{ARGIEF}

Sondag 25 Oktober 2009 – Markus 10:46-52

Anton Mocke wat die preekstudie van komende Sondag in “Preekstudies met liturgiese voorstelle” uitgewerk het, wys daarop dat daar in die Markus-evangelie twee verhale van ‘n blinde wat genees word (Mark 8:22-26 en Mark 10:46-52) opgeteken is. Hy wys verder daarop dat Jesus tussen dié twee verhale vir sy dissipels vertel van die gebeure wat voorlê en dat Hy gaan sterf. Hulle begryp duidelik nie wat Hy aan hulle probeer sê nie en daarom blyk dit dat hulle blind is vir dit wat Jesus aan hulle wil openbaar. Hy wys dan verder daarop hoedat Markus die twee verhale van blindes wat genees word, gebruik om die verhaal van die dissipels se blindheid te omraam. Selfs die drie binnekring dissipels (Petrus, Johannes en Jakobus – saam met Jesus op die berg) is blind.

Dit is dus duidelik dat dit hier gaan oor “die verhaal van blinde mense”, oor hulle wat veronderstel is om te sien, maar nie kan sien nie. In kontras hiermee vind ons dan die storie van Bartimeus, die laaste genesingswonder in Markus se evangelie. Die verhaal van ‘n man wat fisies blind is en tog “meer” kan sien. As ons verder in gedagte hou dat dit eerskomende Sondag Hervormingsfees is, herinner dit ons verder aan die vier sola’s en binne dié konteks in die besonder aan “sola fide” – deur geloof alleen, raak dit vir ons moontlik om te sien.

Dit is in dié verband wat ‘n boek wat so pas verskyn het ons prediking met die oog op die komende Sondag kan verryk. ‘n Boek wat ons myns insiens kan help om die lig beter te sien en aan die “sola fide” van ons tradisie vas te hou. Die titel van die boek is “Guardian of the Light: Denis Hurley renewing the Church, opposing Apartheid”. Die boek gaan oor die lewe en werk van Aartsbiskop Denis Hurley, waarskynlik die bekendste en mees gerespekteerde Suid-Afrikaans Rooms Katolieke biskop. Nie alleen was Denis Hurley in sy middel dertigs die jongste biskop van die Rooms Katolieke kerk nie, maar ook ‘n profeet wat opgestaan het vir die randfigure wat graag vir Jesus wou sien.

Hurley se vader was vir baie jare die “lighthouse-keeper” op Robben Eiland. Dit was in die lig hiervan wat die bekende Alan Paton by Hurley se sewentigste verjaarsdag hom “Guardian of the light” genoem het, omdat sy vader gesê het sy seun was ‘n “guardian of the light that warns sailors of dangers and guides them away from destruction”. Daarom dat Paton by die geleentheid verklaar het: “Our Archbishop has been doing this work of warning and guiding for the greater part of his life.”

As ‘n mens deur die boek blaai, kom jy uit die rykdom van verhale agter dat Hurley dit juis gedoen het omdat hy ‘n besondere oog gehad het vir die “blindes”, vir die randfigure, vir hulle wat buite die sirkel van Jesus se volgelinge hulleself bevind het. Die skrywer neem ‘n mens terug na biskop Hurley se Ierse voorouers wat van vroeg af reeds aan die kant van die sogenaamde “underdog” was na eeue van Engelse kolonialisasie. Sy eie ouers was deugsame mense wat hul kinders geleer het om ander mense met respek te behandel. Dit was deugde wat die fondamente van die jong Hurley se geloof en die grondslag vir sy latere politieke aktivisme gevorm het.

As die jongste Aartsbiskop in die wêreld was Hurley van vroeg af ‘n profeet wat die onreg van sisteme raakgesien en dit met deernis aangespreek het. Hy was bekend vir sy skerp intellek en vir sy sin vir geregtigheid. So het hy by geleentheid van ‘n skool-debatskompetisie in Natal (waar almal Engels gepraat het) ‘n jong Afrikaans sprekende student wat sy argumente in Afrikaans gevoer het, se reg om sy moedertaal te praat, ten sterkste verdedig.

Biskop Hurley was nie bang om sy lewe vir hierdie oortuigings op die spel te plaas nie. So het hy aan die einde van die turbulente tagtigerjare, met die spanning wat hoog geloop het tussen Inkatha en die United Democratic Front by Elandskop, fisies tussen beide getree om die konflik te help oplos.

In die boek is dit ook duidelik dat dié profetiese rol ‘n prys gevra het. Hurley het meer as een keer onder die snydende kritiek van die apartheidsregering deurgeloop. Die Katolieke Kerk self het as gevolg van hul weerstand teen die regering ‘n duur prys betaal deurdat alle Katolieke skole gesluit is – die tradisionele energiepunt vir Katolieke evangelisasie. Ironies genoeg was dit die Katolieke Kerk self wat ook vir Hurley diep verwond het. Sy wit mede-Katolieke geestelikes het hom dikwels sterk teengestaan. Hy het ‘n stryd met sy eie kerk gehad wat betref hul leerstukke oor selibaat, die bevestiging van vrouens in kerklike ampte en voorbehoedmiddels.

Op Hervormingsondag, waar ons terugdink aan ons Gereformeerde erfenis en tradisie, kan dit dalk ‘n besondere simbool van hervorming (en versoening) wees deur na hierdie besondere Suid-Afrikaanse geestelike te verwys as voorbeeld (rolmodel) van iemand wat die vermoë gehad het om die “Bartimeuse” van die wêreld raak te sien, hulle stem te versterk en hulle ook die geleentheid te gee om te deel in “geloof wat ons laat sien”. “Sola fide” wil alle gelowiges oproep om deur die eenheid van ons geloof ons land en kontinent te dien, deur die blindes te help sien.

Ian Nell

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne oor Markus 10 in Argief beskikbaar nie.