Geloof is baie privaat en tog wil ek daaroor praat …

Written by webmeester on . Posted in Skryfsels

Geloof is privaat. Dis myne en ek deel dit nie met ander. Die algemene indruk is “Ek praat nie graag daaroor nie …”

Hang dit saam met die Engelse se fokus op die individu, menseregte, ruimte vir ander, nie aanstoot gee nie, of gewoon onsekerheid?

As gemeenskapwerker besoek ek my diensgebruikers (dis nou kliënte in die ou taal) op ’n gereelde basis. Een van die vrae wat ek gereeld vra, is “Hoe het dit die afgelope week / 2 weke met jou gegaan en wat het jy gedoen” Op die manier kry ek ’n idee van tydsbenutting (wat belangrik is om verveling teen te werk) en watter aktiwiteite belangrik vir die persoon is. ’n Paar keer is het ek gehoor “ek was kerk toe” waarop ek gegewe my posisie as werker in die Engelse gesondheidsdiens baie “neutraal” gereageer het.

Natuurlik kan ek nie opgewonde raak en uitvra oor kerk en geloof nie. Dis om moeilikheid te soek! Ek is immers daar om sy wêreld te ontdek en nie myne aan te bied nie. Maar na ’n paar maande se besoeke en gesprekke oor tydbenutting en die lewe gebeur dit dat ek ook by geleentheid gevra is of ek kerk toe gaan. Weereens het ek neutraal “ja” geantwoord. By ’n volgende keer is ek weer gevra, en daarna weer. Tot op ’n keer dat ek uiteindelik gevra is “waarom gaan jy kerk toe?”

Waarom?” het die sleutel geword wat my toelaat om iets oor myself te vertel maar wat ek wou gebruik om die ander persoon aan te moedig het om oor homself/haarself te praat.  Ek het ontdek dat daar gepraat wil word, dat daar vrae is, dat dit goed is.

Tydens ’n vergadering van gemeenskapswerkers is daar oor grense gepraat.  Ek is gevra om iets van my ervaring te deel. Ek het vertel van mense se behoefte aan spiritualiteit en hoe ek wag tot ek die reg kry om te kan praat. Dit het tot ’n gesprek gelei waar bevestig is dat geloof baie privaat is maar waar van die persone om die tafel wel daaroor wou praat. “Ek het as Christen grootgeword maar ek weet nie wat ek glo en of ek glo nie …” Privaat? Ek wil daaroor praat …

Uiteindelik is my waarneming dat met bietjie geduld en opregte belangstelling mense bereid is om iets te deel van hulle geloofsbelewing. Hoe jy daarop reageer is deurslaggewend! Ek probeer om waarderend en bemoedigend te wees sonder om my evangeliese hart te laat oorneem.

Trackback from your site.

Leave a comment