{ARGIEF}

Wanneer Sefanja in toekomstaal van ’n nuwe begin praat, moedig hy Israel aan om ’n loflied te sing oor die Here wat as redder teenwoordig is. Hy red eerder as om te oordeel. God se genade is groter as sy oordeel! God se genade loop uit tot iets onbeskryflik groot, ’n  nuwe bedeling met die koms van die Seun van die mens. Mense kan sedertdien ’n nuwe verlossingslied  soos Somerkersfees van Koos du Plessis sing. Die lied sing van ’n totale nuwe bedeling wat in Christus gekom het. ’n Nuwe bedeling wat eenvoudig uitloop op ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. ’n Bedeling waarin God in Christus en deur sy Gees alles nuut maak. (Sien Prof. Piet Strauss se kersboodskap in Kerkbode 4/12/09).

Maar dis asof ons steeds  sukkel om die heil wat in Christus gekom het toe te eien. Sy nuwe bedeling is met onheil beduiwel. Soos in Sefanja se tyd leef mense onverskillig. Dis asof misdaad, korrupsie, uitbuiting, geweld en morele verval oorheers. Armoede, dodelike siektes, vreemdeling haat en klimaat verandering het nes kom maak. Dis asof die hartseer krete die advent vreugde klanke doof.

  • Mense kry finansieel swaar. Feitlik die helfte van ons bevolking is armlastig, terwyl pastoor McCauley welvaart aanbid en die regeerders met dié geloof begelei.
  • Die geweld teen vreemdelinge het in die mooi rustige wingerd dorpie De Doorns ’n doring in die vlees geword. Die groot werkloosheid  gebrekkige woonplek en swak dienste vererger die krisis. Prof. Flip Smit reken ons land het tussen 8 en 9 miljoen “immigrante” (Die Burger 2/12/09).
  • “In ’n ‘swart naweek’ vir die landboubedryf is ’n boer en drie werkers in twee afsonderlike voorvalle op Kaapse plase vermoor” (Die Burger 7/12/09).
  • Die voorkoms van M.I.V. in Suid-Afrika is 23 keer meer as die wêreldgemiddelde. Volgens TAC is daar 5,5 miljoen M.I.V.- positiewe mense in Suid-Afrika (Die Burger 1/12/09). 10% van mense met hoë inkomste is M.I.V. – positief. “Daar is veral kommer dat jongmense, veral universiteitstudente hulle glad nie aan die epidemie steur nie, sê dr. Eric Hefer, bestuurslid van die vereniging van M.I.V. – klinici  (Rapport 29/11/09).
  • “Navorsing in die Wes-Kaap en Kwa-Zulu-Natal het gewys baie mense in die land glo nóg dat die fisieke en seksuele mishandeling van vroue normaal is” (Die Burger 7/12/09).
  • Die waternood in die Suid-Kaap neem daagliks toe. Die Tuinroetedam op George het net 23% water. Die George Herald (26/12/09) se voorblad lui “No water by 1 Feb”. Die internasionale klimaat bestel in Kopenhagen wat vanaf 7-18 Desember 2009 plaasvind, is onheilspellend.
  • Mense is moedeloos, terneergedruk en depressief. Ons hoor net van bekendes soos Chris Louw wat so “gatvol is, dat daar nie meer sin is om voort te ploeter nie” (Die Burger 2/12/09), die meeste selfmoorde kraai geen haan oor nie.
  • “’Daar gaan 90,000 vuvuzelas op Mexiko wag’. So het Matthew Booth verdediger van Bafana-Bafana, gisteraand gesê oor Suid-Afrika se openingswedstryd in aanstaande jaar se Wêreld beker sokker toernooi” (Die Burger 5/12/09). Ek dink die 2010-sokkereuforie is van korte duur en waarskynlik nie meer as ’n kakofonie van vuvuzelas nie. Sekswerk-koppelaars (lokvoëls) lek reeds hul lippe af en dwelmsmouse rol hul vingers in afwagting.
  • Met Joost se val vars in die geheue, kom Tiger Woods se voete van klei op die lappe, sy vergrype verontreg sy gesin.

Baie dinge gebeur teen God se wil. Die goed wat gebeur mag mens by al die sleg, negatiwiteit en wanhoop laat vaskyk; dit laat ons die stories van hoop en tekens van blydskap mis. God word gesoek, terwyl God naby is; daar word na Sy vreugde gesmag, terwyl dit in ons te vinde is.

My skoonma vertel my van Paulo Coelho se roman “By the river Piedra I sat down and wept” (Harper Collins Publishers, 1996). Ek lees Padre se opmerking:

“’You had that wrong’, he said. ’A person who goes in search of God is wasting his time. He can walk a thousand roads and join many religions and sects – but he’ll never find God that way. God is here, right now, at our side. We can see Him in this mist, in the ground we’re walking on, even in my shoes. His angels keep watch while we sleep and help us in our work. In order to find God, you have only to look around. But meeting Him is not easy. The more God asks us to participate in His mysteries, the more disoriented we become, because He asks us constantly to follow our dreams and our hearts. And that’s difficult to do when we’re used to living in a different way. Finally we discover, to our surprise, that God wants us to be happy, because He is the father’”.

Dié vreugde is onafhanklik van die omstandighede waarin ons ons bevind. Gelowiges se “innerlike self” (Hennie de Villiers) of gesteldheid is nie afhanklik van uiterlike dinge en omstandighede nie (miskien iets soos positiewe Geestesingesteldheid). Dietrich Bonhoeffer se melding van “vaste geborgenheid” sou moontlik hier pas. Paulus kon vanuit die tronk oor blydskap skryf omdat hy geweet het Jesus Christus met hom was, wat ook al sy omstandighede (Fil. 4:4).

’n Groep lidmate het saam met my Sefanja 3:14-20 gelees en het hoofsaaklik die vertroue in die Here wat ’n einde aan lyding maak, uitgelig. Iemand sê “Sy (die Here se) kinders hoef nie vir ewig te ly of onderdruk te word nie”. Die wat ons as minder belangrik ag, is vir God baie belangrik”. Iemand wat in ’n verskriklike krisis is, is deur die Skrifdeel bemoedig en sê: “Die vernedering wat ek ervaar, kan in eer verander”.

God se sorgende betrokkenheid veral by die noodlydendes (die moedeloses, treurendes, verdruktes, kreupeles, verstrooides in Sefanja) word deur ons positiewe Geestesingesteldheid sigbaar. Ons gee onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde. Soos Christus in ons gestalte kry, neem Hy soms die gestalte van armes, noodlydendes en verdruktes aan. En Hy wag gespanne om te sien of die liefde ons na ons naaste dryf – Matteus 25 (Ferdinand Deist). Waar gelowiges nie onreg doen nie, bring hulle ’n stukkie van die toekoms in die hede in (Fanie Snyman) en breek ’n deel van die nuwe hemel en aarde waarop geregtigheid woon, deur.

“Ons is daarvan oortuig dat net die evangelie van Christus ons op ’n pad van heil kan plaas. Daarom wil ons as kerk die Woord van die Here tydig en ontydig verkondig en orals getuienis aflê van die hoop wat in ons leef” (Gedeelte uit die NG Kerk se Roepingsverklaring van 2002).

Genade en vrede vir jou van God, wat

–       gekom het,

–       weer kom en

–       elke dag in jou lewe kom! (Gebedeboek met liturgiese voorstelle)

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister PowerPoint

Daar is geen verdere riglyne in die Leesrooster argief nie.