Verander groepsdruk jou persepsie?

Written by webmeester on . Posted in Skryfsels

Solomon Asch, die Gestalt sielkundige, het navorsing gedoen oor die gevare van groepsdruk. Studente vrywilligers moes vrae beantwoord oor ‘n prentjie van drie lyne van verskillende lengtes, hoe hulle vergelyk, en ook watter een dieselfde lengte as ‘n vierde lyn gehad het.

Die antwoorde was eenvoudig en 95% van die studente het altyd reg geantwoord. Maar, wanneer ‘n aantal akteurs in die groepe geplant is wat telkens dieselfde verkeerde antwoord gegee het, het net 25% van die studente elke antwoord reg gehad. 75% van die studente het die groep se verkeerde antwoord op ten minste een antwoord gevolg.

Die eksperiment het die krag van groepsdruk geïllustreer. Mense wil konformeer aan die groep.

Maar hoekom is dit so?

  • Het die studente die verkeerde antwoord gegee, al het hulle geweet wat die regte een is?
  • Of het hulle persepsie van die prentjie verander onder groepsdruk?

Niemand kon nog regtig ‘n beslissende antwoord daarop gee nie.

Gregory Berns (Emory Universiteit) het egter in 2005 met breinscan tegnologie, gekoppel aan Asch se eksperiment, aangevoer dat die groep inderdaad ‘n individu se persepsie kan verander. Die brein aktiwiteit wanneer die verkeerde antwoorde gegee is, was hoofsaaklik in die visuele en ruimtelike oriëntasie gedeelte van die brein, nie in die besluitnemende frontale neokorteks nie.

“Peer pressure, in other words, is not only unpleasant, but can actually change your view of a problem.” (Susan Cain, Quiet, 2012:92).

Dit is ‘n uiters verrassende en ontstellende bevinding, omdat dit so gevaarlik kan wees. In gesprekke het die studente gerapporteer dat hulle die “verkeerde” antwoorde gegee het, omdat:

“they thought that they had arrived serendipitously at the same correct answer.”

Hulle was dus heeltemal blind vir die effek van groepsdruk op hulle keuses. Hulle het letterlik gedink dat dit hulle eie onafhanklike besluit was!

Nog dieper, sommige studente het, ten spyte van die groepsdruk, nie gekonformeer nie, en die groepskeuse weerstaan. Met die breinscans is by hulle ‘n verhoogde aktiwiteit in die amigdala getoon, die klein orgaan in die breinstam wat met die emosionele brein verbind word. Berns noem dit “the pain of independence”, die bekende veg-of-vlug reaksie. Die keuse om nie te konformeer nie, kos dus beduidende emosionele energie, iets wat nie normaalweg genoeg waardeer word in die stemme van mense wat verskil in ons sisteme nie.

Dit is hierdie onafhanklike nie-konformerende stemme in ons sisteme wat ons moet koester, sê Susan Cain, want dit kos ongelooflik baie om só ‘n stem te wees. En dit is een van die maniere waarop sisteme in staat gestel word om die effek van groepsdruk te oorkom.

Wat die oorspronklike toetse van Asch ook gewys het, dat as een van die akteurs wat hulle in die groep geplant het, wel die korrekte antwoorde gegee het, die studente die groepsdruk kon weerstaan en baie meer die korrekte antwoorde gegee het. Die oomblik as daar iemand wat wat óók dinge soos jy gesien het, kon jy jou onafhanklike besluitnemingsfunksie beter handhaaf.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment