By die onlangse Calvyn Konferensie was daar ‘n besondere aanbieding en gesprek oor liturgie/sakramente en daaruit voortvloeiende etiek. Ek het aanvanklik die Nagmaalgebed geskryf, maar in voorbereiding vir ‘n Nagmaal die responsoriese gedeelte bygesit. Veral met die oog op 25 Oktober 2009, probeer ek hierin iets na vore bring van die Gereormeerde spiritualiteit wat nie net myself/gemeente moet verander nie, maar ook die samelewing waarin ons woon. Dalk beteken dit vir iemand iets. Dit is so geskryf dat dit maklik op Power Point gesit kan word. Sterkte.
Nagmaal Toewyding
In die donker wêreld waarin ons woon,
gee dit my hoop
dat u lig sedert my doop steeds op my skyn
en dat in hierdie doolhof van verwarring
u stem my steeds lei en stuur
Respons:
Laat u lig so helder op my skyn
Dat dit ook deur my
in die donker wêreld sal inskyn.
In die bitterheid en geweld waarin ons ons daagliks vasloop,
kan ons rondom u tafel in u teenwoordigheid sit
en ervaar hoe U ons met liefde toevou
en daar u gawes van genesing geniet.
Respons:
Waar daar haat is, laat ek liefde bring
Waar daar bitterheid is, vergiffenis
Waar daar lyding is, verligting.
In die liefdeloosheid en verskeurdheid van die kerk,
staan U, ons Verlosser, en met u deurboorde hande
neem U ons hande, bind ons aanmekaar
en dwing ons om met nuwe oë na mekaar te kyk
Respons:
Vul ons met u liefde,
gee ons sagte, versorgende hande
En laat ons met nuwe liefde na mekaar
en die wêreld kyk.
Al die korrupsie en inhaligheid in die raadsale van die wêreld
kon nie keer dat U u hemeltroon verlaat nie
U het onder ons u kruis kom dra het
sodat ons ʼn kruis-kwaliteit lewe kan lei.
Respons:
Vul ons met u vergiffenis
Reinig ons van hoogmoed en selfsug
En gee ons knieë wat kan kniel.
In ʼn wêreld waar woorde hol simbole geword het
het dié Woord vlees en bloed geword,
vul die Gees elke woord met waarheid en ewigheid
en roep u mense terug na u veranderende teenwoordigheid.
Respons:
O Gees, vul ons woorde met redding en krag
En laat ons lewens mense nooi
In u helende teenwoordigheid in.
Dankie dat u lig steeds skyn, al begin my geloof kwyn
dankie dat ek met leë en bewende hande
steeds van U die brood en wyn kan ontvang
Realiteit van geloof, hoop en liefde!
Respons:
Laat u lig tot in ewigheid in my skyn
Lewensbrood, voed my op my lewenspad asb.
En vul my met verwagting vir die Feesmaal van die Lam. Amen