Verder Geluister: Markus 10:35-45

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 18 Oktober 2009

Daardie Tamboer-majoor instink!

Daar is diep binne-in ons elkeen ‘n sekere instink. ‘n Soort “drum major instinct”. ‘n Begeerte om “daar voor iewers” te wees. ‘n Begeerte om die optog, die parade (vir ons wat nog diensplig gedoen het!) te lei. ‘n Begeerte, kom ons sê dit padlangs, om eerste te wees!

Wat was die antwoord wat Jesus vir Jakobus en Johannes in Mrk 10:35-45 hieroor gee? Dis nogal interessant. ‘n Mens sou gedink het dat Jesus iets soos volg moes gesê het: “Julle ken nou regtig nie julle plek nie! Julle is selfsugtig! Hoekom vra julle só iets van My?”

Maar tog, as ‘n mens mooi kyk, is dít nie wat Jesus sê nie. Hy doen iets heeltemal anders. Hy reageer met ‘n besondere “substansie”. Dis asof Jesus wil sê: “O, Ek sien julle wil eerste wees. Julle wil groot wees. Julle wil belangrik wees. Julle wil betekenisvol wees. Wel, eintlik hoort dit so. As julle my dissipels wil wees, móét julle so ‘n ingesteldheid hê.”

Maar Jesus herrangskik prioriteite. En sê dan: “Moenie hierdie instink verloor nie. Maar dis belangrik dat julle dit reg gebruik. Dis ‘n goeie instink as dit nie versteur en verkeerd aangewend word nie. Moet dit nooit opgee nie. Maar wat Ek verlang, is dat julle eerste in liefde sal wees. Eerste in morele uitnemendheid. Eerste in vrygewigheid.”

Hiermee herdefinieer Jesus grootheid. En van toe af kan elkéén van ons groot wees. Want elkeen van ons kan dien … (Martin Luther King Jnr – “The Drum Major Instinct” – ‘n preek oor Mrk 10:35-45 gelewer op 4 Feb 1968 in die Atlanta Ebenezer Baptiste Kerk).

Sien Pieter van Niekerk se skrywe hieronder.

Chris Jones

 

“My prayer to God every morning is that the power that is in the universe should use my life as a vessel, or a vehicle for its work” Oprah Winfrey.

Jakobus en Johannes se gebed verskil. Die broers “vra vir ‘n ereplek in die koninkryk van God”. Omdat hulle die (toekomstige) lyding en kruisgebeure van Christus glad nie verstaan het nie, kon hulle dit waag om hierdie selfsugtige, self-vererende versoek tot Jesus te rig” (Jones). Hulle het ‘n wanbeskouing van God se mag.

Die wyse waarop God se mag verstaan of voorgestel word en die manier waarop mense van God praat, het werklike konsekwensies op die gebied van menslike aangeleenthede. Die beskouing van God het ‘n effek op die manier waarop mense die wêreld en hulself sien, en andersom.

Dié mag word tradisioneel beskou as ‘n modus van dominansie en beheer. Wanneer dié tipe mag op die vlak van mense gelegitimeer en bevorder word, het dit duidelike skadelike gevolge in die vorm van verdrukking en geweld.

Daniël Migliore, ’n sistematiese teoloog en predikant, skryf hoe verskillende idees oor God belangrike en verskillende persoonlike en sosiale gevolge het. Hy identifiseer onder meer drie wanbeskouings van Goddelike mag. God word soms as ‘n allesoorheersende monarg beskou. Dit sluit onder andere ook ‘n wanbeskouing in van God as ‘n dominerende vader wat almal onvoorwaardelik ondergeskik aan sy wil hou. ‘n Ander wanbeskouing van God is wanneer God as ‘n “gevange mag” beskou word. God kan gemanipuleer word. ‘n Derde wanbeskouing is wanneer God slegs as transendent beskou word. God bestaan in isolasie van die wêreld.

Migliore sê dat al die beelde van God moet radikaal hersien word in die lig van die gekruisigde en opgestane Jesus Christus. Jesus is die sentrale leidraaad tot die regte verstaan van ‘n outentieke Goddelike mag en vrugtevolle menslike mag. “Jesus empowers the powerless by extending God’s forgivenss and affirmation to them. He tells the ‘nobodie’ of his time that they are ‘somebodies’ in God’s eyes.This sense or worth and dignity is one of the greatest gifts of power that human beings can recieve” (uit The Power of God, 1983).

In Jesus Christus ken ons God as medelydende mag. God gee om vir die wêreld. God het vrylik die wêreld geskep en vrylik gely vir die verlossing daarvan. Die medelydende mag van God is in die persoon en werk van Jesus Christus verpersoonlik. Medelydende mag is net so min slegs magteloosheid as wat dit almagtigheid is. Dit is die mag van lydingsliefde.

Ontmoet jy Jesus van Nasaret en volg jy Hom, kan dit spesifiek ontstellend midde-in vandag se magstryd wees. Jesus keer ons denke, houdings en aksies om. Die Nuwe Testament getuig dat Jesus ‘n totale abdikasie maak van mag soos dit tradisioneel verstaan word. Hy doen dit om aan ons ‘n nuwe soort mag te gee. In een sin opgesom: “Jesus transforms the love of power into the power of love” (Hans-Ruedi Weber).

Jesus is baie huiwerig om na Homself as “die Christus” (Messias) te verwys. Volgens die Evangelies praat Hy die graagste van Homself as Seun van die mens (soos vers 45). Dit is veral in sy lydensaankondigings wat Jesus na die Seun van die mens wat gaan ly, verwys. N.a.v. Dan.7:13 beteken die Seun van die mens ‘n heerlikheidsfiguur wat sou kom om te oordeel en te regeer, maar Jesus koppel dit aan die Dienaar wat vernedering en lyding beteken (sien o.a. Adrio König, Die helfte is my nooit oor Jesus vertel nie). Jesus is die koning wat nie in heerlikheid kom en die volk met mag van sy vyande bevry nie, maar die Koning wat as Dienaar kom om te dien en te ly. Jesus gee ‘n ander betekenis van koningskap, Hy oorweldig nie met mag nie, maar Hy oorwin met liefde en deernis.

Wie jy dink Jesus is, wys in jou lewe! Wat jy bely het implikasies. Dit kos ’n prys om Jesus se mag van lydingsliefde te leef.

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in Argief beskikbaar

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment