Kersfees langs Schrikke Rivier

Written by Frederick on . Posted in Skryfsels

 

Kersmiddag in die Kouga aan die oewer van ‘n murmelende Schrikke Rivier lê nie ver van die hemel af nie. Martin is die landheer wat verkies om op eie houtjie en heel afgesonder hier te leef, te lees, tuin te maak en te skilder. Af en toe hak hierdie geswore alleenloper behoorlik uit en word die hartklop van ‘n hele geselskap. ‘n Sosiale kluisenaar. ‘n Vreemde, gewone ou noem ‘n kolskoot koerantopskrif hom by geleentheid. Swaer Neels is ‘n kundige wetenskaplike met ‘n doktorsgraad. ‘n Stewige Christen-mens wat die smalle weg nougeset en met vreugde bewandel. Gesinsman. Kerkman. Nick is die eks-hippie, eks-ruk-en-pluk-musikant, eks-joenalis, eks-pottebakker en eks-skoenmaker wat aangelok deur kerkmusiek onlangs gedoop is en kerksmens gedraai het. So vier ek, hierdie ruwe bergwêreld se plaaslike leraar (pastor loci), saam met vriende die dag soos ‘n Sondag.

Die Kers-toneeltjie wat vannaand sou afspeel se rolverdeling was nog nie afgehandel nie. Daar het nog ‘n paar karakters makeer. Dis toe dat hulle ongenooid en onverwags opdaag. Die eerste gewaarwording van hulle koms, was ‘n aardse trilling onder die voete en die gedreun wat volg klink soos ‘n mini-aanval op die vyand. Dis drie behendige motorfietsryers op kragtige ysterperde. In die stofwalm ontmoet ons mekaar. Vir Troy hoef jy amper nie te vra waar hy dan vandaan kom nie. Sy lang, songebleikte hare en gespierde lyf pas ‘n Durbanse branderplankryer soos ‘n handskoen. Hans is die stil, sterk Hollander. Die leier van die troep, is Jaques. Hy vertoon gedrag en mannerismes wat verstommend baie aan die van ‘n primate alfa-mannetjie herinner. Niemand gaan hom voorskryf hoe om te maak nie. Niemand gaan hom voorskryf hoe om te praat nie en van die woorde skok soos klippies tussen die tande.

‘n Kampvuur skep ‘n ronde verhoog waarop die rolle uitgespeel word. Wat sal ons (kunstenaar, wetenskaplike, blommekind, dominee, branderplankryer, Hollander en macho) aanmekaar knoop vir een aand se geluk? Die antwoord word soos ‘n heilige rekwisiet die toneel binne gedra …… ‘n ou kitaar. Musiek is ons Kersaand-knoop. Nick, wat as ‘n reël wegskram vir inprónto vertonings, is vannaand op sy stukke. Hy is die meester wat die een musikale juweeltjie na die ander optower. Meer as dit …… hy is regiseur van die verhaal. As uiteenlopende karakters dreig om mekaar mis te loop, bind Nick ons aanmekaar. As emosionele energie dreig om die hoogte in te skiet, speel Nick ons tot bedaring. As blits-woorde dreig, steek Nick se musiek ‘n stokkie daarvoor. Hoe bly jy onrustig as die akkoorde jou streel? Hoe bevlek jy jou taal terwyl skone musiek in jou ore opklink? Nick omspeel ons manne tot ‘n Kers-geselskap. Hans is toe meer as ‘n teruggetrokke loodgieter uit Nederland; hy bou Djembe’s en die oerklanke uit sy handgemaakte Afrikadrom word die nag se polsslag. Onder die skitterende suiderkruis aan die sterrehemel kry “Blessed Assurance” ritme en ontvang ons “Somerkersfees” se musiek en liriek uit Koos Dup se pen soos ‘n Kers-bonus wat vanuit God se eie hart vloei …..

Pastor Loci se Getuienis

Lees op Alex Faure se blog meer oor Martin en hulle besoek daar

Trackback from your site.

Leave a comment