{ARGIEF}

Die debat oor introversie-ekstroversie word baie keer aan die hand van die kategorieë van Nature of Nurture gevoer.

  • Sommige navorsers beklemtoon die oorgeërfde karakter van ons temperament wat in ons persoonlikheid herken kan word.
  • Sommige beklemtoon die effek van die omgewingsfaktore soos opvoeding en lewenservarings (Susan Cain, Quiet, 2012:99 vv).

Jerome Kagan (Harvard) se navorsing hieroor het sedert 1989 die temperament en persoonlikheid van 500 vier maand oue babas gevolg. Sy aanspraak was dat hy reeds op 4 maande ouderdom introversie en ekstroversie sou kon voorspel. Die babas is aan verskillende nuwe stimuli blootgestel (stemme op bandopnames, barsende ballonne, kleurvolle “mobiles”, die reuk van alkohol op watte).

  • So 20% het besonder sterk daarop gereageer, gehuil, arms en bene beweeg – ‘n groep wat hy “high-reactive” genoem het.
  • So 40% het stil en kalm daarop gereageer. Hierdie groep wat gee drama getoon het nie, het hy “low-reactive” genoem.
  • Die ander 40% was tussen hierdie ekstreme geleë.

Nou, anders as wat ons sou verwag het, het hy voorspel dat die “high-reactives” ‘n introverte persoonlikheid sou ontwikkel, en die “low-reactives” ‘n ekstroverte persoonlikheid.
En dit is presies wat gebeur het. Die kinders is op 2,4,7, en 11 jaar oud weereens getoets met blootstelling aan nuwe mense en gebeure. Die “high-reactives” was meer geneig om introverte persoonlikhede te ontwikkel, en die “low-reactives” meer geneig om ekstroverte persoonlikhede te ontwikkel. Jung se beskrywings van introversie en ekstroversie: “apply with uncanny accuracy to a proportion of our high- and low-reactive adolescents.” (Galen’s Prophecy van Jerome Kagan, 1998).
Die rede vir Kagan se kontra-intuïtiewe akkuraatheid lê in sy meting van die fisiologiese reaksies van die babas, veral in hulle amigdala, die emosionele brein. “High-reactives” het meer reaksie op nuwe stimilu getoon, omdat hulle senuweestelsel so skerp gereageer het. Die teenoorgestelde was die geval by die “low-reactives”.
Hiervolgens is daar ‘n fisiologiese verklaring vir introversie en ekstroversie, iets wat kinders oorgeërf het.
Die bevindinge word versterk deur ander navorsing wat fokus op “reward sensitivity” (Janice Dorn, Daniel Nettle). ‘n “Reward-sensitive” persoon word veral gemotiveer deur belonings wat fisiologies verbind word aan die sensitiwiteit vir die neuron-oordragstof dopamien.

“Extroverts’ dopamine pathways appear to be more active than those of introverts,”

soos bv in navorsing van Richard Dupue aangetoon is (Susan Cain, Quiet, 2012:160).
Dit wil voorkom asof:

“reward-sensitivity is not only an interesting feature of extroversion; it is what makes an extrovert an extrovert.” (p 159).

Hoewel dié navorsing nog in sy kinderskoene is, en dopamien-sensitiwiteit uiteraard nie uitsluitlik op alle ekstroverte van toepassing gemaak kan word nie, kan dit die wyse waarop ons in organisasies met ekstroverte saamwerk, veral in die effek wat dit het op risiko- bestuur, ten goede beïnvloed.
Die wêreldwyse ekonomiese krisis van 2008 word onder andere toegeskryf aan onverantwoordelike risiko-bestuur. Hoewel dié gedrag natuurlik nie net aan ekstroversie toegeskryf kan word – hoewel daar sommige waarnemers is wat dit doen! – klop só ‘n gedagte met die navorsing van Camelia Kuhnen wat ‘n assosiasie tussen ‘n dopamien-regulerende geen en “a particularly thrill-seeking version of extroversion” aangetoon het. Dit kan verbind word met “financial risktaking” (Susan Cain, 162).
Fisiologiese predisposisie is egter nie die enigste verklaring vir introversie en ekstroversie nie. Daar is ook baie navorsing wat die effek van opvoeding en lewenservarings op persoonlikheid aantoon. In ‘n opvolg navorsing van Kagan se werk deur Carl Schwartz waar met dieselfde aanvanklike 500 kinders, nou volwassenes, gewerk is, het dit aangetoon:

“the foot-print of a high- or low-reactive temperament never disappeared in adulthood.” (Susan Cain, Quiet, 2012:117).

Die krag en uitwerking van fisiologie op introversie en ekstroversie is fundamenteel en langdurig.
John Brebner en Chris Cooper vat dit mooi saam:

  • introverte is “geared to inspect” en
  • ekstroverte “geared to respond” (Susan Cain, 166).

Maar, die omgekeerde is ook al deur dieselfde navorsing uitgewys, dat sommige van die “high-reactive” persone tekens toon dat hulle ook self aan hulle persoonlikheid gevorm het. Daar is ‘n soort elastisiteit in temperament wat soos ‘n rek gestrek kan word, maar net tot op ‘n sekere punt. Dit kan byvoorbeeld neurologies aangetoon word dat waar jy ‘n positiewe selfgesprek voer met jouself  om jouself te kalmeer in ‘n uitdagende situasie, die aktiwiteit in jou frontale neokorteks toeneem, en die aktiwiteit in jou amigdala op ‘n ooreenstemmende wyse daal. En dit kan jou met meer kalmte laat optree, hoewel die basiese vrees eintlik onveranderd bly en weer geaktiveer kan word.
Maar, soos Kagan self sê:

“To ask whether it’s nature or nurture … is like asking whether a blizzard is caused by temparature or humidity. It’s the intricate interaction between the two that makes us who we are.” (p 109).

En dit is iets waarby ouers in hulle opvoeding kan aansluit, en instansies in hulle begeleiding van mense.