{ARGIEF}

16 Junie 2013 ~ Vierde Sondag in Koninkrykstyd ~ 1 Kon 21:1-14
Grond en die eienaarskap daarvan is een van die mees emosionele en belangrike etiese en politieke kwessies waarvoor SA en die wêreld staan. Die verhaal van Nabot se wingerd is ʼn “gelykenis” wat elke profeet, elke gelowige, die kerk en die wêreld tot verantwoording roep.
Hier is ʼn ware toets vir profetiese geroepenheid en prediking! Wie is bereid om oor die teks te preek en dit toe te pas om die ontsaglike probleem en uitdaging eerlik aan te sny?
Die koninkryk van God bring vrede. Vrede word op geregtigheid gebou. Sonder geregtigheid het niemand ʼn veilige toekoms nie. 16 Junie is Vadersdag. Kinders en kleinkinders en agterkleinkinders sal nie vrede of ʼn toekoms hê as die saak nie hanteer word nie.
Die drie spanningslyne wat in die eksegese vermeld word kan goedskiks die basis vorm van jou preek. Niemand in ons land staan los van die vraag oor grondeise nie. Waar trek jy die streep? 1936 (Google “Hertzog Native Trust and Land Act”) of 1913 (Google “Land Act”) of moet jy verder teruggaan en die grond aan die Khoi-San en Khoi mense teruggee? Die wyse waarop die ANC tans die saak hanteer is so sleg indien nie erger as enige van die vorige vergrype nie. Hulle hanteer dit as ʼn politieke oorlewingsmeganisme en gee ondanks al die retoriek nie om vir die armes nie. As jy nagaan hoeveel geld in die proses gesteel en gemors is, besef jy die erns van korrupsie.
Die teologiese beginsel wat op die spel is, is die eenvoudige waarheid dat die aarde en grond aan God behoort. Dis sy skepping en ons is die trustees daarvan (Gen 1). Google of kyk in jou boekery onder jubeljaar (Jubilee) en na die Skrifbeginsel dat na elke 7 en 49 jaar skuld vergewe moet word, land teruggegee moet word. As jy enigiets van Walter Brueggemann het, lees wat hy hieroor skryf. Die beginsel is: enige volk wat nie armoede in sy midde beveg nie, werk aan sy eie ondergang. Vir millennia was grond nodig om te bestaan. Jy leef van jou grond en sy opbrengs. Ons leef egter nie meer in ʼn agrariese samelewing nie… daar was ʼn eeu van industrialisasie gevolg deur die informasie-era en ʼn wêreldbevolking wat oor die 7 biljoen gegroei het… en hou aan groei as gevolg van armoede. Dis ʼn wêreld wat teen ʼn spoed verstedelik. Sonder kommersiële landbou is daar vir niemand op die planeet kos en vrede in sig nie. Erger: ons leef ook in ʼn globale neo-liberale ekonomiese sisteem wat rykdom en armoede skep. Dit is ʼn veel ingewikkelder prentjie as om net vir mense stukkies grond terug te gee. Nogtans: wie nie armoede aanspreek nie, werk aan sy eie ondergang. As sistemiese geïnstitusionaliseerde onreg tot die armoede ly, is alles soveel erger, soveel gevaarliker.
Jy kan eintlik nie die preek preek sonder om die Accra belydenis te lees nie. Die sistemiese probleem wat miljoene Nabot–mensies se lewe op ʼn totaal onetiese manier met Isebel-truuks afneem, skree ten hemel. Die kerk en mens wat Jesus volg, moet Luk 4: 18 en 19 laat gebeur. Dit is ʼn toets vir kerk wees en Christenskap. Ek dink dis weer tyd vir ʼn status confessiones!
Wat preek jy? Jou kinders en kleinkinders sal net kan glo as jy die waarheid oor onreg nie verswyg nie. Net as ons opkom vir die waarheid sal dit jou en jou nageslag vry maak. Sagaria 4:10 sê: moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die probleem is groter as wat enige prediker-profeet self kan hanteer. Maar die Gees van God kan mense in beweging bring en mense kan mense wat arm en weerloos is, help. Groot dinge begin klein. In gemeentes.
Jurgens Hendriks
Preekriglyn in Argief

Seisoen van Luister PowerPoint