{ARGIEF}

God sorg vir ons

Ons is nou in ‘n wonderlike tyd van die kerkjaar.  Koninkrykstyd.  Dis ‘n tyd waarin ons vier dat ons in God se koninkryk lewe, reeds hier op aarde.  Om in God se koninkryk te lewe, maak ons sterk.  Dit maak dat ons “hoop kan doen”, kan uitreik na ander en van die wêreld ‘n beter plek kan maak.

In die kerkjaar kom Koninkrykstyd nou ook aan ‘n einde.  En daarom is dit belangrik dat ons onsself aan nog iets oor die lewe in God se koninkryk moet herinner.  Ons het pligte om Sy koninkryk uit te brei, ja.  Maar ons het ook voorregte in hierdie koninkryk.  Oneindige voorregte.  Een daarvan is dat ons toegang het tot God se sorg.

God sorg vir ons in Sy koninkryk.

En dit is ook wat Psalm 34:16-22 sê.  Pragtig sê. God sorg vir ons.

Johan Cilliers, wat Preekkunde doseer aan die Universiteit van Stellenbosch, sê dat ons nie eintlik nodig het om die Psalms te preek nie.  Ons kan dit eintlik net vir mekaar voorlees, en saam met mekaar opsê.  Die psalms spreek so vanself.  Hulle het so ‘n aanvoeling vir ons behoeftes.  Hulle steun so vanselfsprekend op God.  Hulle is bedoel om saam opgesê te word.  Hulle hoef nie eers gepreek te word nie.  Hulle is klaar ‘n preek.  Hulle spreek wysheid en gee ondersteuning.

Kyk byvoorbeeld na Psalm 34:19:  “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses”.  Dit sê tog alles oor God se sorg.  Wat kan ons nog daarby voeg? 
Maar miskien kan ons tog met mekaar deel wat die Psalm vir ons beteken.  Kom ons vat ‘n bietjie tyd, en gesels met mekaar hoe hierdie psalm en God se sorg vir ons op voetsoolvlak raak.

Die eerste ding wat my gryp wanneer ek Psalm 34:16-22 lees, is dat God se sorg so omvattend is.

Vers 18 sê God red ons uit AL ons benoudhede.  Vers 20 sê dat, al word ons ook deur hoeveel rampe getref, God ons uit ALMAL red.  En vers 21, hallelujah, sê dat die Here vir ons HELE liggaam sorg.

En dit is belangrik om dit van God se sorg te weet.  Dat Hy vir die hele liggaam sorg.  Nie net vir jou siel nie.  Nie net vir jou kop nie.  Jy lewe as ‘n hele mens in God se koninkryk, en Hy sorg vir jou heeltemal.

Daar is nog iets in die Psalm wat my teen die voorkop tref, elke keer as ek dit lees.  En dit is dat die een wat dit geskryf het, iets verstaan het van ons nood, van ons behoeftes en – veral – van ons vrese.

Die eerste Petrusbrief verwys baie na Psalm 34.  En na God se sorg.  Petrus troos in hierdie brief gelowiges wat vervolg word, wat diep nood en pyn ervaar – en hy verwys hulle na God se sorg.  En Petrus, weet  ons, is iemand wat self onder sy eie vrese gely het.  Hy het Jesus driemaal verloën – uit vrees.  Hy het weggebly van die kruis – uit vrees.  Hy het weggekruip na die kruisiging – uit vrees.

Maar juis omdat Petrus vrees ken, juis omdat hyself so feilbaar is, kan hy aan sy mede-gelowiges daaroor skryf.  Oor hoe om jou vrees en jou feilbaarheid te oorwin met jou geloof dat God vir jou sorg.

Die vroeë kerkvaders het Psalm 34 baie aangehaal, maar later het dit ‘n bietjie in onbruik geraak.  Hoe sterker die kerk geword het, hoe minder het gelowiges mekaar aan God se sorg herinner.

Maar miskien is dit nou weer tyd dat ons mekaar van God se sorg vertel.  Hoe ons daarna verlang, en hoe ons dit ontvang.

Ons is almal broos.  Ons is almal bekommerd oor die toekoms.  Ons word almal getref deur die resessie en deur misdaad.  Ons almal is bekommerd oor ons eie en oor ons kinders se toekoms.

Maar juis dit kan ons sterk maak om mekaar aan God se sorg bloot te stel.

Daar is ‘n derde ding in die Psalm wat my tref en wat ek graag met ander gelowiges wil deel.  Die Psalm laat my vreugde ervaar.

Dit maak my bly.  Ek voel diep gelukkig omdat ek God se sorg ontdek het, oftewel herontdek het.  Daar kom ‘n vreugdevolle rustigheid oor my wanneer ek hierdie Psalm lees.

Lees ons weer die eerste Petrusbrief, wat so met oorgawe op Psalm 34 terugval, dan lees ons hoe Petrus neergeslaande gelowiges help om vreugde op onverwagte plekke te ontdek.  Soos in die sorg van God.

Miskien kan ons gelowiges vir mekaar vertel waar ons God se sorg op onverwagte plekke ontdek het.

Miskien kan ons gelowiges vir mekaar vertel waar ons God se sorg op onverwagte plekke ontdek het.

Ons, wat ‘n gemeente tussen informele huisies op die platteland is, ervaar elke dag God se sorg.  Op ‘n dag kry ons ‘n groot voorraad nuwe klere om te verkoop.  Op ‘n ander dag skenk iemand vir die pastorie gordyne – en diefwering!  Eenkeer het ons R2600 nodig gehad om ‘n stadsraadsrekening te betaal waarvan ons nie geweet het nie.  Ja, die stadsraad haal ook die informeles in.  En toe ek my e-poste oopmaak, het iemand juis hierdie bedrag in ons rekening inbetaal.

Maar, meer nog, leer ek by hierdie gemeente hoe arm mense vir mekaar se hele liggame sorg.  En so word hulle God se hande in ‘n gebroke samelewing.  Na die diens op ‘n Sondag besoek die hele gemeente die siekes, bid vir hulle, sing vir hulle, salf hulle.

In Koninkrykstyd kan Psalm 34:16-22 ons weer daaraan herinner dat God se sorg op die mensdom losgelaat is.  Dat dit brullend rondloop om te kyk wie dit kan ophef en versterk.

 

Dit is die voorreg om in God se koninkryk te leef:  om die vreugde van Sy sorg te ervaar.

 

Christina Landman