{ARGIEF}

21 Julie 2013 ~ Negende Sondag in Koninkrykstyd ~ Lukas 10:38-42
Pieter van Niekerk
Te veel van ‘n goeie ding is nie altyd goed nie … (dit kan ‘n obsessie raak)
Vreemd. Dié Jesus darem. Hy bring vrede, maar hy het ook ‘n swaard. Hy genees hier en doen wonders daar, maar hy rus, sonder hom af, gaan bid en gaan slaap sowaar, soos die keer in die boot, terwyl die storm woed. Hy doen so baie, en roep sy volgelinge op om hom na te volg, barmhartig te wees en reg aan die geringstes te geskied, maar dan sê hy Marta is te besig.
“Die Here Jesus het vir Marta gesê om op te hou om so baie dinge te doen; vir die ryk jongman het Hy juis uitgedaag om iets vir die armes te doen. Paulus skryf dat dit ons geloof in die Here is wat ons red, nie ons eie pogings nie; daarteenoor skryf Jakobus in ‘n tyd waarin hy moet waarsku teen geloof wat nie vrug dra nie. In Filippense (1:9-10) bid Paulus dat die gelowiges se liefde sal toeneem i n begrip en fyn aanvoeling sodat hulle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom”” (André van Niekerk in “Waar die kerk werk”).  Moontlik lê die verklaring van die paradoks in Lukas 10 juis in Paulus se gebed.
‘n Nuwe tyd vra nuwe gebruike; ‘n ander oomblik ‘n ander spiritualiteit. Geloof word immers gepraat, gedoen en beleef (spiritualiteit). Kontemplatiewe spiritualiteit is “om te rus in God en in die geloof dat Hy hier is en aan die werk” (Willem Nicol in “In die hande van die Pottebakker”). Die soort spiritualiteit “lei dikwels – as die Here sy sin met ons kry – dat die ‘habits of the heart’ sag word soos klei wat water kry en geleidelik omvorm word” (Nicol).
Die teksdeel herinner my ook aan die woorde van Louis Malherbe: “Ons is so besig met die dinge van die Here, dat ons nie by die Here van die dinge uitkom nie”. Julian Müller skryf iewers van die dominee wat hom dood werk, hy gee alles vir sy gemeente, maar meeste lidmate bly ongelukkig met hom. Totdat hy eendag ‘n kind met ‘n vlieër sien speel en besluit om ook ‘n vlieër vir hom te kry. Hy het minder in die gemeente gewerk en gereeld met sy vlieër in die wind gespeel. Die lidmate was minder krities en hulle het meer en meer van hul dominee gehou. (Dis my weergawe van Müller se ware storie).
Die Gees waai vanuit alle rigtings, ons moet Haar nie keer nie. Staan in die wind, dat die wind ons lei.
Pieter van Niekerk    
Geen Preekriglyn in Argief
Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/784_80fa0dbb99bdcf289950b3e30488b896