{ARGIEF}

23 Junie 2013: Vyfde Sondag in Koninskrykstyd ~ 1 Konings 19 ~ Ons verhouding van vernuwing
Ons lees hier in 1 Konings 19 ‘n wonderlike verhaal. Die verhaal is ‘n tweegesprek tussen God en Elia. Dis die verhaal van ‘n verhouding tussen God en sy profeet. Die verhouding is een van vernuwing. Die profeet is moeg en moedeloos. Maar God gee nie op hom op nie. God vernuwe Elia.
Hierdie is een van die mooiste verhale in die Bybel. Kom ons loop weer saam daardeur. Dit sal ons beslis nuwe hoop gee.
Elia vlug voor Isebel weg nadat hy haar Baälprofete doodgemaak het. Sy het hom laat weet sy gaan hom doodmaak. Die hele episode het hom uitgeput. Hy het nou wel die vals profete doodgemaak, maar wat het dit gehelp? Isebel bly in beheer, en hier vlug hy maar net weer vir sy lewe. Hy is bang. Vrees en uitputting jaag hom na Berseba. Dit is die heel suidelikste punt van Judea, en die verste moontlike plek weg van Isebel wat in die Noordryk regeer. By Berseba begin die woestyn waar niemand kan leef nie, maar Elia stap ‘n dagreis ver die woestyn in. Verder as dit kan hy eintlik nie weg nie. Hy gaan sit onder ‘n besembos – dis al wat daar is om onder te sit – en wens hy gaan dood. Nou praat hy met God. Hy sê dit vir God: Laat my doodgaan.
God sê niks, maar stuur vir Elia ‘n boodskapper. Die boodskapper redeneer nie met Elia of dit nou ‘n goeie ding is om op te gee of nie. Hy vat hom nie op ‘n “guilt trip” nie. Die boodskapper bring gewoon vir Elia iets om te eet en te drink. Isebel het vir Elia ‘n boodskapper van die dood gestuur;  God stuur vir Elia ‘n boodskapper van die lewe.
Of is dit regtig ‘n boodskap van lewe? Die boodskapper stuur Elia na die Berg Horeb, dit is, die berg Sinai. Daarvoor moet Elia nog veertig dae en veertig nagte verder suid deur die barre woestyn trek. En soos dit is, is Elia reeds uitgeput en siek vir die lewe.
By die berg aangekom, gaan sit Elia in ‘n grot. Nee, hy sien homself beslis nie as ‘n tweede Moses wat triomfantlik die berg gaan uitklim om God te ontmoet nie. Al wat hy vir God te sê het, is dat God tog net ‘n einde aan sy lyding moet maak.
Maar God is nog lank nie klaar met Elia nie. Nou praat God met Elia: Wat maak jy daar in die grot, Elia? Wat is die probleem?  Praat met My. Ek kan sien jy het pyn.
Dis nogals wonderlik van God, om vir Elia ‘n kans te gee om te sê wat in sy hart is, om te kan erken hy het pyn en wat dit veroorsaak. Nou praat Elia uit. Here, ek het my alles vir U gegee. Toe al die Israeliete U versaak het, het ek alleen getrou gebly. Maar wat het dit gehelp?  Nou soek hulle my om my dood te maak.
En nou kom God die Vernuwer, God die Bemagtiger na vore. God praat met Elia:  Kom uit jou grot uit, en klim tot bo op die berg, en staan voor My. Daar is ‘n sterk wind. Dan ‘n aardbewing. Dan ‘n vuur. Al die verskynsels waarin mense gewoonlik vir God soek. Maar God is nie daar nie. God was in die stilte.
En nou vra God weer vir Elia:  Weet jy nou waarom jy hier is, Elia?  Ek werk nie op voor-die-hand-liggende maniere nie. Jy dink nog Ek is in die wind of in ‘n aardbewing of in ‘n vuur. Maar dan is Ek in die windstilte. En netso dink jy alles is verlore en dat Ek jou verlaat het … maar Ek is juis hier om vir jou ‘n nuwe pad te wys, ‘n pad vorentoe.
Elia kla nog eers weer ‘n slag. Dieselfde klagte. Hy het sy alles gegee terwyl almal anders God verlaat en agter Baäl aangeloop het. En wat het dit hom gebaat? Hy vrees vir sy lewe.
Maar God is daar om Elia te vernuwe en te herontplooi. Elia moet na Damaskus gaan om Gasael te salf as koning van Sirië, en Jehu as koning van Israel … en Elisa as sy opvolger.
En God maak Elia se oë oop dat hy die hoop kan sien. Daar is nog 7000 Israeliete oor wat nie vir Baäl aanbid nie. Sewe en ‘n duisend is beide simboliese getalle om volmaakte getalle aan te dui. Elia is nie alleen nie, daar is nog genoeg van God se mense oor.
Elia gaan dan en gooi sy kleed oor Elisa terwyl hy besig is om te ploeg. Elisa kom uit ‘n ryk familie. Maar na hy geroep is, slag hy sy osse en braai die vleis oor ‘n vuur wat hy met die juk gemaak het. Hy gee die vleis vir sy werksmense. Hy groet sy ma en pa. Hy neem afskeid van ‘n sy ou lewe en gaan ‘n nuwe een tegemoet waarin Elia sy mentor sal wees.
Wat maak ons nou met hierdie verhaal? Dis ‘n verhaal waarin God met deernis na sy uitgebrande profeet kyk wat nie meer wil lewe nie en geen sin in die toekoms meer sien nie. God luister na ons pyn. God het simpatie met ons opstand, met ons afstand. Maar uiteindelik vernuwe God ons en maak die toekoms oop.
Dis nogal ‘n belangrike boodskap in hierdie tye. God is voor ons om ons te lei. Maar God is ook agter ons om ons op te tel wanneer ons dalk val. En God is langs ons om te luister wanneer ons pyn het, en moedeloos is, en nie meer die toekoms kan raaksien nie.
Dit is wat ons hoop gee in hierdie dae:  dat ons ‘n verhouding van vernuwing met God het. God is nie die een wat ons gedurig aan ons miskien slegte verlede herinner nie. God is nie die een wat altyd die roede op die agtergrond hou, reg om ons te straf nie. God lei ons die toekoms is. God tel ons op en hou ons staande. Meer nog, God laat ons nie net staan nie, hy vernuwe ons, en gee ons insig en energie vir die toekoms, en ‘n “hint” waar die pad heen lei.
Christina Landman
Preekriglyn in Argief
Seisoen van Luister PowerPoint