‘n Kaggel se warmte

Written by rudi swanepoel on . Posted in Skryfsels

Dit kan net in Afrika só ruik.

Vroeër vandag was dit nog anders. Wel al winter, maar die vele grys wolke en die paar druppels was skugter en skaars. Toe trek dit toe: ‘n winters-toe, so anders as die donder en bliksem van die somer.

Daarmee saam het daar ander reuke gekom: reën op stof (nie grond nie), die koudheid in jou neus en om jou neus se vleuels en die onmiskenbare rookreuk van ‘n vertroostende kaggelvuur.

Dis anders as ‘n braaivleisvuur.

Glad nie soos ‘n bosbrand nie.

Ook nie soos ‘n ashoop se smeul nie.

Dit het ‘n warmte, want dit roep definitiewe beelde op: nat stewels by die voordeur, ‘n sambreel wat hardnekkig nie wil toe nie en gretig drup, ‘n kurktrekker, ‘n bord groentesop (met stipsels lensies), ‘n groot glas rooiwyn, vingers in die hare, later ekstase.

Warmte.

Hoe soek ons dit nie almal nie. Vroeër vandag het ek saam met ‘n mede-mens gesit. Sy’t iets vernederends beleef, ongevraag en walglik. En later praat ons toe oor ons mensgeit, hoe ons almal smag na iets of iemand (of soos Barnard Steyn se oom gesê het: “Mense wil van geweet wees”) en behoeftes het. Aan warmte.

Maar waar soek mens?

By die bedrieglike Sertifikate van Sukses?

Of die glimmende Poele van Plesier?

Dalk by die Glans van Geld?

Warmte. Aanvaarding. Erkenning.

Vir haar het ek nie raad gehad nie, want ek kan nie toor nie. In elk geval: wat sou ek vir haar getoor het? ‘n Betroubare hunk met ‘n goed ontwikkelde intuïsie? ‘n Rustige plaasboer met ‘n leer-hoed en leer-hande? Dalk ‘n dapper pionier met wie sy die wêreld vol kan flenter?

Vir eers: die druppels op die dak, die stompe wat nou en dan knetter, die hitte om die enkels, die warmte.

Diep in die hart.

Trackback from your site.

Leave a comment