{ARGIEF}

Ons skakel by ’n Metodiste kerk in.  Ons wou nie by die Afrikaanse kerk inskakel omdat ons graag deel wil word die plaaslike kerkgemeenskap.  Ons het nog steeds goeie kontak met die Afrikaanse kerk en sal dit nie verbreek nie.

Ons het eers by die URC (United Reformed Church) ingeskakel.  Dit is ’n kerk wat ontstaan het uit die samesmelting van die Presbiteriaanse Kerk en Kongregasionaliste Kerk in Engeland.  Ons het tuis gevoel.  Die prediking en liturgie is bekend.  Maar ons was die jongste van die paar erediensgangers.  En dit het ons onseker gelaat.  Ons wou deel van ’n kerk wees waar daar kinders en jongmense is.

Ons het verhuis en dit as ’n geleentheid aangegryp om kerk te soek.  Dit het ons by die Metodiste kerk in Bishops Stortford gebring, nie ver van ons huis nie.  Hier is daar ’n dinamiese jeugbediening en vind ons die eredienste inspirerend.  Ons het immers die jeug nodig om ons te help om ons geloof te vertaal vir vandag se wêreld.  Hier is ons genooi om by ’n kleingroep in te skakel.

Ons kleingroep bestaan uit interessante mense.

  • Een egpaar het beide in Baptiste kerk grootgeword.  Hy opgelei as ds in Baptiste kerk, het vir ’n paar jaar sendingwerk gedoen vir BMS (Baptist Mission Society) in die Kongo en is tans ’n wiskunde onderwyser.  Hy preek nog gereeld, meer kere in die Baptiste kerk.  Terloops, hy hou daarvan om kernverse uit die Nuwe Testament te memoriseer – in Grieks – want sien hy lees sy Griekse NT elke dag!
  • ’n Ander egpaar met 4 kinders (laerskool ouderdom) in Anglikaanse kerk grootgeword.  Hy ’n struktuuringenieur en sy huisvrou.
  • ’n Weduwee wat ons gereeld herinner dat sy baie kerke se Sondagskool bygewoon het omdat haar ouers so gereeld verhuis het en sy na die naaste kerk toe gegaan het.
  • ’n Egpaar wat stoere Metodiste is maar oopkop soos min.  Sy was op haar dag ’n joernalis vir “The Economist” en hy personeelhoof in ’n groot kettingroep.
  • En dan ons.  NG Kerk gebore en steeds as ons Suid-Afrika besoek maar tans is ons woonagtig in Engeland …

Wat bring die groep in die Metodiste kerk?  Ons het van die Baptiste oorgekom na die Metodiste ter wille van ons twee seuns.  Die jeugbediening het ons getrek en nou is ons Baptiste-Metodiste, lojaal en toegewyd en lief vir die gemeente.  Ons het ter wille van ons 4 kinders oorgekom.  Hierdie gemeente maak plek vir kinders op alle vlakke.  Hulle is welkom in die eredienste en word raakgesien.  Hulle geniet dit om deel te neem en Sondag kerk toe te kom.

Ek het iets hiervan in Suid-Afrika waargeneem en besef dat kerklojaliteit nuut gedefinieer word.  Miskien moet ons verby tradisie aan die een kant en die verbruikersvraag aan die ander kant kyk en dieper vra na watter soort bediening trek en mense bind.