Verder geluister: Heb 10:11-25

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 15 November 2009: Hebr 10:11-25

Hebr 10 is `n besondere ryk en betekenisvolle gedeelte – beslis een van die mooiste en mees geliefde perikope in die hele Hebreërboek.  Daar is `n veelheid van perspektiewe in die gedeelte, veel meer as waaraan `n mens sou kon laat reg geskied in een preek. 

1.  Aktualiteit

By die lees van Jan Cloete se stuk in die Leesrooster en `n paar kommentare het ek net weer besef dat ons goed sal doen om hierdie besondere boek deeglik te lees in ons tyd.  Die argumentering in die middel van die boek – die vergelyking van Christus met die Joods- Mosaïese godsdiens – kan `n moderne mens wat nie veel van die Joodse wêreld weet nie, verdwaal laat voel.  Dit kan ook die indruk by jou laat dat die boek uit `n totaal ander wêreld as ons s’n kom en waarskynlik ook vir `n ander wêreld as ons s’n bedoel is. 

Dit sou `n fout wees om so te dink.  Die groter probleem agter die boek, nl twyfel oor die grootheid van Christus en die werklike verskil wat die Christelike geloof aan mense se lewens kan maak, is uiters aktueel ook in ons tyd.  Ek het die laaste ses maande `n hele paar gesprekke met lidmate gehad presies oor hierdie vraag.  In ons Afrikaanse gemeenskap is ons nou op die punt waar (van buite die kerk en van binne!) kritiese vrae oor die geloof en selfs oor die grootheid en uniekheid van Christus met `n sekere venyn gevra word. Mense vra skerp vrae oor die geloof en jy kan agterkom dat baie van hulle ernstig begin wonder oor Jesus… Is Hy regtig so wonderlik, so groot, so uniek as wat ons geleer is?  Het ons nie nog altyd te veel van Hom en van die hele geloof-storie verwag nie?  Hierdie is die vrae wat ook agter die Hebreërboek lê – al kom dit uit `n totaal ander hoek as die vrae van ons dag. 

Ons sou waarskynlik nog `n parallel kon trek. Soos in ons geval het die twyfel destyds ook te doen gehad met twee faktore.  Aan die een kant was daar mense wat ander gedagtes oor God en geloof gehad het as die Christene.  In die geval van Hebreërs was dit mense wat openlik begin verkondig het dat die nuwe Joodse sekte rondom Jesus van Nasaret nie regtig die waarde van die oorspronklike Joodse geloof oortref het nie – inteendeel.  `n Groot deel van die Hebreërskrywer se argumentering is bedoel as `n antwoord op hierdie bewerings.  Daar was egter `n tweede rede – waaroor minder opsigtelik geskryf word, maar wat dalk `n nog groter rol gespeel het.  Dit was teleurstelling en ontnugtering met die geloof.  Christene het die nuwe geloof met groot entoesiasme en verwagting omhels en groot drome begin droom. Ongelukkig was dit toe nie die einde van al hul probleme – soos party van hulle dalk verwag het nie.  Daar was meer teenkanting en vervolging op hulle pad as wat hulle verwag het.  Hulle kon `n rukkie daarmee uithou, maar na `n tyd het die prop afgekom en het mense begin om hul ontnugtering te artikuleer. 

Baie mense in ons tyd ervaar iets van beide hierdie faktore: teleurstelling met wat hulle ten spyte van hulle geloof daagliks ervaar aan lewensprobleme – en ernstige twyfelvrae oor Christus wat gevra word deur mense wat skynbaar meer weet as hulle.

2.  Boodskap

Wat is die Hebreërskrywer se antwoord op die vrae? 

Sy antwoord lê op twee vlakke.  In die eerste plek is Hy oortuig dat die mense wat teleurgesteld is in Jesus, Hom nie verstaan nie en nie goed genoeg na Hom gekyk het nie. Dit is interessant hoeveel keer hy in die boek mense oproep om na Jesus te kyk (bv Hebr 12:1).  Dit is ook die definisie van geloof wat hy gee in Hebr 11: gelowiges is mense wat goed sien wat ander mense nie sien nie!  `n Groot deel van die boek bestaan daarin dat Hy weer vir hoorders van Jesus vertel en kante van Jesus – van wie Hy is en wat Hy gedoen het – probeer uitlig wat hy meen sy hoorders dalk nie goed gesien het nie. 

Die Hebreërskrywer lê besonder klem op Jesus se priesterskap – nie net sy priesterskap destyds toe Hy aan die kruis die prys vir ons sonde betaal het nie, maar sy voorgaande priesterskap van meelewing met ons diepste swakheid, nood en versoekings en sy intrede vir ons aan die regterhand van die Vader.  In Hebr 10: 11-18 hoor ons iets van beide hierdie kante.

Die tweede deel van sy antwoord is dat ons hierdie prys wat vir ons verwerf is, moet ontvang, dat ons die gawes wat vir ons gegee word moet omhels, dat ons die evangelie moet glo en daaruit moet begin leef en optree.  Hoewel hierdie tweede deel van sy antwoord altyd die eerste deel veronderstel en daarop bou is dit op `n manier amper net so belangrik.  As ons die gawes van God nie deur die geloof ontvang en ons eie maak nie, kan dit ons ook nie help, of red of verander nie.

Dit is die taal wat ons hoor in die tweede deel van die perikoop van vs 19-25.  Die gemeente word opgeroep om op grond van die toegang wat Christus vir ons verwerf het deur sy bloed toe te te tree tot die troon van God.   `n Sleutelwoord hier is die woord parrhesia wat in die NAV vertaal word met “vrye toegang”, maar wat eintlik nog beter met vrymoedigheid vertaal word.  Parrhesia beteken beteken letterlik “om alles te sê” – dit is om die reg te hê om vryuit te mag praat.  Dit word ook soms vertaal met “om regop te mag loop”.  Parrhesia het `n objektiewe kant: dit is iets wat sy grond vind in dit wat Christus vir ons gedoen het – `n reg wat Hy vir ons verwerf het.  Maar dit het ook `n subjektiewe kant wat vra dat ons die reg sal opneem, sal glo, sal toeëien en sal gebruik.  Dirkie Smit skryf daaroor (in sy, Die geloof dan is): “parrhesia  is dus `n reg wat `n mens het en daarom moet gebruik, anders het jy dit nie eintlik  nie, anders baat dit jou niks nie (my kursivering).  

In Hebr 10:19-25 is daar `n paar sake waartoe die skrywers sy lesers oproep.  In die preek sou aan elkeen van die sake aandag gegee kon word:

  •  Hulle word eerstens opgeroep om die oop deur na God te gebruik en tot Hom te nader, om toe te tree tot die heiligdom. Ons so met God versoen te word en onsself in die arms van ons Vader te stort, kan `n lewensveranderende ervaring wees.  Dit is waarna ons hart nog altyd verlang het; dit is die diepste (soms onbewuste) begeerte van elke mens.  Daarna sal niks meer dieselfde wees nie: ons is dan op `n nuwe pad wat na die lewe lei (vs 20).
  • Ons word ook opgeroep om vas te hou aan die hoop wat ons bely (vs 23).  Hierdie is `n wonderlike uitdrukking wat die hoop van ons lewe verbind aan dit wat ons glo en bely.  Die kerngrond van hierdie hoop is die oortuiging dat God getrou is en sal doen wat Hy beloof het.
  • Deel van christelike geloof is ook dat die Here ons `n verantwoordelikheid vir mekaar gegee het: dat ons na mekaar moet omsien en mekaar moet aanspoor tot liefde en goeie werke.  Tog interessant dat hier nie gesê word dat ons mekaar moet aanspoor tot geloof of hoop nie, maar tot liefdesdade? 
  • Blykbaar is die byeenkomste van die gemeente – wat ook deur ons geslag verwaarloos en onderskat word – nog `n sleutelskakel in hierdie ketting van geloof en geloofstoeëiening.  Dit is die plek waar die Here beloof het om teenwoordig te wees en waar ons Hom weekliks kan ontmoet.  Ons soek moeilikheid deur sommer maklik van die byeenkomste weg te bly. 

3.  Persoonlike slotwoord

Om een of ander rede was die vers wat my gegryp het en waaroor ek bly nadink het vs 23b: “God is getrou; Hy doen wat Hy beloof het”.  Dit is of die Here met die eenvoud en duidelikheid van die vers weer vir my kom vra het wat ek in die wêreld glo en waarop ek my vertroue plaas. 

Die vraag is eintlik eenvoudig en daar is net een van twee antwoorde: jy glo dat God getrou is en doen wat Hy beloof …of jy glo dit nie. 

Dit het my ook laat dink aan iemand wat gesê het dat die Here onderneem het om sy beloftes waar te maak, maar nooit beloof het om al ons wense te vervul nie…
Dalk het ons teleurstellings met die Here minder te doen met sy beloftes wat nie gehou word nie as met ons wense wat toe nie vervul is nie…

God is getrou; Hy doen wat Hy beloof het!

Coenie Burger

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn uit Argief

Tags: , , , , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment