dood nie, maar eerder ’n
    skalpel wat genees.  Iemand wat in die liefde en vergifnis van God
    leef, kan dit juis bekostig om eerlik te wees met hom/haarself.  Want
    dis die God van tweede kanse en nuut begin.   


  logo_mkJohan van der Merwe NG Moedergemeente Stellenbosch 021 883 3458 (kantoor)082 940 3319 (sel)086 682 7228 (faks)  

Trackback from your site.

Leave a comment