Leer my terwyl terwyl ek jou bystaan

Written by webmeester on . Posted in Skryfsels

Ek is tans ’n gemeenskapswerker in ’n span wat langtermyn ernstig siek geestesiek persone bystaan en help om uit die hospitaal te bly.  Een van die doelwitte van die span is om die persone se sterk punte te ontwikkel en so by te dra tot ’n betekenisvolle bestaan.

Dit is dus ’n voortdurende soeke na kontakpunte en geleentheid om rolle om te keer.  Terwyl ek die persoon begelei en aanmoedig om die sterk punt te ontwikkel, probeer ek dit ’n leerervaring te maak waar die persoon my leer …

Koos* moes sy spaargeld minder maak omdat hy sy verblyf in die oue tehuis kon verloor.  Die verblyf word deur die staat ondersteun en om te kwalifiseer, moet jou inkomste binne sekere vlakke wees.  Hy het nog altyd in fotografie belanggestel en wou toe ’n digitale enkellens-kamera koop.  Na sy besoek aan die fotografiewinkel het hy gesit met ’n Nikon D3, ’n kamera bedoel vir professionele fotograwe en wat hom £4500 gekos het!  Ongelukkig was daar nie ’n “duur genoeg” kamera vir amateurs persone nie.

Toe ek by die span aangesluit het, is ek aan Koos voorgestel en sy versorgings-koordineerder het stilweg gespog oor die kamera wat Koos gekoop het.  Hy het hom immers winkel toe gevat en die genot ervaar dat hy hom “gehelp het”.  Maar Koos het gesukkel met die kamera.  Tegnologies was dit net in ’n ander klas en uit ’n ander wêreld.

Maar ek het ’n maand tevore ’n Nikon D60 aangeskaf en ’n geleentheid raakgesien waar ons saam iets kon doen.  Uiteindelik het ek navraag gedoen wanneer en waar ’n kursus aangebied word om nuwelinge tot die Nikon digitale kameras te oriënteer.  Ons het op ’n Saterdag met die tube Londen toe gegaan en saam die kursus deurloop.

Ons gaan gereeld uit om natuurfoto’s te neem.  Ek het hom gevra om my te vertel wat hy doen en waarom.  Koos is ’n kunstenaar.  Hy het talle beeldjies uit hout gekerf.  Hy skilder ook met waterverf.  Hy het ’n paar pryse met sy ou Minolta gewen.  Hy weet meer as ek van komposisie, ligstellings, ens.

Die foto’s moet natuurlik op ’n rekenaar afgelaai word en dan verwerk word.  Koos weet egter nie van rekenaars en “Picture Manager” nie.  Ons kan later by Photoshop uitkom.  Maar net deur die foto’s te beoordeel, te “crop”, ens ervaar ons iets wat vir ons beide goed is.

Sy selfvertroue groei.  Hy is minder in sy kamertjie gekluister en sien uit daarna om uit te gaan.  Sy oog “sien” prentjies wat hy op sy D3 vaslê en ek leer by hom.

Deur hierdie rolomkering het ons verhouding gegroei en kry ek geleentheid om te sien hoe sy te midde van sy siekte weer sy plek in die lewe vind.

(* Naam verander vir voor-die-hand-liggende-redes)

Trackback from your site.

Leave a comment