{ARGIEF}

22 September 2013 ~ Agtiende Sondag in Koninkrykstyd ~ Jer. 8:18-9:1
Uit hierdie week se teks kom drie gedagtes na vore:
1.     Hooploosheid as werklikheid
In die geheel, lees die perikoop baie somber, neerslagtig en hooploos. Dit blyk dat die volk onder die oordeel van God staan – dat hulle oorgelaat is aan vernietiging en ondergang en niks maar niks hulle sal kan red nie. Op die oog af, gaan God hulle ook nie red. Dit is bestanddele vir wanhoop en hooploosheid. Dit en die woorde van die profeet wil ons herinner dat oomblikke en situasies van wanhoop en hooploosheid wel kan opduik – ons kan gekonfronteer en laat voel asof God ons verlaat het – versaak het, afwesig is, aan die vyand en of dood oorgegee het.
Die diagnosering van ‘n ongeneeslike siekte, die skielike en onregverdige dood van ‘n geliefde, ‘n situasie waaroor ons geen beheer het – soos byvoorbeeld ‘n valse klag wat jou in die gevangenis laat beland – kan ons vinnig in God laat twyfel en ons laat vra: Is God weg? afwesig? ongevoelig en afsydig? Die gebeure in Egipte en Sirië die afgelope tyd asook die moontlikheid van oorlog, het die potensiaal om ons wanhopig te laat. Hoe hanteer ons dié tydvak in ons lewe? Praat, skreeu, word ontsteld – maar gee uiting aan die innerlike gevoelens van mismoedigheid, seer, ontsteltenis, verwagtinge, onsekerheid, ontevredenheid en selfs ongeloof. Vertel God en of ‘n vertroueling oor wat jy voel en ervaar.
2.     Neem pyn en lyding van volk/ander ter harte
Die profeet vereenselwig hom duidelik met die toestand waarin die volk verkeer. Hy neem letterlik hul pyn op hom, soveel so dat hy as’t ware voor God (en die volk) lê van ontsteltenis en seer. Dit is ‘n kenteken van ‘n goeie herder van ‘n gemeente, of ‘n groep mense, ‘n land, of ‘n maatskappy en vele ander. Die voorbeeld van die profeet roep leiers van vandag om hulle te skaar by dié wie seer het, onregverdigheid en of enige vorm van onderdrukking ervaar en beleef. ‘n Paar voorbeelde: die 48 jarige swart huishulp wat jare van kwetsende rassistiese sêgoed by die werksplek moes verduur en nou die regstelsel nader vir regstelling; die stakers vir ‘n menswaardige salaris; die familie wat hul vermiste kind soek of selfs die gay-gelowiges wat deur die meeste kerke gemarginaliseer word.
3.     God se liefde vir ons maak dat Hy ook seerkry
Daar is hoop in die droewige verhaal. Die waarheid is dat God se hart ontsteld word wanneer ons nie volgens sy wil lewe nie. God ervaar self pyn wanneer hy sien hoe ons Hom nie eer en erken nie –  Hom nie gehoorsaam nie en volhard op ‘n weg waarin swaarkry, pyn en straf die vrug is en die einde die ewige dood. Die waarheid word die beste in die Nuwe Testament uitgebeeld waar God sy liefde vir ons demonstreer deur Sy Seun Jesus te offer op Golgota. Dit roep die kerk om verantwoordelikheid vir die verbetering van wêreldse- kosmiese en persoonlike lewensomstandighede van mense, plante, diere en planete te aanvaar. Kerkleiers en alle gelowiges word geroep om te werk vir geregtigheid, genesing en balans in alle verhoudinge – tussen mense en mense, mense en omgewing, mense en aardse bronne. Die lys van diere en plante op ons lys van bedreigde spesies; die wekroep om waterbesparing en elektrisiteitsbesparing, kan dien as voorbeelde.
Donald Katts
Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/24-Jeremia/Jeremia%2008_18%209_1.doc

Jeremia 8 18-9 1 Jeremia8_18-9_1