Verder Luister: Johannes 6:35, 41-51

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 9 Augustus 2009

“omdat U nooit net ‘daar’ is nie maar in die ‘hier’ van elke handeling bewus van U”
Sheila Cussons (uit Eucharistie)

Wat is die verhouding tussen die natuurlike en die bonatuurlike, die hemel en die aarde, die immanente en die transendente, die anderkant en hierdie kant? Dié vraag hou christene, teoloë en verteenwoordigers van alle godsdienste al vir eeue besig.

Bette Midler se treffer “From a distance” beskryf die afstand tussen God en skepping as enorm, terwyl daar in Sinéad O’Connor se “The Healing Room” van bykans geen afstand ter sprake is nie.

From a distance (Bette Midler)
It’s the hope of hopes, it’s the love of loves.
This is the song of every man.
And God is watching us, God is watching us,
God is watching us from a distance.
Oh, God is watching us, God is watching.
God is watching us from a distance.

The Healing Room (Sinéad O’Connor)
I have a universe inside me
Where I can go, a spirit guides me
There I can ask oh any question
I get the answers if I listen

See I am the universe inside you
You come to me and I will guide you
And make you happy with my laughter
They kiss and tell me I’m their daughter
I’m their daughter

In From a distance is God besig om die mens amper soos ‘n Big Brother vanuit die verre hemel dop te hou. Tog is dié God vir haar steeds “the hope of hopes” en “the love of loves”. Wanneer sy sing dat dit “the song of every man” is, bedoel sy dat dit is hoe alles is: Die lewe werk so. God is ver van en radikaal anders as die mens en skepping. Maar hierdie God is steeds die bron van hoop en liefde. Dit verbaas mens dan ook nie, want Bette Midler het ‘n Joodse agtergrond waarbinne die monoteïstiese godsbeeld sterk funksioneer.

Sinéad O’Connor, wat haarself in een van haar liedjies as ‘n “strong pagan women” beskryf, versmelt as’t ware die gaping tussen God en mens wanneer sy God as die Kosmos (Universe) beskryf. En dan het sy hierdie kosmos binne in haar. Dit volg dan dat haar nabyheid aan die kosmos sódanig is, dat sy haarself as die kosmos in iemand anders kan beskryf: “I am the universe inside you.”

In jou denke oor God kan jy ‘n radikale breuk maak tussen die transendente en die immanente (Teïsme). God en natuur is dan radikaal verskillend. Aan die anderkant kan jy sê die transendente en immanente val volledig saam (panteïsme). Dit is ook moontlik om te sê dat alles wat daar is, al is wat daar is: Dus geen Anderkant, geen Transendensie, geen God nie.

Deur die eeue worstel die kerk van Christus al om hierdie verhouding uit te klaar. Die historiese ontwikkeling van die leerstuk aangaande die verhouding tussen Jesus Christus se godheid en mensheid is in dié verband uiters belangrik en kan baie nuttig in ‘n preek soos hierdie aangewend word.

Vir verdere teologiese besinning:
Vanuit ‘n redelik onlangse teologiese stroming in die teologie (Radikale Ortodoksie) word daar o.a gepoog om op nuwe maniere na te dink oor die verhouding tussen transendensie en immanensie. James Smith (Introducing Radical Orthodoxy: Mapping a Post-secular Theology) poog om die Radikale Ortodoksie en die Gereformeerde Teologie met mekaar in gesprek te bring.

Die teoloë van die Radikale Ortodoksie reken dat, wanneer die transendente en die immanente radikaal van mekaar losgemaak word, nihilisme die gevolg is. James Smith praat van ‘n “flattening of the cosmos” wat beteken dat die materiële en immanente wêreld as outonoom en selfgenoegsaam (sonder God) beskou word.

Die Radikale Ortodoksie hou vir Duns Scotus (al was sy bedoelings bes moontlik goed!) verantwoordelik vir dié radikale breuk tussen die transendente en die immanente. Scotus sou dan, volgens hulle lees van hom, sê dat die skepping kan “wees” sonder God. Die geskape werklikheid word “a category that is unhooked from participation in God.” En die uiteinde van só ‘n ontologie is nihilisme, sê die eksponente van die Radikale Ortodoksie.

Tog glo Christene ten diepste dat die geskape werklikheid radikaal van God afhanklik is vir hulle bestaan. Of soos die Radikale Ortodoksie dit stel, “The creature participates in the being of the Creator.” Die immanente neem deel aan en in die wese van God.

Die Skepper en dit wat geskep is, neem deel in mekaar. Die Skepping is ten diepste afhanklik van God. Die hemel en die aarde is in mekaar gehaak. Presies hóé sal ons nooit weet nie, want God bly anderkant ons begrip en verstand. Dis ‘n geheimenis. Maar geheimenisse is nie ontoeganklik vir die mens om daarmee interaksie te hê nie. Geheimenisse is bloot ontoeganklik vir volledige rasionele verstaan.

Mens kan deelneem aan ‘n misterie … al verstaan jy dit nie. Daarom is dit ‘n geheimenis. Jesus kom in Johannes 6:35 en Hy nooi sy volgelinge uit om deel te neem aan Hom: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

Jesus het verstaan dat die immanente dikwels sigself voordoen as die transendente. Hy herinner sy volgelinge daaraan dat hulle voorouers manna in die woestyn geëet het en steeds gesterf het. En dan verduidelik Jesus in verse 50 en 51, “Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Maar die mense het begin baklei onder mekaar. Hulle verstaan dit lettelik: Hoe kan ons sy liggaam eet? Onderliggend aan hierdie denkfout van die mense, sit die eeueoue slaggat van die lewe: Ons wil graag hê dit wat hier is moet genoeg wees. Ons wil graag sê: “This is as good as it gets!” Orals om ons staan die vals gode op en verklaar hulleself genoegsaam vir ons verlossing en heelheid. Dis die leuen van alle vals gode: Hulle skep die skyn van transendensie en genoegsaamheid. G’n wonder nie dat soveel advertensies deesdae die taal van die transendensie gebruik om hulle produkte aan ons te verkoop nie. Daar is selfs ‘n Johannese uitdrukking in ‘n selfoonadvertensie: “Die waarheid sal jou vry maak.” Die leuens van vals gode is altyd die skyn van transendensie. Vals gode verskil in nóg ‘n opsig van die lewende God: Uiteindelik wil hulle ons verslind. Hulle wil iets van ons hê. Uiteindelik wil hulle ons heeltemal besit en verteer.

Maar die Gestuurde van die Anderkant, Jesus, is anders – Hy kom bied Homself aan: Ek is die brood van die lewe: Eet my en jy sal lewe!

Wanneer die immanente deelneem aan die transendente, gebeur die lewe … om die taal van die Radikale Ortodoksie te gebruik. In die taal van die Christelike geloof: Wanneer ons deur die geloof deelneem aan en in Jesus, sal ons lewe! Wanneer ons die brood eet en die wyn drink, sal ons lewe.

Die Nagmaal beteken dat elke oomblik uiteindelik ‘n heilige oomblik is. God is hier teenwoordig! Sheila Cussons sê dit só mooi in haar gedig Eucharistie:

Fragment, uit: Eucharistie (Sheila Cussons)
Maar die kos was op tyd in die potte,
en deur die haastige take, skil, afwas, opruim,
die stoom en tafeldoek, toe ‘n druppel sweet
langs my slaap koel op my hand val, het ek sommer
gaan staan, en gekyk en gekyk daarna: omdat U nooit
net “daar” is nie maar in die “hier” van elke
handeling bewus van U; selfs – by dreigende pot
en vinnige vadoek – só, blink-onmiddellik op my vel.

André Agenbag

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne oor Joh 6 in Argief beskikbaar

Trackback from your site.

Leave a comment