Verder Geluister: Psalm 22

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 11 Oktober 2009  –  Psalm 22

Waardig om jou pyn te laat hoor

Ons moet ‘n Psalm vlerke gee. Dit het ons noual ‘n paar keer vir mekaar gesê. ‘n Psalm moet vlieg. ‘n Psalm moet nie vasgehok  sit in ons Bybels nie. Dit moet die wêreld in – om te troos en sterk te maak.

Psalm 22 is werklik so ‘n Psalm. Ons moet dit toelaat om in ons lewens in te vlieg.

Psalm 22 begin met die jammerlike woorde: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” Maar daar, gelukkig, hoef ‘n mens nie op te hou lees nie. Want die Psalmis vertel hoe hy tot genesing kon kom deur homself te herinner aan God se sorg en trou. Die Psalm eindig waar die Psalmis weer waardig voel om ‘n toekoms te hê.

Maar waar kom Psalm 22 vandaan? Wie was die eerste persoon wat uitgeroep het: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” Was dit Dawid terwyl hy vir Saul en sy wrede mansskappe weggekruip het? Of is dit die gebed van ‘n baie siek of platgeslaande man wat versaak voel deur die mense om hom? En seer uitroep na God om hom tog nie te verlaat nie?

Omdat daar so baie nood in die wêreld is, het Psalm 22 se noodkreet aan God gou vlerke gekry. Die bekendste vlug van vers 1 was na Jesus se lippe waar hy aan die kruis gehang het en geroep het: “My God, my God, waarom het u my verlaat?”

Baie is al geskryf oor of Jesus dit regtig gesê het, en waarom hy dit sou gesê het. Daar is net twee evangeliste, Markus en Matteus, wat berig dat Jesus Psalm 22:1 aan die kruis uitgeroep het, en soos ons weet is Matteus van Markus afhanklik. So, ons het nie baie getuienis dat Jesus dit wel gesê het nie. Maar dit maak nie eintlik saak nie. Belangriker is om te vra wat die evangelis wou sê deur hierdie woorde in Jesus se mond te sit, of dit op sy lippe te gaan soek?

Hoekom roep Jesus na God toe uit dat God hom verlaat het? Hoe kon God sy Seun verlaat? Watse troos is daar vir ons in? Hoe kan ons op God reken as Hy sy Seun in die steek gelaat het?

Die wonderlike nuus is dit: Wanneer die evangelis vir ons sê dat Jesus uitgeroep het, “My God, my God, waarom het u my verlaat”, veronderstel hy dat Jesus die res van die Psalm impliseer. Want hierdie vers was Psalm 22 se opskrif. Jesus roep met sy woorde die hele Psalm op. En, soos ons weet, gaan Psalm 22 juis daaroor dat God ons nie verlaat nie. Dat ons geloof kan aanhou en aanhou, want God bly getrou. God bly sorg. God bring genesing. God gee uitkoms.

“Geloof wat aanhou” is ook die tema waaronder predikers van die kerk deur die eeue heen Psalm 22 gepreek het. Partykeer voel ons God het ons verlaat. Partykeer voel ons soos ‘n wurm en nie soos ‘n mens nie (vers 7). Maar die Psalm verseker ons: God sien (vers 25b). En God hoor (vers 25c).

Wat kan ons vandag met Psalm 22 maak? Hoe kan ons met Psalm 22 opstyg en deur die lug klief? Psalm 22, dink is, is ten minste drie preke.

Eerstens kan ‘n mens Psalm 22 preek as “’n Openbare uitroep van ‘n wêreld in pyn”. En dis ‘n baie relevante tema vir vandag. Die wêreld wat na God toe uitroep in sy verlatenheid en wanhoop – moet ons nie iets daarin sien van God se opdrag aan ons om vir ons naaste om te gee nie?

Maar, tweedens, kan ons ook met Psalm 22 preek oor “menswaardigheid”. Met hierdie Psalm besef ons: Die gebrokene het ‘n stem voor God. God ag die mens waardig om sy pyn te laat hoor. En die Psalm sê nog iets verder daarby: Die mens het ‘n reg om te hoop.

Ek is ‘n wurm, sê die Psalmis, en mense maak my so. Maar by God is daar erkenning. God erken my menswaardigheid. God ken my persoonlik. Ek is op die “map”!

En aan die einde van die Psalm is dit eintlik asof die Psalmis aankondig dat hy nie meer ‘n wurm is nie, maar ‘n mens. Hy is ‘n mens wat waardig is in God se oë. Hy is ‘n mens wat kan hoop. Hy is werd om op te staan teen die ellende wat hom wil oorweldig. Hy durf genesing by God soek.

En dit bring ons by ‘n derde toepassing van Psalm 22. Selfgenesing. Wanneer ek vir studente berading leer, leer ons eers by Psalm 22 hoe om onsself te genees, voordat ons ander met genesing kan begelei. Die Bybel is immers ‘n boek van gesondword. En dis waar ons moet leer om onsself en ander te genees. Om weer op te staan – en te vlieg! Psalm 22 volg die vier tipiese stappe van ‘n beradingsessie.

Psalm 22 het al geweet hoe om berading te doen, lank voor ons dit vandag uitgevind het.

In die eerste deel van die Psalm, verse 1-11, vertel die Psalmis sy probleemdeurdrenkte storie. Mense trap op hom. Hy word bespot. En tog, in hierdie gedeelte al, sien ‘n mens waar lê die ligpunte in sy lewe waarop hy ‘n alternatiewe verhaal kan bou: sy geskiedenis met God; sy voorouers se vertroue op God; God se sorg wat hy al aan sy moeder se bors ervaar het.

In die tweede gedeelte van die Psalm, verse 13-19, beskryf die Psalmis sy probleem by name: Mense bedreig sy lewe – omdat hulle dink dat hy sonder ondersteuning is.

In die derde gedeelte van die Psalm, verse 20-22, laat die Psalmis hom teen die probleem bemagtig. Hy word sterk wanneer hy besef dat God hom hoor, en sien, en hom sal red.

In die vierde deel van die Psalm, verse 23-32, versterk die Psalmis sy alternatiewe verhaal. Hy is nou nie meer ‘n wurm nie, maar een wat deur God se sorg en redding bemagtig is. Hy is ‘n mens. Hy kan vlieg. En hy maak sy nuwe verhaal nou sterk deur die “volle vergadering” aan te moedig om God te prys en ‘n loflied te sing. Hy praat in nuwe terme oor die God wat hy aanvanklik gevrees het hom verlaat het. God is koning. God luister na die hulpelose. God verlos.

Ja, ons moet Psalm 22 laat vlieg – want uiteindelik kan Psalm 22 ons laat vlieg na ‘n plek van hoop, waar ons geborge kan voel, en menswaardig.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment