{ARGIEF}

  • Calvyn se klem op christene se roeping in die alledaagse lewe herinner ons daaraan dat ons lewe voor die aangesig van die lewende, sprekende God altyd ‘n gerigtheid op die wereld en gewone lewe beteken.  Teenoor die toenemende verskynsel tydens die Christendom era om ‘n skeiding te tref tussen die kerklike terrein en die gewone lewe (gevoed deur modernisme se feite-waardes split), en hoedat dit gevolglik selfs christene se verstaan van Sondag teenoor die res van die week beinvloed het, beklemtoon Calvyn en die breer gereformeerde tradisie dat ons God se wil onderskei op elke terrein van die ganse skepping en totale lewe.  Die gestuurde gemeentes (missional churches) gesprek het juis begin met ‘n nuwe waardering vir die sg. missio Dei teologie (met Karl Barth se teologie in die agtergrond en die 1952 Willingen sendingkonferensie as stimulus) wat die fokus plaas op God se sending in die wereld. Die implikasie vir gestuurde gemeentes is dat ons nie oor die wereld buite die kerk as primer ‘n bedreigende werklikheid kan dink as ons in die Bybel leer dat dit die wereld is wat God lief het en bereid was om die Seun van God voor op te offer nie.  Ons word juis die wereld in gestuur omdat dit die plek is waar God teenwoordig is en reeds besig is om te werk.  Een van die grootste uitdagings vir gestuurde gemeentes in ‘n post-christendom era is om van vooraf te leer hoe om die wereld ‘n gasvrye plek te ervaar waar ons kan deel word van die beweging van die Gees, en hoe ons daardie gasvryheid ontvang sonder om so deel te word van die wereld dat ons unieke Christelike karakter nie onderskei kan word deur ons gashere en -vroue nie.  Calvyn se roepingsteologie oor waarvoor ons die wereld ingestuur word kan ons dalk meer help hiermee as wat ons dink.

Op hierdie Calvyn herdenkingsdag in ‘n tyd van fantastiese geleenthede om te worstel met kerklike vernuwing en gestuurde gemeentes in ‘n toenemende post-christendom era, dink ek Coenie Burger is reg as hy skryf, “sonder ‘n lewendige en diepgaande gesprek oor ons gereformeerde erfenis gaan ons nie goeie vernuwing in die NG Kerk kry nie”.