{ARGIEF}

Sakramente
Ouds. Jan
is so bly hy kan
hom telkens weer wend
tot die heil’ge sakrament.
Doop
Die sakrament van die doop
is ʼn dompel in die Hoop
dat ek nooit hoef te koop
hoe my lewe moet verloop.
Nagmaal
Ek voel die koel doodsbrood.

Hierdie brood
lyk bleek,
lykbleek,
so dood.
Dis klam, sag.
Ek talm,
kalm…
en wag.

U’t nie die dood
vermy,
vir my.
Díe brood:
ek weet ek eet nou lewensbrood.
Die wyn brand soet
in my keel.
Ek voel die vloei na binne.
U vul my sinne,
maak heel.
U bloed vergoed.
Die sluk:

was dit té groot
uit die beker van u dood?
Die wyn woel warm in my;
maak my warmhartig, bly –
verruk!
Die groot sluk was nie sonde;
dis toe balsem vir my wonde.
Nadink-nagmaal
Here,
kom voed my met die goed
wat so gewoon vertoon:
ons brood, ons wyn
vir ons pad, ons pyn.
U,
Goeie Herder, vat my hiervandaan verder.
U’t my verlos met dié padkos:
u brood, u wyn,
van u pad, u pyn.
Vir dié feesmaal het U betaal!

U goedheid en guns
sal lank by my bly
en ek is tuis in die Here se huis
tot in lengte van dae, sonder klae.