Verder geluister: Maleagi 3:1-4

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Geregtigheid is energiek – soos die son! Dit wil allerlei verduisteringe deurbreek. Dit wil hande vat. Grense oorsteek. Dit wil herstel, nie net straf nie. En hoe nodig het ons in Suid-Afrika nie suksesverhale in hierdie verband nie!

Die versoeningsgebaar van prof Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, soos spruit uit sy optrede teenoor die Reitz-4, kán ‘n klassieke voorbeeld van herstellende geregtigheid (aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit) word. Adventstyd vra juis van ons om verhoudings te herstel.

Daar is heelwat mense wat misstappe begaan in oomblikke van swakheid (waansin?), maar wat tog ná diepe nadenke, ‘n sterk behoefte aan genesing en die herstel van hul posisie in die gemeenskap het.

Maar diep gewortel, by baie mense, is ‘n begeerte om buitengewoon hard op oortreders te wees. Dít het egter dikwels nie die gewenste resultate nie. ‘n Gemeenskap word eintlik net gedien wanneer oortreders, hul slagoffers en die groter gemeenskap, ‘n kans op heling gegun en gebied word.

Ons móét verby die uitroep tot straffende geregtigheid probeer kom. Ons benodig ‘n vorm van herstellende/transformerende geregtigheid wat heelheid, en ‘n kans om (weer) volgens volle potensiaal te leef, bring. Nie net aan oortreders nie, maar veral ook aan slagoffers en die breër gemeenskap. Dít is uiteraard die langer en moeiliker weg … maar heelwat effektiewer as die goedkoop roete met die leuse: “Straf hulle!” Want dít verdiep feitlik sonder uitsondering gemeenskapswonde en konflik.

Wat word met herstellende geregtigheid bedoel?

  • Dit erken dat misstappe verhoudings skend. Dit is ‘n proses wat poog om hierdie beskadigde verhoudings (asook ander skade) te herstel – tussen oortreders, slagoffers, families en die breër gemeenskap. Dit probeer ook om toekomstige kwaad te verminder en selfs te verhoed.
  • Dit dink totaal anders oor misstappe en die gevolge daarvan as wat normaalweg binne ‘n raamwerk van straffende geregtigheid gedoen word (sien paragraaf hier onder).
  • Dit verwag van oortreders om die oorsake van en moontlike oplossings vir hul misstappe te bestudeer. Om verantwoordelikheid daarvoor te neem asóók vir die skade wat daardeur veroorsaak is.
  • Dit vra ook belydenis, berou en vergifnis. Sonder selfvergifnis, asook om opregte vergifnis aan diegene wat deur jou te na gekom is, te bied – sonder húlle aanvaarding van vergifnis, is genesing en vryheid nie moontlik nie. Vergifnis is egter nie ‘n voorwaarde om so ‘n proses te begin nie. Dit groei mettertyd daaruit. Indien nie, bly jy gebind en word daar nie herstel en vryheid in ‘n gemeenskap ervaar nie.
  • Dit soek “vergoeding” vir slagoffers – reparasie, restitusie en billike behandeling veral deur oortreders, asook reïntegrasie van beide partye in die samelewing.

Hoe verskil herstellende geregtigheid van straffende geregtigheid?

  • Dit kyk meer begrypend en omvattend na misstappe. Eerder as om misstappe nét te definieer in terme van die oortreding van ‘n wet, erken dit dat misstappe slagoffers, oortreders en gemeenskappe wond en benadeel.
  • Dit betrek dus méér partye. In plaas daarvan om net sleutelrolle aan ‘n regering/owerheid/bestuur te gee, sluit dit die betrokkenheid en inisiatief van die oortreder, slagoffer én gemeenskap in die aanspreek van oortredings, in.
  • Dit meet sukses ánders. Eerder as om te meet hoeveel straf uitgedeel is en uitgedeel kan word, meet dit hoeveel skade herstel is en voorkom kan word.

Herstellende geregtigheid wil soveel as moontlik mense op ‘n weg van hoop en genesing neem. Dit streef na bevredigende oplossings vir alle betrokke partye. Dit wil gemeenskappe neem van vrees na hoop, van wraak na versoening, van haat na vergifnis.

Herstellende geregtigheid minimaliseer egter nooit misstappe nie. Dit soek nie verskonings daarvoor of ignoreer nie die gevolge daarvan nie.

Vergifnis en versoening – van die belangrikste doelwitte van hierdie benadering – het bevrydende liefde en doelbewuste besluite wat verby die pyn van misstappe wil beweeg, op die oog.

Herstellende geregtigheid wil die vlakke van hartseer, bedreiging en vrees verminder. Dit forseer niemand nie. Dis egter so kragtig wanneer mense dit begin begryp, dat dit vrylik deur die meeste omarm word. Dit kan diep en lewenslange veranderinge by individue asook gemeenskappe bring. Dit soek vrede, harmonie, menswaardigheid en sekuriteit vir almal. Nie mag nie!

Ek glo dat die soeke na ware regstellende geregtigheid onlosmaaklik verbind is met die geestelike/spirituele en emosionele volwassenheid van ‘n land se mense. Die pad van ‘n oordrewe wraaksugtige gees en ‘n allesoorheersende straffende mentaliteit, het die vermoë om die siel van ‘n nasie uit te droog!

Ek dink ons land moet vinniger op hierdie opwindende pad vorder. Maar ‘n mens besef die ómvang van hierdie taak. En dat dit ‘n holistiese benadering verg.

Hierdie beginsels geld uiteraard ook vir die kerk en vele ander terreine (persoonlike lewe – bv huweliksprobleme). Tydens die mediasie-proses (NG en VG Kerk) wat vroeër vanjaar deur die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke gefassiliteer is, is ooreengekom dat die twee kerke met mekaar sal praat oor die kwessie van herstellende geregtigheid. Dít is een van die kwessies wat geïdentifiseer is as problematies in die herenigingsproses. Een so ‘n byeenkoms het reeds onlangs in Bellville plaasgevind.

Dank aan prof Jansen vir sy dapper inisiatief en dat hy die debat hierrondom heropen het! Mag die potensiaal wat hierin opgesluit lê, tot wasdom kom, omdat álle betrokkenes, ook kritici, bereid sal wees om op hierdie weg van herstellende geregtigheid geneem te word.

Dikwels hou mense aan om die vlag van ander se skuld te swaai, met die hoop dat die wêreld húl skuld sal miskyk! Ons sal ‘n paar vlae in Suid-Afrika móét laat sak as ons geregtigheid wil herstel.

Buite om die weg van herstellende geregtigheid gaan ons sukkel om die reënboog in Suid-Afrika in die lug te hou, en mense help transformeer om hulle volle potensiaal te verwesenlik!

Lees ook die volgende Skrifgedeelte (een van die ander week-tekste): Luk 1:76-79. Ek dink dis ‘n pragtige “definisie van herstellende geregtigheid”! Oordink die implikasies daarvan vir ons samelewing.

Chris Jones

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyn in argief nie.

Trackback from your site.

Leave a comment