Verder Geluister: Psalm 124

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 27 September 2009

Onbeskryflike genade J.M Coetzee se beroemde roman Disgrace (1999) is nou op die groot skerm te sien. Ek het die fliek gaan kyk – dis ontstellend. Disgrace vertel die storie van David Lurie ’n hoogleraar in romantiese poësie aan die Universiteit van Kaapstad wat sy gesagsposisie misbruik en ‘n jong student verlei. Sy eskapades kom op die lappe en hy verlaat die Universiteit sonder protes. Hy los die woelige stad vir die stil platteland waar sy dogter, Lucy, ’n plasie met Petrus, ’n swart kleinboer, deel.

Die plaas se pretensielose skoonheid en rustigheid word totaal omgekeer nadat drie jong swart manne, pa en dogter beroof en aanrand. David word met spiritus aan die brand gesteek, maar gelukkig kon die water in die toiletbak die brand blus. Lucy word deur die groep verkrag. Petrus was tydens die aanval nie op die plaas nie. Sy grond-eis slaag en hy kry ‘n deel van Lucy se grond. Lucy aanvaar haar lot en sê vir haar pa: “Perhaps that is what I must learn to accept. To start at ground level. With nothing … No cards, no weapons, no property, no rights, no dignity … Like a dog.

Die geweld teen vroue en kinders is skokkend; die plaasaanvalle is skrikwekkend. Sommige plaasmense word op die wreedaardigste wyses denkbaar vermoor. Bekendes het verlede week 1650 name van slagoffers van plaasaanvalle oor Solidariteit Radio (www.solidariteitradio.co.za) uitgelees. Die aanvallers het geen genade getoon nie en die stories vertel ook nie van enige genadige ingryping nie.

Die storie in Psalm 124 sing ’n ander deuntjie. As dit nie vir die Here se ingryping was nie, sou Psalm 124 se sanger en sy mense nie die aanvalle oorleef het nie. Psalm 124 is spesiaal, dit getuig van die Skepper se merkwaardige oorwinning oor die vyand, maar Psalm 124 is nie die enigste lied oor God se betrokkenheid by sy skepping nie. Die Psalms bestaan uit liedere van oriëntasie, disoriëntasie en nuwe oriëntasie (Walter Brueggemann). Psalm 124 is ’n danklied wat die einde van die krisis vier en die nuwe oriëntasie besing. Maar die Bybel het ’n verskeidenheid gesigspunte oor God se betrokkenheid by mens en natuur.

Psalm 124 se beskrywing van die Here se betrokkenheid word vanuit ’n spesifieke perspektief beskryf. God was met hulle – dit kon anders gewees het – maar die “as” vertel alles. Op ander plekke en ander tye was en is dit anders. Dan beteken “God met ons” nie noodwendig “God is aan ons kant en teen die ander nie”. Soms hoor ons verhale van mense wat wonderbaarlik gered is, ander kere hoor ons van mense wat ten spyte van hul geloof, aangeval en vermoor is. “Dit is ’n raaisel wat ’n mens laat besef dat God nie gemanipuleer kan word nie, selfs nie deur volle oorgawe van die gelowige nie” (Izak du Plessis). God bepaal nie alles wat gebeur nie, daar is dinge wat teen Sy wil gebeur (Adrio König).

Maar dis belangrik vir die teks: God is ’n medelydende God. Dit gee veral sin in lyding. Jesus het God se medelye op aarde in sy bediening beliggaam. Ten spyte van al die “ongenade”, die lyding en onreg wat so baie onskuldiges moet verduur, dra sy medelye ons in dié tye; daarin lê die troos vir die gelowige. God se medelye beteken ook dat God uiteindelik die aarde nuut gaan maak en alle onreg en ellende gaan verwyder. God het telkemale die vyand oorwin, Psalm 124 getuig van ‘n genadige ingryping, daar was ander en ook groter oomblikke. Die grootste hiervan is “Jesus het opgestaan en die aartsvyand die dood oorwin”.

Hierdie God wat die hemel en aarde gemaak het, “sal die aarde nuut maak, al duur dit lank” (Adrio König). Deur die kerk se werk en gewone gelowiges se roeping, met die Heilige Gees se leiding, word die ou skepping vir sy bevryding voorberei.

Intussen sing ons Sondag Psalm 124 met groot afwagting vir die toekoms en deernis met lydendes saam op weg …

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne oor Psalm 124, in Argief beskikbaar

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment