{ARGIEF}

Ouds. Jan v. Alleman
het ‘n slag ‘n vakansie beplan.
Na Bethesda wou hy nou die pad graag vat.
Hy kry egter nie die bekende bad –
maar wel ‘n vrou
wat sy gedagtes hou …
Soos alleman?
Besoek aan die Uilhuis, Nieu Bethesda
1.
Die meermin
in die groot Karoo
nooi ons in:
kom kyk, kom glo!
Verstom betree ons dit wat sy gee:
haar wêreld wat vertel
van haar wee,
van haar wel.
Oop-oë dom
bly ons luisterend loop
tussen beelde wat stom
dalk vertel van ‘n hoop.
In haar huis voel dit heilig
‑ so vol privaat ‑
waar sy seker, veilig
haar denkspoor kon laat.
Oop-oë dom;
sy kom gryp ons vas.
Haar beelding praat stom
in sement en in glas.
My wonder
word verwonder
en bewonder:
dat sy behep
wel só kon skep,
iets maak
aan haar saak.
En ons raak.
Ek wens ek kan weet
of haar harde, koue, starende kroos
op haar werf, haar ooit kon troos?
Ek wens ek kan weet
of die lig wat sy so self wou vang,
verligting kon gee in haar wêreld se bang?
Ek wens ek kan weet …
hoor ek in elke uil
‘n stukkie huil?
In die klein-klein kerk
het ek tog bemerk
hoe sy haar wend
tot gebed in sement.
“En nou bly geloof, hoop …”
En liefde?
2.
Die Uilvrou
het haar eie wêreld probeer bou
met selfs ‘n kerk.
Maar dit het skynbaar nie gewerk.
Dit was net ‘n model
wat van iets anders wou vertel
wat nie daar was.
Het sy iets verpas
en toe gevange gebly
in haar seerkry?
Haar Betesda-hunkering,
kon dit vir haar herstel bring?
Het sy na die dood
gevlug weens haar nood?
Naby die Uilhuis staan ‘n regte kerk,
‘n ark vir die vloed gereed.
Ek wonder of sy dit ooit weet
en dit vir haar sou werk?
3.
Soos ‘n meermin
net die water kan in
en nie daaruit meer kan min;
of die Uilvrou,
wat so beelde bou
van dit waaraan sy klou,
so bly ons kleef
aan wat ons weef
terwyl ons hier probeer oorleef.
En kry soms so min
van die sin
hierin.
By Betesda het baie stip gestaar
om die roer van die water te gewaar.
By al die baie blinde hoop
kan Een die lamme laat leer loop.