Potloodmens

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Viswater/Canyon

Hierdie was ‘n preek vir die begrafnis van ‘n baie goeie vriend wat selfmoord gepleeg het. Sy depressie het ons almal onkant gevang en sy dood was vir almal ‘n geweldige verlies. Sy lewe het sy dood oorskadu en ek het iets daarvan probeer weergee.

 

 

Fil 1:20-26

 

Ek sit skryf met  ʼn potlood, want Pieta ons is potloodmense

ons is nie wit en swart mense nie,

nie dié wat hou van afgehandelde argumente,

wit en swart afgehandelde oordele en laaste woorde nie

selfs met die teologie leef ons makliker saam met skakerings van grys

party strepies wil ons baie ligter trek as ander

sommige het ons met huiwering ingevul,

want ons het nie seker geweet nie, wou nog weer kon verander daaraan

daar was altyd die donkerder strepe wat meer vas gelê het as ander

die grootste hiervan was die liefde

ʼn kerk of gemeente wat nie die liefde uitleef nie,

moet in elk geval maar in ligte potlood oor sy bestaan skryf

nie te ernstig oor homself en sy dogmas voel nie.

Daar was ander donker strepe in my en jou saamwees,

nagte se geworstel met die balans van liefde en reg

die gewig van die welwese van die kerk teenoor die welsyn  van mense

potloodmens wat jy is, het ons altyd herinner dat ons nie so vinnig moet oordeel nie,

maar eers weer na nog  ʼn ander kant van die saak laat luister,

so kon jy met gemak aan weerskante van die argument stap

soms tot ons almal se hoogheilige verdriet,

want dit het ons vergaderings soms baie lank gemaak,

maar tyd was misterieus, want dit het nie net die besluit beter gemaak nie,

maar ook vir ons nader aan mekaar gebring.

 

Ek sou jou wou vra wanneer het die skakerings van grys, slegs in donker strepe verander

ek sou jou wou soebat om die potlood bietjie minder styf vas te hou

en die Goddelike kunstenaarhand toe te laat om bietjie ligter te teken

sommige van die strepe uit te vee, die teks bietjie meer digterlik te skryf

ek sou jou so graag op  ʼn afstand wou laat staan en laat sien

dat die donker strepe slegs  ʼn deel van die groter Godstekening van jou lewe is.

ek sou jou wou wys op die plesierige krulle van jou humor,

van hoe lekker jy oor jouself kon lag en stories  ten koste van jouself vertel

ek sou jou wou wys op die reguitrige vergesigte van al die argumente, gedagtes en drome

ons sou ons kon verstom in die passievolle argumente van die brekende golwe tydens die hoogwater

en weer balans kry in die twak praat en die rus en die plotsende klein golfies van die laagwater

ek sou jou jouself wys daar langs die viswater en myself daar langs jou wou inteken,

– jou aardsheid het so floreer in die opwinding en verwerking van  ʼn stinkende vis –

ek sou groot glibberige visse saam met jou wou vang –

soos die relevansie van Calvyn vir vandag,

is geloof so  ʼn seker saak, is geloof soos die dogmas dit verwoord en verhouding met God dieselfde ding,

sou liefde nie  ʼn beter beskrywing van ons verhouding met God wees as geloof nie.

Ons het probeer om van hulle te vang, maar soos geslepe visse het hulle baie keer weggekom,

maar ons is potloodmense ons dink en skryf maar voorlopig,

so ons teken hulle net so liggies,  ons sou altyd weer kon probeer.

 

Ek sou jou graag wou wys die subtiele verandering wat met die jare in jou tekening verskyn het.

Skakerings van grys het op subtiele wyse vir pastelfigure  begin plek maak.

Subtiel het liefde  ʼn nuwe sagtheid ingedra, jou familie en veral jou Alette, Pietman, Gerrit, Eduaan

is nie kleur wat jy op kleurkaarte kry nie, lewe, dinamika, humor – wonder-skakerings.

Mirakelagtig bly hulle ook nie op dieselfde plekke sit op daardie tekening nie.

Baie keer sit hulle selfs nie waar jy sou verkies nie, die Goddelike misterie van die gesin.

Jy sou egter oplet dat die meeste van die tyd hulle oë op jou gerig is, waar hulle ook al sit.

Ek sou jou wou wys hoe die mense in en uit deur jou lewe beweeg,

soms vaal en grys, met donker houtskool geteken en hoe hulle weer daar weg stap

met  ʼn bietjie kleur vir hul eie tekeninge, 

 ʼn bietjie meer moed, en hul eie potlood om te begin skryf of teken.

 

Ek sou jou weer wou vra wanneer het die skakerings van grys slegs in donker strepe verander,

ek sou jou wou soebat om die potlood bietjie minder styf vas te hou

en die Goddelike kunstenaarhand toe te laat om bietjie ligter te teken

sommige van die strepe uit te vee, die teks bietjie meer digterlik te skryf

ek sou jou hand in die Groot Kunstenaarshand wou sit

en jou laat ervaar hoe Hy ons potloodmense se deurmekaargeskryf

soms net uitvee, sy woorde oor die woorde skryf wie se houvas te groot raak,

wat ons ons potloodkarakter laat verloor:

vasgeloopte woorde van donker vervang met opsieryke woorde van lig

teleurstelling met verwagting

wanhoop met hoop

mislukking met sukses

verraad met vertrou

dood met lewe

duik is nie dieselfde as sink nie en

om jou asem op te hou, is nie dieselfde as om op te hou asem haal nie.

daar is wel ooreenkomste, maar in God se hand is daar wesentlike lewensverskille.

As ons dan ook soms verkeerde goed kwytraak,

weet die Groot Outeur ons praat of skryf soms voor ons dink.

Ek dink daar is meer genade vir ons soort en vee Hy dit uit voor dit te veel skade doen.

As ons dalk te hard druk en die skade staan ingegraveer op die bladsy,

skeur Hy dit uit en spyker dit aan die kruis van vergifnis vas,

die kruis van veroordeling is reeds vol, daar is nie meer plek vir ons nie my ou vriend.

 

Ons potloodmense was nog altyd meer verknog aan wandelpaaie as treinspore;

die sweet, die onverwagse en onvoorspelbare, die swaarkry met sy sprinkelinkie humor,

dis die kwinkslag-speserye vir  kampvuurfilosofieë. 

Die laatmiddagvrede langs die Visrivier Canyon

kabbel speels oor die droë kluite van ons afgestompte bar bestaan.

Jy en Alet het dit so vrygewig met ons ander stofverslane, bleeksiele gedeel.

Hoe is dit dat ons nie eers  ʼn bekertjie water vir jou kon aanbied nie?

Hoe is dit dat jy nou vir die eerste keer van  die wandelpad op die treinspoor gerangeer is,

die onverwagte plesier en die geure van die lewe vir dieseldampe en roet verruil het?

Hoe het dit gebeur dat die oop naghemel met al sy sterre en misterie

minder aantreklik as die donker tonnel met sy onafwendbare uitkoms was?

Hoe verruil  ʼn potloodmens sy potlood vir  ʼn pen

om die finale paragraaf onafwendbaar en onveranderlik te skryf?

Was die stryd so groot en so intens,

het dit jou so verdoof dat geen stem meer kon deurdring nie?

Nou is my potlood opgeskryf en as jy die pen kon opneem,

laat ek dit ook nou opneem en wat ek nou sê, kan maar onuitwisbaar staan. 

Ek was eers baie vies dat jy my 50 ste verjaardag gekies het. Vandag glo ek dat jy nie meer regtig die keuse self gemaak het nie. Die aand op Stellenbosch het ek en my broer en my pa oor jou gesels op daardie aand het ek werklik besef hoeveel jy my oor die jare gegee het:

Jy was lojaal teenoor ander

sonder om jou aan hul opinies te verbind;

omdat jy getrou teenoor jouself was

al het dit jou by jou eie vriende ongewild gemaak

het ek en ander jou vertrou;

jy kon afkeer en passie vashou

saam met liefde en die hoop

so kwaad soos jy was oor kerk se voetesleep oor Belhar

het jy jouself steeds voluit vir die kerk gegee;

terwyl jy so deur jou eie donker gestruikel het,

wou jy weet of daar nie iets is wat jy vir my kan doen nie;

jou grootste passie was vir die belangrike dinge in die lewe

al het ek soms goedkoop bokswyn by jou gedrink,

het julle jul warm harte oopgemaak en my ʼn tweede tuiste

in die gemeente gegee;

deur al die vuuroonde van beproewing

was jy bereid om saam met my daar te staan,

ons het wel soms gestry oor hoekom ons daar was,

maar jy was daar!

Daardie aand het ons op jou ʼn heildronk gedrink,

want niemand kan meer vra op sy vyftigste verjaardag nie, behalwe dat jy saam met my daar moes wees.

Vir jou is die lewe Christus,

 ʼn lewe en liefde wat nog in ons almal voortleef,

ʼn lewe wat in Christus toegedraai is,

deur sy krag en met sy liefde geleef is.

ʼn Lewe wat die mooi van die skepping kon indrink soos nagmaalwyn

en jou verenig met God.

Uiteindelik kon Jesus ook die gebrokenheid van jou liggaam

in sy gebroke liggaam opneem en die wins van sy sterwe, jou wins maak.

Jy het gewaak en waggehou, mag die volgende nou vir jou waar word

 

Hond van God –

Hewitt Visser (Vader Bonaventure Hinwood)

geen jaghond nie

net ‘n troeteldier

wat heeldag op die aarde

om sy voete speel

met tussenin spronge

en albei voorpote op sy skoot

om die kalm hand op die hoof te voel

saans uitgeput die rus

op ‘n bidmatjie voor die stoel

Christo van Heerden – 20 Maart 2009

 

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment